Die wêreld hou asem op oor die Persiese Golf
2012-01-11 03:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die dreigende konflik in die Straat van Hormoes – die deurgang van die Persiese Golf na die Indiese Oseaan – is een van daardie sake wat maklik handuit kan ruk as dit nie versigtig bestuur word nie.
Alles dui daarop dat Iran aktief die vervaardiging van kernwapens nastreef. Massavernietigingswapens in die hande van ’n leier soos pres. Mahmoed Ahmadinedjad, iemand wat klaarblyklik ’n tekort aan rasionele denke het, is gevaarlik vir die hele Midde-Ooste, en dus probeer Amerika en die Europese Unie (EU) hom keer.
Maar hoe? Daar was reeds verskeie klandestiene pogings, wat gewissel het van die loslaat van rekenaarvirusse op die kernwapenprogram tot sluipmoorde op wetenskaplikes en militêre wat met die program gemoeid is. Dit het die ontwikkeling vertraag; nie tot stilstand gedwing nie.
Die volgende stap is ekonomiese sanksies, waaronder ’n olieboikot. In weerwraak daarvoor dreig Iran nou om die Straat van Hormoes te sluit.
As dit blywend slaag, kan dit ernstige gevolge vir die wêreldekonomie inhou. Sowat ’n derde van die wêreld se olie vloei uit Irak, Koeweit, Saoedi-Arabië, die Golfstaatjies en Iran self na die markte daar buite, en as dit stopgesit word, kan dit die olieprys rekordhoogtes laat bereik.
As Iran die Straat probeer sluit, sal hy dit doen deur ’n kombinasie van seemyne, klein aanvalsvaartuie, mini-duikbote en mobiele missiele langs die kus – ’n maritieme guerrilla-oorlog.
Amerika, Europa en die res van die Midde-Ooste kan dit eenvoudig nie toelaat nie; hulle sal móét terugslaan. En as dít gebeur, is dit denkbaar dat hulle sommer die geleentheid sal gebruik om Iran se kerninstallasies minstens ernstig te beskadig.
Uiteindelik sal die probleem slegs opgelos word as die fundamentalistiese Islamitiese regime met ’n demokratiese stelsel vervang word. Miljoene Iraniërs is al lankal keelvol vir die humorlose keurslyf waarin die ajatollas hulle dwing, maar een opstand is reeds neergeslaan. ’n Blywende oplossing is ’n Iranse lente. Maar hoeveel skade gaan berokken word voordat dit slaag?
- Die Burger