OG-verslag wys ANC-koppe moet gou rol
2012-01-18 20:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Dit is verstaanbaar waarom die ouditeur-generaal se jongste verslag oor staatsdepartemente se geldsake so ’n koor van protes ontlok het.
Dit gaan die verstand te bowe dat tot R25,5 miljard van Suid-Afrikaners se belastinggeld eenvoudig net “vermors” is sonder dat enige belastingbetaler voordeel daaruit kon trek.
Die gevolg is dat opposisiepartye, vakbonde en die sakesektor almal hul skok en teleurstelling uitgespreek het.
Die kabinet vergader vandeesweek vir ’n bosberaad by Bela-Bela en hopelik neem iedere minister deeglik kennis. Ongelukkig is die kans goed dat hulle ná die beraad die regte geluide sal maak, maar dat niks verdere sal gebeur nie.
Die oplossing is eenvoudig. Koppe moet rol en die regte kundiges moet aangestel word, maar daarvoor is diegene op die soustrein te diep ingegrawe met eiebelang wat nasionale belang telkens oorskadu.
Senior politici het eenvoudig nie die politieke wil om van mense ontslae te raak aan wie hul gunsies skuld nie of om af te sien van die kaderbeleid om partylede met senior poste te beloon.
En dan is daar die ideologie van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, waaroor daar in dié stadium nie onderhandel word nie.
Dit is bemoedigend dat die tesourie, die een funksionele departement in die staatsdiens, ingryp en die beheer van sommige provinsiale departemente oorgeneem het, maar sy vermoë is beperk.
En intussen ly die land daaronder. Arm mense moet sonder huise, water en riolering klaarkom en infrastruktuur is besig om te verval. Dit is nie net vakbonde en sakelui wat kla nie, armes gooi klippe in hul woonbuurte, rykes weerhou belasting en baie pak die emigrasie-tasse.
Pres. Jacob Zuma het met sy aanvaardingstoespraak en in staatsredes daarna mooi beloftes gemaak dat swak presteerders en korruptes eenvoudig die trekpas moet kry. Sommige ministers het wel die trekpas gekry, maar dit is duidelik ’n baie groter huisskoonmaak is dringend nodig.
- Die Burger