KENNIS IN DIE BLOED: Nuwe leiers sal die land opnuut trots maak
2010-05-17 21:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Amanda Lochner is nie veronderstel om in ’n skare die aandag te trek nie: Sy is kort, pretensieloos en saggeaard.
Tog word ’n mens reeds met die intrapslag bewus van dié skoolhoof se teenwoordigheid wanneer jy by die bekende Hoër Meisieskool La Rochelle in die pragtige Paarl aankom.
Dit is toe te skryf aan haar selfvertroue, die trots wat sy na haar leerders uitstraal, en die doelgerigtheid waarmee sy Suid-Afrika se oudste dubbelmedium-meisieskool lei.
La Rochelle is vanjaar 150 jaar oud.
Verskeie generasies meisies het hier skoolgegaan. Stokou swart-wit foto’s van uitsluitend wit vroue in lang rokke sê vir jou dié skool het oorloë, resessies en al die ongure gebeure in Suid-Afrika se onstuimige verlede oorleef.
Dit is vandag een van Suid-Afrika se mees geïntegreerde enkelgeslag-skole, wat ’n tradisie van opvoedkundige uitnemendheid onder ons land se toekomstige vroulike leiers voortsit.
Amanda het iets uitsonderliks gedoen ter viering van die skool se 150ste bestaansjaar.
Sy het besluit om leerders in graad 12 wat in landelike skole in die Wes-Kaap ’n leiersposisie beklee, na La Rochelle te nooi.
Anders gestel: Sy het die uitnodiging gerig aan jeugleiers wat nie dieselfde geleenthede het om seminare, werksessies en konferensies by te woon as dié uit welgestelde noordelike stadsgebiede nie.
Dorpies waaraan ek lank nie gedink het nie – soos Graafwater en Porterville, Vredendal en Moorreesburg – het hul jong leiers afgevaardig.
Amanda weet as ons in die toekomstige leierskap van ons land belê, is daar hoop op ’n beter toekoms in ’n land wat tans ’n kritieke tekort aan ware leiers ervaar.
Kyk ek na hierdie ontvanklike grootoog-jongmense, word my hart gevul met blydskap oor die geleentheid om praktiese gedagtes oor leiers en leierskap in ’n gebroke samelewing met hulle te deel.
Ek sonder die volgende vyf onmisbare bestanddele vir ware leierskap uit:
J?duidelikheid (die vermoë om jou doel te verstaan);
J?geloofwaardigheid (die vermoë om vertroue in te boesem);
J?empatie (die vermoë van omgee en ontferming);
J?toewyding (die vermoë van toevertrouing tot die dood toe); en
J?kontra-kulturele gewoontes (die vermoë om algemene verwagtinge te oorskry).
’n Jeugleier van La Rochelle het haar uitstekend van haar taak gekwyt toe sy my aan die woord gestel het. Pleks daarvan om lang, vervelige besonderhede uit my curriculum vitae op te haal, het sy aangehaal uit ’n veelseggende paragraaf oor leierskap uit my intreetoespraak as rektor van die Universiteit van die Vrystaat:
“Ek staan voor u as leier van hierdie grootse universiteit as iemand wat swak en kwesbaar is en my eie gebrokenheid besef.
"Ek is nie onaangeraak deur die lang skadu van ons verdeelde geskiedenis nie.
"En tog verklaar ek vanaand onbeskaamd dat ek in staat is om te lei omdat ek gelei word.
"Ek kan vergewe, want ek is vergewe.
"En ek besef elke dag dat wat ek ook al bereik het, of kan bereik, is die resultaat van genade.”
Die tafel is gedek, en ek kyk aandagtig toe hoe die talle jong, toekomstige leiers – mans en vroue, wit en swart, arm en middelklas – reageer op die boodskap oor hul verantwoordelikheid om standvastig te bly te midde van die morele verval rondom ons.
“Hoe hanteer u kritiek as leier?” vra ’n volwassene uit een van die agterste rye in die reuse-saal. “Jy doen wat reg is eerste en die kritiek sal sy loop neem,” stel ek voor.
Hierna kom die leerders in groepe byeen, bedank my vir die lesing en staan nader vir foto’s.
Eenkant staan ’n matriekmeisie alleen.
Sy wag totdat almal vertrek het, stap na my en sê: “Oom, die boek Spreuke sê baie woorde kan min beteken. Ek het nie woorde nie. Kan ek jou net ’n drukkie gee om dankie te sê?”
In sulke oomblikke onthou ek waarom ek destyds ’n onderwyser geword het.
En ek kry opnuut hoop dat, anderkant die leierskapkrisis van die hede, ’n nuwe generasie leiers na vore sal tree wat geloofwaardig sal wees en in staat om hierdie land opnuut trots te maak.
)?Prof. Jansen is rektor van die Universiteit van die Vrystaat.
- Die Burger