Ruk jou tuin reg vir feestyd
2011-11-25 22:16
Dis nog net ’n maand voordat Kersfees hier is. As jy beplan om gesellige kuierfeeste in jou tuin te hou oor die vakansietyd is dit nou jou laaste kans om gou jou werf mooi te maak.
Hier is jou blitsgids.
Maak gou die grasperk groen
- Stel die lemme van die grassnyer op hul hoogste en sny liefs meer gereeld om ’n perfekte en fluweelagtige tuinmat te kry. As ’n mens in die warm maande te kort sny, word die graswortels blootgestel aan die son en is lelike, verbleikte snykolle jou voorland.
- Bemes nou met KAN of 7:1:3 wat ryk is aan stikstof en vinnige resultate gee vir ’n diepgroen kleur. Jy behoort binne twee weke al die groen te sien. Maak deeglik nat ná bemesting en meer gereeld vir ’n week of twee daarna, aangesien hierdie chemiese misstof die gras kan brand en goed ingespoel moet word.
- Waar molle ’n probleem is, gebruik ’n ekovriendelike molafweermiddel wat ’n knoffelbasis het. Herhaal die behandeling ’n paar keer om hulle te verjaag.
Dink aan plate kleurKwekerye is dié tyd van die jaar propvol meerjarige somerplante. Skaf gerus ’n paar plante soos engelvlerkies (Gaura), salvias, penstemons, daglelies, agapante, krismisrose en fuchias aan – almal is nou in blom en ideaal om saai kolle op te vrolik. Moenie in die versoeking kom om 20 verskillende variëteite te koop nie. Hou eerder by groepe van vyf of meer van net ’n paar soorte, dit lyk baie meer treffend.
Vul jou tuinpotte met blommeSomerblommende jaarplante is waarde vir geld en sal nog vir baie maande nadat jy reeds van die Kerstyd vergeet het blomme verskaf. Vul alles wat hol is met helder impatiëns, petunias, rooi salies, hanekamme, afrikanertjies en bloedrooi begonias.
Plant ’n paar hangmandjies vir die stoepGebruik goeie potgrond en moenie van die waterhoudende korrels vergeet nie omdat hangmandjies sommer vinnig uitdroog. Gereelde voeding is ook noodsaaklik om die plante in ’n goeie toestand te hou.
Die gewillige ou vetsak Echeveria elegans (Mexikaanse sneeubal) is ’n wonderlike plant vir ’n hangmandjie. Die lieflike grys-blou sukkulente rosette tuimel oor die kante en maak die mandjie sommer blitsig vol. Vir droë toestande is dié plante nie bang nie! Jy kan selfs ’n dag of wat vergeet om nat te gooi sonder enige nare gevolge.
Nog wonderlike kombinasies vir ’n hangende tuin is ’n mengsel van petunias, lobelias, heuningblomme en Pelargonium peltatum (rankmalva). Vir mandjies in skaduwee kan jy impatiëns, begonias en lobelias gebruik.
Snoei en trek bossies uit Snoei lig aan heinings vir netheid en siersnoeiplante om hul pragtige vorms te behou. Stut alles wat los hang, soos die tamaties wat alles in die groentelappie toegroei, stewig en netjies vas.
Sny meerjariges en struike wat afgeblom het terug en bemes met ’n stadig vrystellende misstof.
Verwyder alle onkruid uit plantbeddings, versorg die rante en gee ’n vars deklaag van growwe kompos of basstukkies.
Die werf moet skoon Karwei gemors en tuinrommel weg en sien toe dat alles om die huis netjies is. Maak tuinpaadjies met los stapblokke reg en vee geplaveide gedeeltes met ’n harde tuinbesem silwerskoon.
Patio-sorg Was die los kussingoortreksels van stoepmeubels en onthou om piekniekkomberse ook waskamer toe te stuur. Maak die braaiplek skoon en skaf ’n vrag hout aan. As die Weber gebruik gaan word om die Kerskalkoen gaar te maak, moet dit ook goed skoongemaak word.
Keer alle tuinstoele en tuinbankies onderstebo en stof af of stofsuig in elke hoekie en gaatjie. Sulke plekke is die ideale plek vir spinnekopneste en die inwoners daarvan het die nare gewoonte om ’n niksvermoedende kuiergas op ’n ongerieflike tyd en plek te byt – ek praat uit ondervinding!
Watertuine Maak waterfokuspunte en damme skoon en onthou om die water gereeld aan te vul om te keer dat die pompe droog loop. As daar groenigheid kort, plant ’n paar biesieplante soos Juncus effusus en Cyperus papyrus ‘nanus’ – albei groei in water en lyk sommer pragtig.
Kry die swembad gereedJou swembad moet sprankelskoon wees op Kersdag. Begin vier weke voor Kersfees met ’n toegewyde program om van alge ontslae te raak. Sorg ook dat die plaveisel om die swembad stewig en skoon is. Verwyder enige moontlike gevare soos ou potte en doringrige plante wat opgewonde en spelende baaiers kan seermaak.
Gaan klop aan jou eie voordeurKyk of hierdie belangrike plek jou laat welkom voel! Indien nie, maak dié deel en ook die voordeur skoon – verf die deur as dit moet, plaas ’n paar potte met mooi plante by die deur, voeg ’n welkom-matjie by en hang ’n mooi krans wat jy sommer van takkies en blare uit jou tuin gemaak het teen die deur.
Skep ’n feëland met liggiesDraai stringe feetjieliggies om boomstamme, maak dit vas langs die geute van die huis, in die vensters van die sitkamer, om groot leë of geplante potte en sommer enige ander plek waaraan jy kan dink.
Jy sal die flonkering van honderde liggies nog lank ná Kersfees op ’n stil somersaand buite in die tuin geniet.