- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Dan sal antie kinders in Engels grootmaak
deur Ronald S. Dyers
2012-02-08 22:22
Nog ’n stryd het begin teen die regering, wat Afrikaans wil uitskryf volgens ’n beplande taalbeleid. Ons as Afrikaanssprekendes veg myns insiens verkeerd.
As AfriForum byvoorbeeld reken dat nog ’n sege-veldtog oor Afrikaans gevier kan word deur aksie wat as eensydig wit beskou word, of deur eensydige regsbedinging deur ’n oorheersende wit forum (wat as polities antagonisties beskou sou word), dan verstaan hy nie dat ons almal as wit, bruin en swart dit eerder moet doen om geloofwaardigheid in die stryd oor onse taal af te dwing nie. Jy kan die hofsaak wen, maar waar laat dit die liefde vir Afrikaans vir almal?
As die Afrikaanse Taalraad (ATR) al sy “blouoog”-laaities wil inspan om meester te probeer speel oor iets wat eintlik aan almal behoort, sal die skande van pretensie nog duideliker weerspieël word.
As die oorspronklike ontwerpers van die taal, en hulle wat dit steeds verder ontwerp, nie geken en as integrale deel van die oorlewing van Afrikaans gesien word nie, sal die taal van ons liefde modderige opdraandes teen uitputtende steil berghange beleef. Waar is die jonger bruin stemme binne die ATR of selfs opkomende populêre aksies soos Kullid, die rymkletsers, ensovoorts?
Wat sal Suid-Afrika sien en beleef as ons met die trant aanpoer wat ons dink ons op die snelweg vir pro-Afrikaans sal plaas? Soos in die dae van Jerobeam sal ons ’n vervalsing van die liefde vir Afrikaans probeer kweek. Ons sal tempels en altare bou – soos van die ATR en die Spelreëlskommissies. Ons sal feeste soos Jerobeam daarstel – soos die KKNK.
Terwyl nog nie almal begryp dat dit nie regtig is soos die tyd toe Afrikaans werklik almal s’n gewees het nie, sal dit aangehang word, totdat, net soos Jerobeam s’n, ons verdraaide en valse taal-koninkrykie ineenstort. Dan sal daardie antie wat eens so vir Afrikaans geveg het, eerder haar kinders in Engels grootmaak.
Ons skiet Afrikaans morsdood deur te dink dit behoort net aan een groep of aan een of twee grand organisasies.
Bevry ons eerste kultuurliefde. Laat dit baljaar en pret het met meer as die selfsugtige weg wat ons dink dit op moet gaan. Kom ons maak ons instellings en feeste opreg en so inklusief soos kan kom. Laat almal opreg deel daarin – in die koerante, oppie TV, innie radiostasies, oppie laaste grense van uitgewersmaatskappye. Dan sal ons taal lewe en kan ons rustig slaap.
Laat ons, soos onse jong laaities van vandag, vir mekaar “bra’s” wees en openlik saamwerk: bra’s in en vir onse eerste kultuurliefde – Afrikaans.
Ronald S. Dyers
Uitvoerende Voorsitter: South African Movement for Equality