Bonusse aan raadslede skep groot agterdog
2012-01-10 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Skerp en kritiese vrae behoort gevra te word oor die ondeurdagtige besluit van die regering om R250 miljoen beskikbaar te stel vir munisipale raadslede wat nie weer verkies is nie.
Raadslede se kern-posbeskrywing is dat hulle in diens van die gemeenskap moet staan. In ruil daarvoor ontvang hulle ’n salaris, en as die kiesers reken raadslede doen nie hulle werk nie, sal hulle noodwendig nie herkies word nie.
Volgens die departement van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, word die geld uitbetaal om voormalige raadslede wat hul volle termyn van vyf jaar uitgedien het vir hul “harde werk onder uiters moeilike omstandighede” te vergoed.
Dit is heeltemal moontlik dat sommige raadslede goeie werk onder moeilike omstandighede gedoen het. Die probleem is egter dat die bonusse oënskynlik voor die voet betaal gaan word, sonder enige aanduiding dat prestasie van individuele raadslede in berekening gebring gaan word.
Daarom moet die regering nie verbaas wees dat die publiek nou groot verontwaardiging oor die saak uitspreek nie. Municipal IQ, ’n onafhanklike aanlyn-inligtingsdiens oor plaaslike regering, wys immers dat daar tussen 2006 en 2010 reeds 277 protesoptogte oor swak dienslewering was.
Om onder dié omstandighede rojale politieke troospryse aan raadslede te gee, sal uiteraard die wenkbroue laat lig. Die vraag kan tereg gevra word of die geld nie eerder bestee moes word aan broodnodige infrastruktuur of die verbetering van dienslewering nie.
Op die keper beskou is daar dus genoeg rede om die plan met groot agterdog te bejeën. In die aanloop tot die ANC se leiersverkiesing einde vanjaar in Bloemfontein word van sy felste faksiegevegte juis op plaaslike vlak geveg en die party sit met sy hande in die hare oor bewerings van kullery met kandidatelyste in die vorige plaaslike verkiesings.
As die R250 miljoen dan eintlik bestee word om ontevredenes te paai en die ANC se interne politieke probleme te help oplos, is die regering besig om ’n gevaarlike presedent te skep.
- Die Burger