SA moet sy Afrika-invloed só gebruik
2012-01-26 03:18
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Alles dui daarop dat die verkiesing van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as voorsitter van die Afrika-Unie (AU) een van die hoofteikens van die Suid-Afrikaanse regering is tydens die spitsberaad van die AU, wat tans in Addis Abeba plaasvind.
Natuurlik kan dit help om Suid-Afrika se invloed op die vasteland te vergroot. As sodanig is dit ’n strewe wat in landsbelang is.
Maar pres. Jacob Zuma behoort veel meer as dit te probeer bereik. As jy invloed het, is die vraag wat jy daarmee doen, en ten behoewe waarvan jy dit aanwend.
Enige land se buitelandse beleid behoort, as die regeerders wys is, op twee wedersyds ondersteunende pilare te rus. Die een is eiebelang; die ander ’n stel duidelike beginsels, soos die bevordering van vryheid, menseregte en demokrasie.
Immers, die geskiedenis wys dat goed funksionerende regstate nie oorlog teen mekaar maak nie, dat hulle nie onstabiliteit uitvoer nie, en dat hulle ’n ekonomiese klimaat skep waarin voorspoed kan gedy.
Europa is, ondanks die ekonomiese krisis wat hom tans teister, ’n goeie voorbeeld.
Dus behoort Suid-Afrika in die AU daarop aan te dring dat druk uitgeoefen word op lande waar verkiesings gesteel word en magsmisbruik en korrupsie hoogty vier. Lande soos Zimbabwe, die DRK, die Soedan, Nigerië en ander behoort te weet dat die Afrika-gemeenskap hulle vir goeie gedrag sal beloon en vir slegte gedrag sal straf.
Helaas wek die Zuma-regering nie die indruk dat sulke sake hom buitengewoon bekommer nie. Immers, binnenslands is hy beslis geen voorbeeld van openheid, deursigtigheid, eerlikheid en instandhouding van die regstaat nie; waarom sal hy dit elders in Afrika bevorder?
En dus moet ’n mens verwag dat die verkiesing van Dlamini-Zuma, gepaard met anti-Westerse propaganda, min of meer die volle omvang van die Suid-Afrikaanse oogmerke in Addis Abeba sal verteenwoordig.
Of gaan ons verras word?
- Die Burger