- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KSUT-gebou soos konstruksieterrein
deur STOMGESLAAN, Parow
2011-10-10 16:15
Ek het Woensdag my kind by die Bellville-kampus van die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie gaan inskryf vir ’n kursus in siviele ingenieurswese, in die sogenaamde ABC-gebou (dit laat ’n mens wonder of dit die ingenieursgebou of die leer-lees-en-skryf-gebou is).
Die inskrywingsprosedure is pateties beplan. Die gebou waarin klasse op 31 Januarie moet begin, is nie naastenby gereed nie. Dit is ’n gehamer en gekap, met stof, sement, steierwerk en werkers oral. Van klasgee kan daar tog seker geen sprake wees nie. As professionele opvoedkundiges nie eens die veranderinge aan ’n gebou behoorlik kan skeduleer nie, hoe op aarde gaan hulle my kind ’n ingenieur maak?
Prof. Brian O’Connell, rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland, het onlangs gesê die UWK is voorheen die “boskollege” genoem (By, 15.01).
Ek wil hom nooi om sy buurman oorkant die pad te besoek, dan kan hy sien hoe ’n township-universiteit van tegnologie lyk.
Gebruik die dosente spesiale toilette? Indien wel, moet hulle die studentetoilette gaan besoek. Dis nie geskik vir menslike gebruik nie. Die hele plek is ’n konstruksieterrein. Hoe kan studente in dié gebou toegelaat word?
Ek oorweeg dit ernstig om my kind daar weg te neem voordat die geldelike skade en dalk selfs liggaamlike skade my duur te staan kom.
Miskien moet die fotograwe daar ’n draai gaan loop. Onthou tog net jul harde hoede!