Dwaasheid of sinistere plan?
2011-02-22 03:34
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Dit is onduidelik of die regering se voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming gebore is uit dwaasheid, en of dit die sinistere simptome van die ANC se maatskaplike ingenieurswese is.
Die wysigings behels onder meer dat nasionale demografiese syfers gebruik sal word as grondslag vir aanstellings in die werkplek. In die praktyk kan dit luidens ’n studie van Solidariteit beteken dat tot ’n miljoen bruin mense in die Wes-Kaap hul werke kan verloor. Die dwaasheid hiervan is verbluffend:
- In die eerste plek kom dit neer op ’n ongevoelige ontkenning dat bruin mense deur apartheid benadeel is.
- Tweedens kan dit rassespanning in die provinsie drasties verhoog. Gegewe die ANC se eerstehandse ervaring van hoe Wes-Kaapse rassespanning in eie geledere sy vastrapplek in dié provinsie uitgekalwe het, is dit verbasend dat hy nou dié koers wil inslaan.
- Derdens sukkel die regering lankal om die onbedoelde gevolge van regstellende aksie ongedaan te maak, en nou wil hy dit vererger.
- Vierdens het die ANC pas vir mnr. Marius Fransman as leier in die Wes-Kaap gekies, deels om die lojaliteit van bruin kiesers terug te wen. As die regering die wetsontwerp deurvoer, kan hy maar hiervan vergeet.
Dié dwaasheid moet jou laat wonder of die ANC-regering nie dalk ’n ander plan in die mou voer nie. Wil hy met ’n herafbakening van Wes-Kaapse grense die demografie van die provinsie verander om sy politieke motiewe te pas? Dis tyd dat hy oop kaarte speel.
- Die Burger