Dink krities oor poste vir ANC-kaders
2012-01-13 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Dit is algemene praktyk van politici om knus werkies vir hul beste vriende uit te soek.
Die ANC het kaderontplooiing dus nie uitgedink nie, maar die ondeurdagte en oordadige beoefening van dié praktyk is een van die kernredes waarom dié party al 18 jaar sukkel om van bevrydingsbeweging tot regerende party te transformeer.
Mnr. Malusi Gigaba, minister van openbare ondernemings, het op die party se eeufeesviering gesê die ANC moet herbesin oor kaderontplooiing, want dit raak ’n probleem “as mense ontplooi word wat die werk nie kan doen nie”.
Kritici sing dié deuntjie al jare lank.
Dit is dus positief as partylede self tot dié slotsom kom deur die introspeksie wat ’n eeufeesviering bied. Pres. Jacob Zuma is immers een van die voorste ploeteraars met sy persoonlike geskiedenis van kaderontplooiing.
Twee van die beste voorbeelde hiervan is Zuma se dubbele kleitrappery met die aanstelling van mnr. Bheki Cele as nasionale polisiehoof en adv. Menzi Simelane as hoof van die nasionale vervolgingsgesag. Beide is poste waar ervaring en kundigheid die deurslag moes gee, eerder as politieke verbintenisse. In albei gevalle het die land die prys betaal.
Die baantjies-vir-boeties-benadering tot aanstellings verswak dienslewering, en dit word ook op plaaslike regeringsvlak geïllustreer. Munisipaliteite se uitgawes aan motors en duur partytjies neem amper proporsioneel toe tot die agteruitgang van basiese dienste soos vullisverwydering.
Op ’n sekondêre vlak dra regstellende aksie verder by tot die probleem. Ofskoon daar niks fout is met die beginsel nie, dra die wyse waarop regstellende aksie toegepas word by tot die probleem. Poste moet byvoorbeeld nie vakant gelaat word omdat ’n regstellende kandidaat nie beskikbaar is nie.
Gigaba het met sy opmerkings hopelik ’n nasionale debat oor dié kwessie begin waarvan die uitkoms oordeelkundiger aanstellings behoort te wees wat tot beter dienslewering sal lei.
- Die Burger