- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Navorsingsartikel in Tswana ’n inspirasie
deur G. Geldenhuys
2012-02-05 22:17
In die vaktydskrif van die Operasionele Navorsingsvereniging van Suid-Afrika, ORiON, word ’n verskeidenheid van artikels gepubliseer nadat dit deur eweknieë beoordeel is.
Die adviesraad van die tydskrif bestaan uit 13 kundiges, waarvan 11 in die buiteland is.
Daar verskyn gereeld artikels wat deur navorsers van oorsee bygedra word.
In die jongste uitgawe verskyn daar ’n artikel in Tswana, geskryf deur mnr. Tumo Baitshenyetsi, ’n nagraadse student, en proff. Giel Hattingh en Hennie Kruger, almal van die Noordwes-universiteit se Potchefstroom-kampus.
Die artikel gaan oor die toepasbaarheid van wiskundige metodes op die ontwerp van ’n oliepypleidingsnetwerk.
Sover ek weet, is dit die heel eerste keer in Suid-Afrika dat ’n artikel met wiskundige inhoud in ’n inheemse Afrika-taal gepubliseer word.
Die skrywers sowel as die redakteur van ORiON, prof. Stefan Visagie van die Universiteit Stellenbosch, moet gelukgewens word met hierdie baanbrekerswerk.
In die proses moes daar byvoorbeeld nuwe terme en terminologie in Tswana geskep word om die tegniese aspekte van die artikel te beskryf.
Daar moes voorts spesiale maatreëls getref word om die artikel te beoordeel en te verseker dat dit taalkundig goed versorg is.
Daar is ook gesorg vir ’n uitgebreide opsomming in Engels.
Mag die verskyning van hierdie artikel ’n inspirasie wees vir alle Suid-Afrikaanse wetenskaplikes wat graag hul navorsing in hul moedertaal wil publiseer, asook terselfdertyd wil bydra tot die ontwikkeling van hul vaktale.
G. Geldenhuys
Stellenbosch