Dankbare pelgrims in Spanje
2011-11-04 23:54
Ek het alleen gestap van Lorca af. My stapmaat en 35 jaar lange vriendin was grieperig en het op dié betowerende dorpie agtergebly om te herstel. Ons het beplan om mekaar weer oor drie dae in Azofra te kry.
Nog 600 km het voorgelê voordat ons by Santiago de Compostela, ons eindpunt, sou aankom. Ons het reeds 200 km afgelê. Sy sou my per bus inhaal, maar op ’n kaart lyk Azofra na so ’n onbeduidende dorpie dat ek nie kon help om te wonder of ons mekaar ooit weer voor die hiernamaals gaan vind nie.
Mariëtte is ’n kunstenaar, ’n regterbrein-gebruiker en enige ondervinding saam met haar is opwindend, anders en onvoorspelbaar. Sy groet my met ’n flou glimlag en sê: “Kry jou dan in Mekka.” Maar ons is in Spanje, op die Camino, en al ken ek haar hóé goed, hou ek nie van die grap nie. Haar sin vir rigting is verdag en sy het die gawe om te verras.
Met ’n verlate gevoel in my hart begin ek die volgende oggend vyfuur in die pikdonker stap. Al my sintuie is tot die uiterste ingespan. Pelgrims van regoor die wêreld se tog hang letterlik van geel pyle af: Hulle is orals geverf om die Jakobsweg aan te dui. Op klippe, teen pale, teen geboue, op bakens met die roete se skulp-simbool op.
As jy ’n geel pyl miskyk, is jy die pad byster: letterlik én figuurlik.
“Buen Camino,” groet ek die enigste ander pelgrim wat verbykom. ’n Lang man stap geleidelik onder my uit, vasgevang in sy eie gedagtes.
Teen dagbreek hoor ek die eerste keer in my lewe ’n regte koekoek. Onder begeleiding van ’n koor van duiwe, vreemde voëls en paddas wat almal ’n hoër geluid maak as in Suid-Afrika, besluit ek selfs die veld hier klink anders.
Ná Lequin ontvou ’n wonderwêreld in die heuwelagtige landskap. Ek stap deur lande vol wuiwende graan en wilde rooi papawers so vêr as die oog kan sien. Nêrens is ’n grensdraad of ’n plaashuis of ’n teken van mense nie.
Kilometers en kilometers van graanlande laat my besef dat ek in ’n El Greco-landskap rondstap.
Langs ’n eeue oue klipmuur eet ek my blikkie sardiens en brood. Ek vee die laaste bietjie olie met die korsie uit, want my liggaam vra daarna.
’n Motreën begin neersif en ek haal my reënbaadjie uit. Ver teen die horison sien ek die oorblyfsels van ’n ou kasteel wat aan vroeëre rykdom herinner. Dit word koud en ek is lus vir ’n koppie Spaanse koffie, maar dit is nog 12?km tot by Los Arcos.
Ek voel alleen in die groot oneindigheid om my en dink: Om hier te stap is om vrede te maak; met jouself, met die pad wat jou tot hier gebring het, met mense om jou, met die heelal.
Die sak wat jy dra, word spreekwoordelik ligter hoe verder jy stap. Die afstand raak geleidelik irrelevant, want die afstand wat jy in jou gees beweeg kry ’n hoër waarde.
Skielik sing ’n harde tenoorstem Nessun dorma hier êrens vanuit die graanlande. “Jy verloor jou varkies,” sê ek hardop vir myself.
Ek kyk rond, maar sien niemand nie. Agter my sien ek ’n lang, skraal figuur wat lyk of hy deur die misreën aangesweef kom.
Hy dra ’n pelgrimshoed, wapperende reënmantel en ’n lang herderstaf wat bo sy kop verbysteek. Dit is skielik gerusstellend om nog ’n mens te sien, want alles voel soos ’n teater van die absurde. Waar kom die musiek vandaan?
Toe ek om ’n draai stap, staan daar ’n kombi met ’n volledige Bedoeïen-tent. Hoe kom ’n voertuig hier? Die luidsprekers basuin ’n dawerende Pavarotti oor die graanvlaktes uit. Op ’n handgeskrewe bordjie staan geskryf: Camino Café.
’n Jong man met ’n dik poniestert kom glimlaggend nader en in dié land waar niemand skynbaar Engels kan praat nie, sê hy met ’n Aussie-aksent: “Give me your backpack and please sit down. May I offer you coffee? Tea? Fruit? Sweets?” Duidelik ’n entrepreneur wat weet dat die afstande lank is, en die pelgrims moeg.
Ek kyk met verwondering na die prentjie voor my en voor ek kan antwoord, sê die sagste stem agter my: “Magique.”
Toe ek omdraai staan die lang, mistieke figuur agter my. Het hy dan nie vroeër by my verbygestap nie? Ons albei bestel warm koffie en stap saam in die misreën tot by Los Arcos.
Hy is ’n regter en stap die roete vanuit Frankryk om sy aftrede te vier. Later die aand steek ek ’n kersie op vir Mariëtte in die 12de-eeuse Santa Maria-kerk: Voorwaar ’n dag vol betowering.
Drie dae later stap ek Azofra binne. Mariëtte wag, soos afgespreek, by die “municipal” (die hostelle al langs die roete) waar sy reeds ’n nederige ete in die pelgrimskombuis voorberei het.
Ons is so bly om mekaar te sien en ek is uiters dankbaar dat ons mekaar gekry het. Sy lyk baie gesonder.
Op ’n pelgrimstog neig alles geleidelik tot nederigheid, mededeelsaamheid en dankbaarheid.
“A tourist demands, a pilgrim thanks,” staan op een van die katedrale se deur geskryf.
“Ons het genoeg kos vir drie mense, kom ons nooi ’n gas vir ete,” stel Mariëtte voor. Die regter, wat ’n rusdag geneem het, word ons eerste gas.
Ons praat oor die betekenis van bestaan, die soeke na waarheid, ons herkoms en veel meer. Toe ons groet, hou hy ons hande styf vas, buig sy kop en sê in sy sagte, musikale stem: “Souz-Africa haz very spezial ladies.”
Gevlei, glimlag ons op ons mooiste. Dit is onwaarskynlik dat ons mekaar weer sal sien, want hy stap vinniger as ons.
Vier weke later het ons die 800 km lange reis voltooi. Nadat ons die aangrypende mis in die Santiago de Compostela-katedraal bygewoon het, stap ons deur die besige strate van die stad.
“Mariëtte, van al die mense wat oor ons pad gekom het, wie sou jy graag beter wou leer ken?” vra ek. Sy dink ’n rukkie en antwoord: “Wel, vir seker die regter en …”
Maar voordat sy verder kan antwoord, sê ek verstom: “Daar sit hy!”
Sowaar. Die lang, skraal, uitgekerfte figuur sit rustig en koffie drink by ’n straatkafee. By gebrek aan ’n naam roep ek “Judge!
Judge!” skaamteloos en kliphard oor al die mense.
Hy kyk verras op en kom ons tegemoet gehardloop. “Ze spezial ladies!” sê hy. “Ziz is magique!”
Wat en waar?
- Volle naam: El Camino de Santiago – Die pad van die heilige Jakobus, of Jakobsweg.
- Roetes: Daar is verskeie pelgrimsroetes deur Spanje wat in die stad Santiago de Compostela eindig. Die dorpie Ronces-valles in die noorde van Spanje is een van die beginpunte van die roete. Die Franse roete begin in die Franse Pireneë. Pelgrims stap die roete al sedert die agtste eeu.
- Hoe ver is dit? Die volle afstand is ongeveer 900?km, maar enige deel van die roete kan gestap word. Dit neem ongeveer vyf weke om die volle roete te voltooi.
- Waar slaap jy? Daar is volop goedkoop slaapplek (€6 tot €15) in ou kloosters en herberge.
- Wat kos dit? R200 tot R300 per dag is ’n goeie riglyn vir al jou kostes.
- Waar eet jy? Pelgrim-etes word aangebied en kos van €8 tot €9 vir ’n driegangmaal met ’n bottel water of wyn. Die meeste herberge het ’n kombuis waar pelgrims ’n eie ete kan berei.
- Lees meer: The Confraternity of Saint James (www.csj.org.uk) is ’n liefdadigheidsorganisasie wat oor baie inligting beskik. Besoek ook die webwerf www.santiago-compostela.net.
- Dalina Heese is ’n skrywer van Stellenbosch.
Gesels saam op
Facebook en volg Beeld op
Twitter.