By De Hoek kan jy met slakkepas kuier
2011-11-18 22:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
In die Magaliesriviervallei, daar waar die rivier ’n effense kronkel maak, staan die trotse sandsteen-opstal van die De Hoek Country House.
Tyd stap hier langsaam verby die oomblik wanneer jy oor die houtbruggie, oor die veld en verby die heliblad tot onder die bome inry. En wanneer dit by groettyd kom, is jy spyt om te gaan.
Want by De Hoek, omring en afgesluit van die buitewêreld deur ’n semi-inheemse bos, voel dit byna asof daar geen kwelling kan wees wat te swaar op jou gemoed kan druk nie. Hier sal jy nie ’n klomp mense jillend om die swembad of voor die ekstra-groot TV-skerm in die konferensiesentrum vind nie. ’n Ouderdomsperk van slegs kinders bo 12 verseker ook dat ’n nukkerige pienkvoet nie die ywerige piet-my-vrou steur wat dan hier en dan daar na sy maat roep nie. Selfs die personeel hardloop nie en praat nie hard nie, hulle is vriendelik en hulpvaardig sonder om oordadig en irriterend te wees. Hier kuier jy met ’n slakkepas.
Gaste word gereeld vanuit Gauteng hierheen met die helikopter gevlieg om ontbyt of middagete te geniet, vertel Henry Sisya, assistentbestuurder by De Hoek, terwyl die helikopter met ’n Johannesburgse gesin op die grasperk land. Dít is hoe lekker die kos hier is, verseker hy my. Selfs Jeremy Clarkson, motorgeesdriftige en mede-aanbieder van Top Gear, asook verskeie politici en sportsterre het al hier ’n draai kom maak, sê hy.
Die manjifieke dubbelverdieping-sandsteengebou is net so imposant as die swaar houtmeubels, lowergroen en netjiese tuine, uiters professionele diens en keurig bereide kos.
Dit is egter buite in die uitgestrekte tuin dat jy graag jou tyd sal wil deurbring.
Om die swembad, waar die snikhete somerlug net-net deur die lower dring, verloor ons tred met tyd terwyl high tea rondom 15:00 voorgesit word. Gaste sit met lang drankies op die dekstoele en slaap of lees ’n geleende boek uit die De Hoek-biblioteek.
Wanneer jy uitgerus is en ’n krieweling in jou bene jou nie toelaat om te lank stil te sit nie, is aktiwiteite soos boogskiet, kroukie en staproetes in die omgewing ’n opsie. Warmlugballon-, kwadfiets- en perderitte en masserings kan ook op aanvraag gereël word.
Aandetes is ’n deftige geleentheid. Die sjef en mede-eienaar, Michael Holenstein, se slag agter die kospotte is beslis noemenswaardig. ’n Spyskaart met ’n keuse uit drie voorgeregte, vier hoofgeregte en twee nageregte het ons monde behoorlik laat water.
Gaste wat hul privaatheid op prys stel, kan gerus wees dat hier net 20 en suite-kamers beskikbaar is, vier in die hoofhuis en 16 suites in vleuels net buite die hoofhuis wat elk met ’n eie balkon, ondervloerse verhitting en DStv spog. Vier van dié kamers het kaggels vir gesellige winterkuiers, en die badkamers op die hoeke van elke vleuel geleë, het ’n uitsig op die bos.
Op die tweede verdieping kan jy met gemak ’n glasie vonkelwyn in die dubbelbad geniet sonder om die vensters toe te maak. Wees egter versigtig vir stoute viervoetige vriende – ’n nuuskierige blouapie het hom die volgende oggend op ons balkon kom tuismaak.
De Hoek het voorwaar die groot voordeel dat jy Vrydagmiddag nie te ver hoef te ry vir ’n naweek-wegbreek nie. Jy word selfs op datum gehou van nuus oor wêreldgebeure, die markte en die weer in ’n pamflet spesiaal vir jou saamgestel.
Dit is egter nie ’n einde-van-die-maand of platsak-kuier nie.
- Van Wyk het die De Hoek Country House op uitnodiging besoek.