- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
MyStorie: Kimberley se Trein
deur Elaine Marais
2010-04-19 10:29
Weke voor die vertrekdatum sing my kinders die ou, bekende liedjie luidrugtig in die motor. Ek hou my opgewondenheid moeilik in toom agter die stuurwiel.
Dit roep herrinneringe op wat ek onwillekeurig vir ‘n geruime tyd bietjie op die agtergrond moes skuif. Dit het gelyk of die ou plesier van ‘n veilige, gerieflike, netjiese en avontuurlike treinvakansie nie vir my kinders beskore sal wees nie. Toe ek ‘n kind was, het treinvakansies kop en skouers bo die ander uitgestaan.
Net gesoute treinryers sal verstaan wat ek daarmee bedoel. Die ketik-ketik van die wiele saans as jy in jou snoesige treinbed lê. Die geur van treinkoffie gemeng met die reuk van verbyflitsende landskappe. Die stilsit en uitstaar na ‘n plat berg in die verte. Een wat jy andersins nooit sou sien en waarop jou voete nooit sal stap nie. Roomyshouers met gekookte eiers, frikadelle, toebroodjies en biltong. Heerlik!
Dit beteken nie ons ry glad nie trein nie. Die hele wêreld is mos vol treine en ons gaan graag op vakansie. Dus het ons al die geleentheid gehad om gou-gou hiernatoe en gou-gou daarnatoe van treinvervoer gebruik te maak.
Dit is ongelukkig net nie dieselfde nie. ‘n Ander land se landskappe voel nie eie nie en veral die ondergrondse blitsmodelle kan nie kersvashou by ons karaktervolle modelle van ouds nie.
Ek moet erken ek was nie braaf genoeg om die kans te vat, na ‘n twintig jaar tussenpouse, om ontmoedigende gerugte te ignoreer en summier ‘n bespreking te maak nie. Totdat vriende se ouers getuig het van hul positiewe ervaring onlangs op die trein. Die media het een of twee positiewe berigte gepubliseer en die professionele webblad van spoornet het verder bygedra om my te oorreed om ‘n bespreking te gaan maak by die plaaslike treinstasie.
Die vriendelike, behulpsame man agter die toonbank het my selfvertroue ‘n hupstoot gegee. Die man en vrou agter my, wat ‘n toer na Durban en terug sou bespreek, vir die hoeveelste keer, het die sleutel van my uitsien kamertjie oopgesluit en dit het sommer wa-wyd oopgespring.
Gewapen met vyf kaartjies, myne, my ma s’n (‘n gesoute treinreisiger) en my drie kinders het ek iets gedoen wat moontlik tot groot teleurstelling kon lei. Ek het begin uitsien sonder perke. My tannie sê altyd dat die lekkerste deel van ‘n vakansie is die uitsien.
My ma sê weer altyd as jy te veel verwag kan jy maklik teleurgestel word. Ek moes dus uitsien met min verwagting.
Woensdagaand, nadat alles gepak en almal deeglik gebad het, neem pappa (wat ongelukkig in Jan Tuisbly se karretjie moes bly, hierdie keer) ons vir oulaas uit vir ‘n heerlike ete voordat ons om half nege by die stasie aanmeld.
En wil jy nou meer. Die trein gaan ‘n volle tien minute vroeg wees!
“Moenie te naby die spoor staan nie,” waarsku ouma die drie suikergevulde spruite. (Pappa het aangedring op roomys na ete).
Die trein kom stadig en statig die stasie ingery. Oral is opgeleide personeel om die opklim so glad as moontlik te laat verloop.
“Julle is in wa tien in kompartement F en kopee G, dis langs mekaar. Julle moet bietjie afbeweeg met die peron, dit gaan taamlik agter wees.”
“Kan ek mevrou help met die bagasie?” bied nog een aan vir my moeder.
Oomblikke later is dit tyd om pappa te groet. Die kinders is oorweldig en ek het nog nie tyd om alles in te neem nie toe pappa moet afklim en die wiele sommer dieselfde oomblik begin beweeg. Daar is net iets weëmoedigs daaraan om vir jou geliefde deur ‘n trein, wat die stasie uitry, se venster te moet waai. Ek waai totdat Jacques met die donkerte saamsmelt.
Die oomblik het aangebreek. Ek wil net op die stadium noem dat ons gereelde kampers is dit maak jou báie gewoond en ‘n ma gril ook nie so maklik as sy reeds drie kinders grootgemaak het nie! Dis ‘n maak of breek oomblik.
Ek kyk versigtig in die kompartement. Ouma staan ook en asem ophou vir my reaksie. Sy het reeds haar en my oudste dogter se kopee begin inrig.
Eerstens, dit is skoon. Tweedens, dit ruik lekker. Derdens, alles lyk redelik nuut.
My uitsien beker loop oor!
“Kan ek vir mevrou beddegoed bring,” vra ‘n vriendelike stem langs my.
Ons bestel vir almal beddegoed en is weer eens verbaas oor die goeie diens en netjiese linne.
Ek lees tot laat my ‘spesiaal vir die trein gebêre boek’, terwyl die kinders heerlik in droomland is. Met my oë lees ek, maar met my ore en hart ‘ketik-ketik’ ek.
Ons het Kimberley gekies as ons bestemming vir ons treintoer. Bloemfontein, Johannesburg en Durban was ook op die kortlys, maar die ‘Groot Gat’ het my kinders se ondersoekende nature geprikkel.
Na ‘n heerlike (en baie billikke) ontbyt in die eetwa, is dit tyd om in te pak en reg te maak om by die Kimberleystasie uit te klim. Die enigste troos is dat ons weer per trein gaan terugreis.
‘n Voorafgereëlde huurmotor neem ons na ‘n hotel langs die Groot Gat. Ons beleef Kimberley en die karaktervolle mynmuseum ten volle vir die volgende twee dae.
Dit kan nie beter nie, flits dit deur my gedagtes toe die huurmotor ons na die stasie neem om die trein terug te haal. Dit is sterk skemer en ek is dankbaar dat ons nog voordat dit donker is, veilig op die trein gaan wees.
En wil jy nou meer. Die trein gaan ‘n volle uur laat wees!
Dis chaos op die stasie. Daar is niemand om te help nie. Ons weet nie op watter wa ons moet klim en of ons by die regte perron is nie. Nie ons of die paar honderd ander mense wat verward op die stasie rondstaan nie.
‘n Sekuriteitsbeampte beloof om uit te vind, maar raak weer aan die gesels met twee ander wat saam met haar op diens is in hul teekamer.
Teen die tyd dat die trein stop is my kinders honger en koud. ‘n Man kom staan by ‘n afgeleefde toonbank en almal drom soos skape om hom. Uiteindelik kry ons die inligting en ons stap vinnig na die wa net om weer in ons spore te stop toe ons sien in watter toestand ons akkommodasie is.
“Is jy seker dit is eersteklas?” vra ek bekommerd vir iemand op die trein wat lyk of hy veronderstel is om te weet.
“Ja,” kry ek onvriendelike en bot reaksie.
Dankbaar oor die baba lappies wat ek vir vuil handjies in my handsak het, begin ek en my ma, wie se kopee nog slegter lyk en ruik, ‘n poging aanwend om vir die kinders plekkies skoon te vee sodat hulle darem kan sit terwyl ons die res moet afwas. ‘n Pikswart lappie dui aan dat dit ‘n onbegonne taak gaan wees.
‘n Vroulike werker kom in die trein, wat nou al begin beweeg het, afgestap.
“Is hier dalk skoner akkommodasie?” vra ek bietjie angstig. Dis nie bietjie vuil nie. Dis ‘n varkhok. Oud is een ding, maar vuil en stukkend en iets heeltemal anders. Die ligte werk nie en die verwarmer het uitgebrand. Daar is nie warm water in die kraan nie en die vensters wil nie werk nie. Die blindings is so vol koffie spatsels en taai dat geen mens weet hoe om dit te benader nie.
Die boonste bergingsarea lyk asof dit as ‘n vullisdrom gebruik is. Die mat is vol sigaretgate gebrand en die bekleedsel van die sitplekke is geskeur.
“Die trein is vol,” antwoord die dame geïrriteerd.
“Bring dan asseblief vir my iets om hier skoon te maak,” probeer ek red wat te redde is.
Gewapen met ‘n vuil emmertjie, ‘n nog vuiler lap en twee druppels Handy Andy daag die dame na ‘n paar minute op. Ek kan sommer sien dat sy glad nie belangstel om iets aan die saak te doen nie en ek begin self die twee kamers uitwas. Van bo tot onder. Die water in die emmertjie is pikswart.
“Beddegoed?” vra nog ‘n werker wat lyk asof hy hoop ons antwoord nee.
“Ja, maak net asseblief seker dat dit skoon is.”
“Die goed word deur ‘n ander plek gewas. Ek haal net uit. Ek is nie verantwoordelik vir die toestand daarvoor nie.”
“Ons gaan nou eetwa toe. Sal jy dit asseblief opmaak terwyl ons daar is?” reageer ek met ‘n moedige poging tot selfbeheersings.
Ek moet erken ek weet nie of hy ja of nee geantwoord het nie, want hy het net weggestap. Na ‘n heerlike ete kom ons met half-deur-die-slaap kinders by ons kamers terug.
Geen beddegoed.
My ma stap die hele pad weer terug om te kyk of sy iets aan die saak kan doen, terwyl ek die kinders se nagklere aantrek.
‘n Ander werker daag uiteindelik op met opgebruikte beddegoed wat na rook ruik en vol sigaretgate gebrand is. Dis kussings is ook heeltemal oor hul vervaldatum.
Die res van my trein-leesboek moet maar wag vir die huis, want my leeslampie het ook uitgebrand. Ek sukkel om die ketik-ketik van die treinwiele te geniet deur my teleurstelling. Ek maak my oë toe en hoop dat die nag sal verbyvlieg sodat ek my kinders by die huis kan gaan bad. Twee word wakker met verdagte bytplekke.
Die volgende oggend breek genadiglik aan. Ons wag twintig minute vir ‘n tafel in die eetwa. Nog vyf en twintig vir enige vorm van bedienning en na aanleiding van die ander tafels se stadige diens besef ons dat ons nie sal kan ontbyt eet voordat ons by ons bestemming arriveer nie.
Op pad na Kimberley kon ek nie genoeg foto’s neem om vir almal wat vir terugvoering wag, te wys nie. Op pad terug besluit ek om nie een foto te neem nie. Net een kyk daarna sal my vir altyd afskrik om weer van treinvervoer in ons land gebruik te maak.
Ek kon seker dit as bewyse gebruik om my geld terug te eis, want daar bestaan geen twyfel dat dit onaanvaarbaar was nie. Dit voel vir my soos alles anders in ons land deesdae. Dit het die potensiaal om fantasties te wees, maar op die einde is dit ‘n totale teleurstelling.
Glo dit as jy wil. Ek het besluit om braaf te wees en weer so iets in die toekoms aan te pak. Jy kry nie treinry so maklik uit my uit geboelie nie. Ek gaan net seker maak dat ek heen en weer in die lekker trein ry! Sonder hoop is daar in elk geval seker niks om na uit te sien nie.
