- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Gevolge van onreg tref onskuldiges
deur Slagoffer
2012-02-02 00:00
Op die kampus van die Universiteit van Pretoria (UP) betoog ’n groepie intelligente wit Afrikaner-jongmense teen die feit dat hulle, ten spyte van uitstekende matriekuitslae, nie vir veeartsenykunde gekeur is nie.
Gekleurde studente wat moontlik laer punte het, het voorkeur gekry.
Gesigte word swartgesmeer uit protes teen so ’n kennelike onreg. Dit is ’n tragiese toneeltjie om te aanskou.
’n Mens wonder of hierdie opreg verontregte jongmense ooit die volle verhaal van die geskiedenis van die Afrikaners ken. Weet hulle van ’n tyd – skaars 30 tot 60 jaar gelede – toe die toneel omgekeerd was?
’n Tyd toe geen enkele swart mens in hierdie land die geringste kans gehad het om tot ’n “Afrikaanse” universiteit toegelaat te word nie – wat jou punte ook al was? ’n Tyd toe swart mense moes hoor dat dit vir hulle geen sin maak om selfs matriek te slaag nie, want wat sou hulle tog daarmee wou doen?
’n Tyd toe uit die hoogste raadsale van Suid-Afrika met swaarwigtige oortuiging verkondig is dat swartes slegs bestem is om “sekere soorte hande-arbeid” te verrig?
Die toneel by die UP is ’n tragedie. Tog is dit die gevolg van ’n vasberadenheid om, te midde van beperkte geriewe en bronne, reg te stel wat in daardie vervloë jare so skrikwekkend verkeerd was.
Dit is waar dat die groepie jongmense met die besmeerde gesigte dit nie verdien nie. Hulle is die slagoffers van die waansin van hul ouers en grootouers se geslagte.
Daardie ouer geslagte het sleg geluister toe elke Sondag in die kerk uit Eksodus 20 gelees is: “Die sondes van die vaders word besoek aan die kinders, selfs tot in die derde geslag van dié wat My haat...” (die ou vertaling van Eksodus 20:5).
Dade van onreg het gevolge – dikwels juis vir hulle wat dit glad nie verdien nie.
Slagoffer
Kaapstad