Gholf-see-oordaad in Ierland
2011-11-25 22:16
Die grootste rede vir my – as ’n amateur-speler wat voorheen van ’n enkelvoorgee gespeel het en deesdae sukkel op ’n tien – om Ierland te besoek, is die Old Headbaan in Kinsale.
Dit is ’n linksbaan op sy beste en waarskynlik met die mooiste putjies met ’n seeuitsig in wêreldgholf. Geen wonder nie dat LINKS-Magazine.com die baan bo-aan sy bucket-list het van bane waar jy as ’n ywerige gholfspeler móét speel.
Volgens dié lys is Old Head, gevolg deur Cypress Point (Pebble Beach, Kalifornië), Cape Kidnappers (Te Awanga, Nieu-Seeland), Black Mesa (La Mesilla, Nieu-Mexiko), Pebble Beach Links (Pebble Beach, Kalifornië), Whistling Straits (Haven, Wisconsin), Weihai Point (Weihai, China), Pinnacle Point (Mosselbaai), Jade Dragon Snow Mountain (Lijiang, China) en Cabo Del Sol (Cabo San Lucas, Mexiko).
Old Head het nie net die mooiste see-uitsig nie, maar bied ook uitdagende en skilderagtige putjies. Tref jy dit op ’n winderige dag moet jy seker maak dat jy genoeg balle ingepak het.
Een van die baljoggies vertel juis ’n trekker is al oornag van een van die skoonvelde in die see gewaai – nie te moeilik om te glo as jy al in ’n stormsterkwind in Ierland gespeel het nie.
Aangesien die baan 99% deur water omring word, word dit dikwels deur die jaar weens weeromstandighede gesluit – veral in die wintermaande.
Ek het tydens my besoek aan Ierland gespeel op die Palmerbaan van die K-klub waarop 2006 se Ryderbekertoernooi gespeel is; Fota Island se Deerbaan; The Old Course van die Lahinch-gholfklub; Old Head; die O’Mearabaan van die Cartonhuis-gholfklub; en Killeen, die baan in Killarney waarop vanjaar se Ierse Ope beslis is.
Ek het ook die Solheimbeker, waarin die vroue-spanne van Amerika en Europa mekaar by Killeen aangedurf het, bygewoon.
Afgesien van die Old Headbaan was die tradisieryke Lahinch-gholfklub, wat in 1892 gestig is, ’n ware belewenis.
Dit is ook ’n linksbaan wat in die pragtige Ierse kusdorpie Lehinch geleë is. Die meerderheid van die baan se putjies het ’n pragtige seeuitsig, maar ’n putjie soos die Old Course se vierde is waarskynlik eiesoortig in wêreldgholf.
Met jou rug na die see gedraai en geen idee waar die setperk agter ’n hoogte versteek lê nie, moet jy jou bofhou ongeveer so 200 m reguit op ’n skoonveld slaan.
Jou bofhou moet uiters akkuraat wees en jy wil hom eerder korter as te lank slaan. Vir jou naderhou moet jy eers wag vir ’n beampte wat op ’n hoogte staan om die rooi vlag te laat sak en die groen een hoog in die lug te hou.
Ironies genoeg sal jou baljoggie jou ook vertel dat dié beampte jou teiken is en dat jy jou naderhou ongeveer 180 m moet slaan om op die setperk te eindig – dit is nou as jy die regte teiken gekies het.
Die K-klub se klubhuis wemel eenvoudig van die geskiedenis; met groot spelers se foto’s wat oral in die gange hang. Dié baan is pragtig en het die mooiste hotel.
Ek reken op ’n windstil dag kan jy ’n goeie telling op die baan aanteken.
Agterna het iemand in die klubhuis dit opgesom wat ek op die baan ervaar het: Ierland het in 2006 die kans gehad het om aan die res van die wêreld ’n Guinness te bedien … maar verkies om ’n lager te gee.
Daarmee bedoel ek die baan is pragtig, maar hoekom nie eerder so ’n groot toernooi soos die Ryderbeker op ’n linksbaan speel nie?
Die Deer-baan waarop ek die volgende dag gespeel het, het ’n pragtige ligging; met die mooiste klubgeriewe wat ek in ’n lang tyd gesien het.
Die 18de putjie (syfer 5) van die baan is baie spesiaal en ek was bevoorreg om my dag daar met ’n voëltjie te kon afsluit.
Die Killeenbaan waarop Ross Fisher vroeër vanjaar in die Ierse Ope gewen het, se eerste vier putjies is ongelooflik mooi so langs die viswater.
Maar ek sal die pragtige dorpie Killarney langer as die Killeenbaan onthou.
My laaste ronde het ek op die O’Meara-baan gespeel.
Dit het ook ’n pragtige hotel waar ons aandete geniet het.
Die baan se setperke is die beste waarop ek gespeel het en sy laaste vyf putjies is so reg uit ’n gholftydskrif – regtig prentjiemooi.
As ek ooit die voorreg het om weer saam met my vriende in Ierland te gaan gholf speel, sal ek Old Head bo-aan my lys hê, gevolg deur Lahinch. Die O’Mearabaan sal volgende op my lys wees.
Die res van die bane bied jou nie werklik iets anders as waaraan ons in Suid-Afrika gewoond is nie.
Bygesê, ek en my vriende sal lank vooruit moet spaar vir so ’n besoek.
Dit sal jou byvoorbeeld R4 000 uit die sak jaag vir 18 putjies op Old Head – geld wat jy waarskynlik sal voel uiters goed bestee word en ware waarde daarvoor bied.
- Cronjé het Ierland op uitnodiging van Tourism Ireland besoek.