Karoodorp se mure kry lewe
2011-12-02 22:04
Die Afrikaans-dosent DARRY EARL DAVIDhet die Boekbedonnerd-boekfees in die Karoodorpie Richmond gevestig, maar ’n artikel oor ’n dorpie vol muurkuns in Kanada het die saadjie geplant om dié kunsvorm ook in die Karoo te laat leef, skryf hy.
Iewers tussen niks en nêrens in die Groot-Karoo lê die dorpie Richmond.
Dié dorpie dateer van die 1840’s.
Dit is groot genoeg om ’n kerk en drankwinkel; ’n paar kleiner besighede te hê... en ’n lewendige gemeenskap. Die aktiewe, klein gemeenskap klou vas aan die hoop dat hy nie in die harwar van die 21ste eeu vergeet sal word nie. ’n Groot deel van die gemeenskap is arm en daar gebeur nie veel nie.
’n Paar sonderlinge geboue het behoue gebly; ander is gestroop vir die waarde van hul boumateriaal: die geelhoutvloere, deurrame ensovoorts wat meer werd is as die gebou. Slegs enkele nuwerige siersteengeboue het intussen verrys.
’n Paar jaar gelede het ek en Peter Baker, ’n veearts soggens en saans maar die res van die tyd ’n dromer, die eerste stappe gedoen om Suid-Afrika se eerste “boekedorp” – ’n Pandora-kis van ou, stowwerige, skaars en versamelbare boeke – te begin; alles netjies opgestapel in ou, stowwerige geboue in Richmond. En die jaarlikse, drie dae lange boekfees Boekbedonnerd is gebore.
’n Dag of twee voordat die dorpie sy deure vir besoekende skrywer, uitgewers en nuwe boekbekendstellings oopmaak, kan ’n reuse-stofwolk van ver gesien word soos die dorpsinwoners en winkeliers koorsagtig begin vee – die strate, sypaadjies, winkelvloer en enigiets wat hulle kan vind – in afwagting van die groot stormloop.
Want dit is die een geleentheid wanneer hul klein dorp Richmond raakgesien word en ’n broodnodige inkomste die dorp binnestroom.
Ek wou altyd ’n mooi malligheid skep en ek dink met Boekedorp Richmond het ek dit bereik. Maar ek is die rustelose soort.
’n Paar maande gelede het daar in Naweek+ ’n artikel verskyn deur Engela Duvenage van die Universiteit van Stellenbosch wat ’n Kanadese dorp vol muurskilderye besoek het. Sy het haar artikel afgesluit deur te sê hoe wonderlik dit sou wees indien Suid-Afrika sy eie muurbeskilderde dorpie sou hê.
Nadat ek navorsing oor die konsep gedoen het, het ek Peter gebel.
Ek het geweet hy sou binnekort Kanada toe vertrek om by familie te gaan kuier. Toe oortuig ek hom om die “grootvader” van muurkunsdorpies, Chemainus in Kanada, te besoek.
Dié dorp het verskeie ooreenkomste met Richmond. Dit was eens die grootste hawe ter wêreld van waar hout versend is. Industrieë het oorgeneem en die houtbedryf het tot niet gegaan. Die dorpie het begin doodloop, maar ’n paar vindingryke inwoners het met die idee vorendag gekom om die dorpie te laat herleef deur toerisme.
En so is die eerste kunsmuurdorpie gebore. Teen die tyd dat Peter van Kanada teruggekeer het, het hy een woord op sy lippe gehad: “muurkunsdorpie”.
In die Suid-Afrikaanse konteks weet ek muurskilderye word vereenselwig met graffiti of kunswerke wat deur politiek geïnspireer word. Maar muurkunsdorpies werk in dieselfde idioom as iemand soos Pierneef, wat die landskappe gebruik om die geskiedenis van ’n streek op te diep. Die idee is om ’n groot buitelugkunsmuseum te skep. Die mure moet die geskiedenis van die dorp vertel. Met deursettingsvermoë en ’n totale tekort aan geld het ons begin om na kunstenaars te soek wat ons kon help om die droom te bewaarheid.
Gelukkig het Nikki Tilley, wat my gehelp het om die Midlands- literêre fees te organiseer, voorgestel ek moet met Mike Norris, ’n kunstenaar, gesels. In twee kort maande is die weg gebaan vir Suid-Afrika se eerste muurkunsdorpie. Norris het Louise Ghersie, ’n baietalentvolle portretkunstenaar, saamgebring. Saam sal hulle onthou word as die stigterskunstenaars van Suid-Afrika se eerste muurkunsdorpie.
Die opdrag was eenvoudig: Louise moes die eerste van baie bekende literêre gesigte verf om in te pas by ons reputasie as boekdorp.
Ek het versoek sy moet die portret van die akteur Patrick Mynhardt as die pyp-rokende karakter oom Schalk Lourens skilder.
Patrick was die man wat gehelp het om Boekedorp Richmond in September 2007 bekend te stel voordat hy oorlede is. Louise het toe ’n naby-portret van oom Schalk Lourens gemaak wat 2 m x 1,5 m groot is.
Mike is gevra om ’n muurskildery te skep van een van sy kenmerkende trekkers – hierdie keer ’n verlate trekker met die Karoo as agtergrond. Die stuk is 3,4 m x 2,6 m groot en geverf op die stoepmuur van ’n ou gebou op die hoek van Kerk- en Loopstraat.
Die skilderye het drie dae geneem om te voltooi en was een van die grootste uitdagings wat dié twee kunstenaars tot dusver aangepak het. Buiten dat die grootte van die kunswerke die kunstenaars genoop het om kort-kort oor die straat te hardloop om die vordering van ver dop te hou, was die uiterste weersomstandighede ’n uitdaging.
Daar was vroegoggend ’n koue, huilende wind wat soos ’n tornado om die hoek van die stoep gevee het. Daarna het erge hitte die kunstenaars beproef. Hulle het ontdek dat die droë Karoolug die vermoë het om akrielverf so vinnig te laat uitdroog dat die verfkwaste letterlik hard word terwyl hulle verf. Hulle kon dit dus nie waag om ’n verfblik of palet oop te los nie.
Wat Louise en Mike albei verstom het, was dat baie lede van die gemeenskap – baie van hulle het dit self nie te breed nie – hul poging met ywer ondersteun het.
Die voltooiing van die werk, wat in Mike se geval was om ’n persoonlike nommerplaat “Moeggeploeg” by sy trekker te voeg, het op ’n manier ’n boodskap na die onderdorp gestuur.
Binne minute het mense van alle ouderdomme saamgedrom om te sien wat dié twee mense vir hul dorp gedoen het.
Die dorpsmense het op hul eie manier eienaarskap van die kunswerke geneem. Ek dink hulle het gevoel dat iemand hulle raakgesien het en dat iets groots en geskiedkundig aan die gebeur is. Soos die stofstorm wat dit vergesel het, het Boekbedonnerd tot ’n einde gekom. Die winkeleienaars het hul sente getel en hul beste eetgerei weggepak tot volgende jaar en die vreemde registrasienommers het na hul tuisdorpe vertrek.
Maar die een nommerplaat wat op die muur van die Richmond-galery agtergebly het, en in die harte van mense, is “Moeggeploeg”.
En oorkant die kerk, op die hoek van Kerk- en Loopstraat, is daar twee fantastiese, kleurryke, yslike skilderye.
Die “trekkerkunstenaar” Mike Norris doen die afronding aan Moeggeploeg. Foto: Darryl David