Die ou en nuwe stories oor ons status en aansien
2012-01-20 20:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
DJS
Geestelike waardes
In ons tyd maak dit saak wat ander van ons dink en sê. Ons soek erkenning, respek, agting. Dis ’n tyd van Status Anxiety, sê Alain de Botton in sy topverkoper met dié titel. Dis belangrik – sóseer dat dit stres meebring, ons vermoei, ons lewe kan oorheers. Dog: Dalk was dit altyd so? Is al wat verskil, miskien net vandag se kriteria? Ons redes vir bewonder en verwerp? Ja, sê hy, wat ons tyd anders maak is ons eietydse beskouinge van status en aansien.
Ons sieninge van ander en onsself sit ingebed in die groot stories wat ons glo, lê hy uit, oor mens-wees en lewe, waardig en bewonderenswaardig – en dié het verander. Dan vertel hy hoe “drie nuttige ou stories oor mislukking“ moes wyk voor “drie stresvolle (anxiety-inducing) nuwe stories oor sukses”. Vir eeue sou dié ou stories stempel hoe mense dink en leef – en ook mekaar en hul eie lewe takseer. Sedert die agttiende eeu gryp drie nuwe stories ons egter aan en vorm ons gedrag – en word die ou stories se geloofwaardigheid en oriënteringskrag ondermyn. Baie onthou hulle wel nog, sommige glo hulle straks selfs nog.
Die eerste, sê hy, was dat arm mense nie verantwoordelik is vir hul eie lot nie en boonop sleutelrolle vervul. Elkeen het plek, nut, waarde. Soos liggaamsdele mekaar benodig, kan niemand sonder ander nie. Almal is daarom respek waardig. Die Bybel is vol uitsprake hieroor en die tradisie vol aangrypende lof van eenvoudiges, soos handewerkers en landbouers sonder wie se arbeid niemand kos sou hê nie. Die tweede was dat laer status, ook armoede, nie morele konnotasies het nie, nie op sigself goed of sleg is nie. Weer eens is die Bybel vol sulke gedagtes, is baie só opgevoed en glo party dit stééds. Armoede is g’n skande nie, sê die HAT nog, intééndeel. Die derde was dat juis vele gesienes korrup lewe en hul voorregte dalk dank aan uitbuiting. Van die Psalmdigters tot by Lukas en Jakobus sou nie sukkel om dié storie te glo nie!
Deesdae glo ons egter drie ánder groot stories, sê hy. Die eerste is dat rykes die nuttiges is. Ons dominante verhaal besing die lof van entrepeneurs, besitters, beleggers, werkskeppers, verbruikers, met hul trickle-down-effect wat eindelik álmal help (behalwe die heel luistes). Want dis die tweede – status hét morele konnotasie. Verdienste is goed, agterbly skande. Gierigheid is goed, afhanklikheid ’n las. Uit die nuwe storie van gelyke geleenthede volg immers dat wie nog steeds misluk, sélf verantwoordelikheid dra. Sukkel is verdiende loon. Bo uitkom is welverdiend – en dus lofwaardig. Vandáár volg die derde – armes is die korruptes, hopeloos in slegte sin. In ons meritokrasieë se evolusionêre denke bloei en blom sterkes terwyl swakkes bloei en kwyn, en terég. Welsyn is dwaas, omgee kweek net afhanklikheid.
By swaarkry se injury, sê De Botton, voeg deesdae se stories boonop die insult van skaamte. Dalk dié dat almal enigiets sal doen om tog aandag te steel? En nie net aandag nie?