As koesterbome skielik verdwyn
2011-11-11 23:00
As jou buurman die indringerbome langs jou grensdraad op ’n dag afsaag omdat dit amok in jou tuin maak en jy hom mooi gevra het om dit te doen, hoekom voel jy nou so effens ‘kaalg*t’? Hoekom soek jou oë aanmekaar na daai einste bome wat jy laat verdoem het?
Dis ’n ou truuk van tuiniers om ’n buurman se bome langs ’n grensdraad te gebruik vir beskutting en skaduwee vir “sagte” plante.
Maar, dan word die huis verkoop en ’n ander tuinier met ander planne dink weer die oorhangende en versmorende boomtakke van die “koesterbome” is ’n pyn wat meer amok as goedheid saai.
Reg langs die grensdraad van my tuin, in my buurman se onbeboude werf, het drie groot rooikransbome (Acacia cyclops) gegroei. Hulle was lelike bome en boonop op die indringerlys van onkruide.
Die vorige eienaar van my tuin, ’n verwoede kothuistuinier, het die skaduwee wat hulle gemaak het waardeer en al haar fyn skaduplante soos roomysbossies, seweweeksvarings, rankflokse en Plectranthus ’e in die grensbedding geplant. Aan die oorhangende takke het sy voëlvoerders opgehang en oral op weggesteekte plekke sementbakke neergesit wat sy gereeld vol water vir die voëls gemaak het.
Sy het ook voëllokkende plante soos wildedagga, laventel, saliehout en perdesterte geplant om nog meer geveerdes te lok, maar hulle toe nooit gesnoei nie en toegelaat om langbenig in die skadu te groei. Haar tuin is nou my tuin, en in dit wat ek noem die “vals” skaduwee van ou indringerbome op ’n buurwerf, staan geërfde plante wat maar net nie die mas kan opkom nie, al doen ek wat.
Die buurman (wat slegs vakansietye en soms naweke hier is) het weer op sy beurt ’n paar inheemse bome tussen die pleegmoeder-indringerbome geplant. Hy wat die kaal erf met die bome tussen die twee huise baie mooi oppas, het geweet dat die rooikranse sy nuwe jong bome sal beskut teen die wind in ’n kusdorp, en hy was reg. Ek het gesien hoe hulle oor die afgelope drie jaar mooi begin lyf kry.
Maar die indringerbome het ewe geil gegroei. Aan my kant van die draad het ek aanmekaar die laagste takke wat altyd vol droë hout was, afgesaag en weggery en aan buurman se kant het hy weer van die groter sytakke afgesaag vir lekker braaihout. Die wedersydse gesnoeiery het digter, maar verminkte groei aangemoedig, wat die bome al meer onstabiel en nog leliker gemaak het.
Die eertydse kothuistuinier het seker daaraan gedink dat die rooikranse nie vir ewig groenigheid en skadu langs die grensdraad sal maak nie en ’n paar heiningplante in die vorm van geil blinkblaar-Viburnum s in die grond gesit – ek het ook ’n paar bygeplant, maar hul vorms wou ook maar nie dig word nie, al het ek hulle hoe gereeld gesnoei en gevoed.
Nuwe sonsoekerplante wat meer gehard vir ons droë klimaat is, wat ek op die voorgrond van die bedding geplant het, het begin taan en al hoe skewer gegroei om onder die skaduwee uit te kom en so ook buurman se jong inheemse bome wat genoeg gehad het van hul pleegmoeders se beskerming. Van die ouer takke het gereeld begin loskom in die wind en op my plante geval. Die bome het, om die minste te sê, regte “boeliebome” geword!
Op my versoek het die buurman en ’n span werkers al die rooikransbome op sy werf kom afsaag. Dit was omtrent ’n gewoel van sae wat die ou bome se stamme opgesaag het in hope braaihout vir die komende vakansietyd. Daar lê ook ’n groot hoop droë takkies en blare om weggery te word.
Wat ek egter nie kan kleinkry nie, is die vreeslike hartseer wat ek vandag voel omdat die bome weg is. Hoekom voel ek so? Ek kan mos nou die berge beter sien uit elke venster van die huis.
My nuwe plante sal mos nou beter groei in die lig van die son en dié wat ek geërf het en nie wou hê nie, kan nuwe base kry. Die jong inheemse bome aan die ander kant van die draad wat so skeef-skeef begin koes het sal trots opstaan en met tyd groot en geil groei en weer skadu oor my werf gooi.
Terwyl ek skottelgoed was en by die kombuisvenster uitkyk na die skielike leegheid, sien ek hoe ’n ry voëltjies verdwaas op die draad sit – hulle wonder seker wat van hul neste geword het.
Ja-nee, een tuinier se “koesterboom” is ’n ander tuinier se “boelieboom”!