Moenie Fitch se waarskuwing geringskat nie
2012-01-18 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Daar moet fyn gekyk word na die verskillende reaksies op die kredietgraderingsagentskap Fitch se besluit die naweek om sy vooruitsig op die gradering van Suid-Afrika se staatskuld van stabiel na negatief af te skaal.
Die nasionale tesourie wil hê Fitch se afskaling moet gesien word in die lig van die ekonomiese krisis in Europa, Suid-Afrika se grootste handelsvennoot, waar ’n ander kredietgraderingsagentskap – Standard & Poor’s – ook pas ’n paar Europese lande se kredietgraderings verlaag het.
Die boodskap is dus iets soos: moenie julle te veel steur daaraan nie, almal word oor dieselfde kam geskeer en ons het hier nog alles mooi onder beheer.
Die redes vir Fitch se besluit stem egter nogal ooreen met die redes wat sy eweknie Moody’s genoem het toe hy ’n soortgelyke vooruitsig-afgradering van Suid-Afrika se staatskuld in November gedoen het.
Fitch wys op die strukturele uitdagings in die ekonomie, soos hoë werkloosheid en groeiende druk op die staatsfinansies, asook die debat oor nasionalisering.
Die rol van kredietgraderingsagentskappe is om ’n ekonomie se koors te meet en vir beleggers ’n aanduiding te gee van hoe riskant ’n belegging in ’n land se staatseffekte kan wees. Vir leners is dit ’n sein van hoeveel rente hulle sal moet betaal as hulle groot geld op die internasionale geldmarkte wil leen. Hoe swakker ’n gradering dus, hoe meer gaan beleggers neus optrek en hoe duurder raak lenings.
Fitch en Moody’s het weliswaar nog net die vooruitsigte op die graderings aangepas en nie die graderings self nie. Maar dit sal die regering baat om nie die jongste seine selftevrede van die tafel te vee nie. Die realiteit is dat meer as 50% van die land se begroting deur staatsdienssalarisse en welsynstoelaes opgeslurp word, wat min beweegruimte laat as ’n tweede resessie toeslaan.
Alle oë is op die nasionale begroting in Februarie om te kyk of die regering wel ag slaan op waarskuwings soos dié.
- Die Burger