Piekniek-paradyse
2011-11-11 23:00
Smulfees onder ’n blaredak
Onder die tamaai ou bome by Toadbury Hall voel dit of die tyd stilstaan; of jy die res van jou dae luilekker op ’n kombers kan lê en deur ’n groen blaredak na die somerlug loer.
’n Piekniek by dié vyfster-trou-bestemming in Muldersdrift, sowat 20 minute se ry van Johannesburg, is pure bederf. Die boomryke terrein en statige, dog huislike geboue voer ’n mens na Victoriaanse Engeland en dit voel of Jane Austen haar enige oomblik langs jou op die piekniekkombers kan kom neervly.
Ons piekniekplek is langs ’n visdam waarin geel en oranje koi slaperig swem. Langs die dam groei papawers met dieselfde kleure as die visse. In die skadu van ’n koelteboom wag ’n kombers, kussings en ’n tafel met twee netjiese kampstoele. ’n Vriendelike kelner (die diens is uitstekend) skink vir ons van ’n yskoue Boschendal Pavillion Blanc 2010 in metaal-wynglase en verdwyn
om ons mandjie te gaan haal.
’n Mens voel soos ’n kind op Kersdag wanneer jy die piekniekmandjie oopmaak, want in elke kartonhouertjie wag iets heerliks.
Ons het elke kospakkie oopgemaak, die inhoud op die kombers uitgepak en begin smul.
Uitstaande lekkernye is die broodjie met sagte filet, roket en uiemarmelade; die mini-souttert propvol geroosterde groente en roomkaas; die hoendersosatie met soetrissie-doopsous en die romerige crème brûleé. Daar is ’n oorvloed happies en jy gáán ’n braksakkie nodig hê. Gelukkig bevat die mandjie reeds twee groot papiersakke; een vir wegneem en een vir weggooi.
Werner Snoek, Toadbury Hall se sjef, sê die piekniek-spyskaart word gereeld aangepas na gelang van watter bestanddele in seisoen is. “Ek beoog om in Januarie weer die geregte in die mandjie heeltemal te verander.”
- ’n Piekniek kos R295 per persoon; R115 vir kinders; en is beskikbaar van Woensdag tot Sondag. Besoek www.toadburyhall.co.za, stuur e-pos na equiries@toadburyhall.co.za of skakel 0 079 512 0554.
Kievits Kroon
Kievits Kroon in Kameeldrift-Oos, 10 minute se ry van Sentraal-Pretoria en 45 minute se ry van Sandton, is die ideale piekniekbestemming as jy die stadsgeraas ’n paar uur wil verruil vir kwetterende vinke en kabbelende water. Die piekniekplekke is onder groot bome op die grasperk, naby die swembad en Kievits Kroon se restaurante en hotelkamers, daarom is dit nie baie privaat nie. ’n Mens voel tog of jy in jou eie wêreld is wanneer jy op die kombers neersak en ’n oorgroot kussing agter jou skouers indruk.
’n Piekniektafel en stoele word nie verskaf nie; net ’n klein skinkbord met pootjies waarop eetgerei wag.
’n Kelner neem ons drankiebestelling – ek kies ’n piña colada om die dag se hitte mee te verdryf en my eetgenoot ’n koeldrank. Kievits Kroon het ’n uitgebreide skemerkelkie-en-wynspyskaart vir piekniekgangers (drankies is nie ingesluit by die prys van die piekniek nie).
In die groot mandjie wat die kelner langs ons neersit is stapel op stapel plastiekhouers met deursigtige deksels propvol lekkernye. Ons pak uit, gaan lê op ons sy soos wafferse Romeinse adellikes en begin lippe aflek. Hierdie is ’n ware somermiddagfees – Griekse slaai, koue vleis, hoenderboudjies, aartappelslaai, gerookte salm, vars Franse brood, kaas, patees, souttertjies, voupakkies en vrugte. Dit is heerlik om ’n happie te bou met ’n stukkie brood, ’n stukkie salm, rou uie en krummelrige feta. Die mini-spinasie-en-fetasouttertjies is ’n wenner en die vars pynappel, waatlemoen en ander vrugte pure lafenis.
Hou een ding in gedagte: Dit is somer, dit is warm en die vlieë gaan maar pla.
Vir ’n soet happie ná die piekniekfees (saam met ’n cappuccino) is die kersiebrosbrood, sjokoladebruintjie en ’n stuk swartwoudkoek nommerpas.
- ’n Piekniek kos R165 per persoon (geen kinders onder 14) en is beskikbaar sewe dae per week. Besoek www.kievitskroon.co.za, stuur e-pos na reservations@kievitskroon.co.za of skakel 0 0860 543?848.