Waar Gandhi-vrede heers
2011-11-25 22:16
Dié huis, waar die Indiese vryheidsaktivis Gandhi, oftewel “Groot Gees”, in 1908 en 1909 gewoon het, is deesdae steeds ’n plek waar die krag van vrede heers.
Al woon Gandhi en sy vriend, die Joodse argitek Hermann Kallenbach, lankal nie meer op die plaas Die Kraal, soos dit destyds genoem is nie, leef die twee vryheidstryders se nalatenskap voort in hul eenvoudige huis in die boomryke woonbuurt Orchards in Norwood, Johannesburg.
Die huis het sy naam, Satyagraha, gekry van die woord wat die konsep van Gandhi se vredevolle teenstand omarm. “Satyagraha” is ook die sanskrit vir “die krag van die waarheid”, wat sy lewensfilosofie was.
’n Franse maatskappy, Voyageurs du Monde, het sowat twee jaar gelede die eiendom gekoop en dit gerestoureer tot sy glorie. Die huis se struktuur het behoue gebly en is in ’n museum omgeskep, terwyl aanbouings gemaak is vir slaapplek vir gaste.
Hoewel Die Kraal destyds groter was, kry besoekers steeds ’n duidelike prentjie van die oorspronklike plaasopset.
En ’n Joodse sinagoge langsaan smelt in by die verhaal wat hom voor die besoeker afspeel.
Gedryf deur meditasie
“Hierdie is ’n meditasiehuis,” sê ’n sjarmante Didier Bayeye (25), bestuurder van Satyagraha, in sy sterk Franse aksent.
“Hoewel Gandhi as ’n prokureur na Suid-Afrika gekom het, het sy hele lewensfilosofie in dié huis tot stand gekom. Hy het hier gemediteer, gebid, gelees en geskryf.”
Kallenbach het Gandhi ingeneem om na hom om te sien terwyl Gandhi se verstand in die stilte nie kon ophou besig bly nie.
“Ons bied op navraag steeds joga en meditasie soggens om 07:00 aan,” vertel Bayeye. “Meditasie was ’n groot deel van Gandhi se lewe en ons wil ook hê ons gaste moet dieselfde waarde daaruit put.
“Om die huis te besoek moet ’n liggaamlike ervaring wees. Jy moet stil word, jouself afsonder en jouself in Gandhi se 11 geloftes verdiep,” sê Bayeye.
Hoewel Gandhi ’n Hindoe was, het hierdie geloftes nie net met geloofsoortuiging te doen nie. Dis universeel en maak jou bewus van jou eie oortuigings.
In Gandhi se dakkamer is daar ’n gevoel van sereniteit. Daar’s boeke, kaste, ’n vloermatras en ’n spinwiel wat deur ’n Indiese maatskappy geskenk is wat Gandhi se erflating beheer.
“In sy dae as jong regsgeleerde het hy altyd ’n netjiese pak klere gedra. Later het hy al hoe meer kenmerkende wit katoenlinne gedra. In hierdie einste vertrek het hy geleer om die wit linne te weef. Eers het hy ’n kleed gedra wat sy skouers bedek het en hoe meer hy homself in sy mantra verdiep het hoe meer het hy van sy uitgeteerde borskas gewys en hy sou net ’n wit katoendoek om sy skouers drapeer,” sê Bayeye.
Een van Gandhi se vriende sou opmerk: “Elke kostuum wat hy gedra het, was verteenwoordigend van die verskillende houdings wat hy ingeneem het.”
Gandhi sou gewoonlik met ’n leer na sy dakvertrek klim. ’n Nuwe leer is vir simboliese waarde aangebring.
Nog een van Gandhi se geloftes was selfbeheersing oor wat hy geëet het. “Gaste wat hierheen kom, kan slegs vegetariese etes verwag. En geen alkohol nie,” vertel Bayeye. “Gandhi was ’n vegetariër wat later op die Tolstoy-plaas, buite Lenasia, saam met Kallenbach gaan woon het. Hy het sowat 80 volgelinge gevoed met groente vanuit sy groot groentetuin.”
Besoekers kan nes Gandhi die lafenis van die tuin opsoek.
Sanskrit op lappe
Oral in die grasdakhuis pronk Gandhi se sanskrit-woorde as boodskappe. Hy sou op ’n keer meld: “My lewe is ’n boodskap.”
Die elegante woorde is vol insig en liefde aanmekaargevleg.
Soos die woorde wat sy geloftes uitbeeld: “ ’n Lewe sonder geloftes is soos ’n skip sonder ’n anker of ’n bousel wat op ’n skuur in stede van ’n vaste rots geplaas is.”
Afdrukke van Gandhi in verskillende stadiums in sy lewe is aangebring op wit doeke wat van die dak hang.
Die sanskritwoorde of geloftewoorde staan vir: die waarheid; beheer oor die palet; leef eenvoudig; fisieke arbeid; selfdissipline; geen geweld; moenie steel nie; medemenslikheid; verwerp besitlikheid; vreesloosheid; geloofsgelykheid; en maak gebruik van plaaslik vervaardigde goedere.
In die ander kamer is foto’s van Gandhi se volgelinge soos sy vriende Henry Pollak, Millie Pollak, Sonja Schlesin, Thambi Naidoo en past. Doke, wat hom ingeneem het toe hy aangerand is
tydens geweldpleging in Suid-Afrika. Die agt kamers het twee enkelbeddens, simbolies van Gandhi se soms selibate lewe. Een van die kamers is genoem na sy vrou, Kasturba, by wie hy vier kinders gehad het.
Tydens jou omswerwinge in die huis is dié gees se vrede tasbaar.
- As jy meer van Gandhi wil leer, gaan kyk op 9 Desember na die opera Satyagraha , wat in Cinema Nouveau-fliekteaters vertoon word. Dit is ’n beeldsending van Philip Glass se unieke werk oor die lewe van Gandhi in Suid-Afrika, gesing deur Richard Croft.