- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Wetenskap gevestig ten spyte van kerk
deur Jurie van den Heever, Hans Pietersen
2012-01-07 02:47
Brandon van der Ventel se betoog (DB, 27.12) dat die moderne wetenskap eers onder ’n Christelike wêreldbeskouing begin floreer het, is oningelig en uit pas met die jongste navorsing.
Die Katolieke Kerk het die Weste van die 5de tot die 15de eeu oorheers en daar was geen wetenskaplike ontwaking nie. In die Bisantynse Ryk het die wetenskap ook nie sy kop gelig nie. Die Katolieke Kerk het dus nie in dié tyd “’n aktiewe rol gespeel in die bevordering van die wetenskap” nie.
Omdat die moderne wetenskap in ’n Westerse Christelike kultuur tot stand gekom het, volg dit nie outomaties dat eersgenoemde laasgenoemde veroorsaak het nie. Die historikus Richard Carrier wys daarop dat net omdat die grondleggers van die formele meetkunde politeïste was, dit nie beteken dat politeïsme die oorsaak daarvan was of dat meetkunde slegs deur politeïste gevestig kon word nie.
Wat gerieflikheidshalwe vergeet word, is die Katolieke Kerk se wurggreep op die samelewing. Dit het mense genoop om nuwe idees te formuleer asof dit tot die eer van God strek, anders kon hulle tot ketters verklaar word. Die Christelike wêreldbeeld is as bemarkingstrategie gebruik om nuwe bevindings aanvaarbaar te maak.
Die meer korrekte siening is dus dat die moderne wetenskap ten spyte van die Christendom gevestig is.
Jurie van den Heever, Hans Pietersen
Stellenbosch