- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Vrot kolle bly maar skrums en lynstane
deur Chris Theron
2012-02-07 00:00
’n Nuwe rugbyseisoen het begin, en ons sit met dieselfde vrot kolle as in al die vorige seisoene.
Die manier waarop geskrum moet word, is die oorsaak van die mislukking van skrums. Op bevel van die dirigent word ingestorm en stort die hele ou spul in duie omdat daar nie behoorlik vasgetrap kan word nie. En dan begin die sirkus van voor en moet die kyker dit aanskou, totdat iets gebeur sodat die bal bo kan uitkom.
Die enigste manier om te skrum is tog om seker te maak dat dit behoorlik gevorm is en dat goed vasgetrap word. Eers dan kan die dirigent die bevel gee dat die bal ingegooi kan word, en dan mag die pakke stoot.
Voorts moet die speler wat die duikslag uitvoer, wegrol. Gewoonlik maak die voorspelers ’n hoop bo-op hom ná die duikslag. Hoe de ongeluk kan hy wegrol?
Die verloop van ’n lynstaan laat weer dink aan ’n klomp miere wat hulle skielik op ’n warm plaat bevind.
In my dae het die lynstaan stil gestaan en het die ouens gespring vir die bal.
Nou word gewigstoot beoefen nadat die een of ander rekeningkundige instruksie uitgeskree is. As gevolg van die geraas van die skare kan die ou wat die bal moet vang, soms nie die kode hoor nie en beland die bal by verkeerde spelers.
Al hierdie dinge maak die spel onaantreklik, en die deskundiges wat die reëls moet opstel om dit uit te skakel, slaag nie.
Chris Theron
Darling