- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Ateïsme in baie opsigte verlossend
deur Dennis Siebrits
2012-02-20 03:24
Dana Snyman se rubriek oor sy gesprek met ene Fanie verwys.
Ek is ’n volslae ateïs, nie ’n draadsitter nie, maar ’n oortuigde een.
Om ’n ateïs te wees, verlos ’n mens van die nodigheid om legendes en ander opkooksels te probeer gestalte gee, te verduidelik of te verdedig wat in elk geval onverdedigbaar is. Dit is nie vir my nodig om my lewe en optrede te baseer op die filosofieë van bygelowige mense wat in die Bronstydperk geleef het nie.
My morele optrede is losstaande en nie gebaseer op godsdiensgebonde dogma nie, wat byvoorbeeld steeds in ons tyd vroue as minderwaardig beskou.
In die tyd toe die Bybel geredigeer is, was daar ’n bespreking om te bepaal of vroue mense of diere is waar daar met ’n kortkop aangeneem is dat hulle wel kwalifiseer.
Ek sal nie my lewe baseer op ’n boek wat sê dat ek vir ’n geringe oortreding van die een of ander profeet se neerlegging vir ’n ewigheid verdoem kan word nie.
My gewete is genoeg om my te weerhou van immorele optrede; ek het nie ’n strafregtelike god nodig wat my gedurig nydiglik afloer nie.
Ek weier om ’n god te ondersteun wat klaaglik nalaat om weerloses en mense in nood te beskerm. Is dit nodig om voorbeelde te gee? Lees maar net Die Burger.
Nie te lank meer van vandag nie, sal ek my oë vir die laaste keer toemaak met totale gemoedsvrede. Daar wag nie vir my ongediertes en onaangename dinge “aan die ander kant” nie, want daar is geen ander kant nie. Dit is net opkooksels van dié wat hulself profete genoem het en wat ernstige sielkundige probleme gehad het.
Op die internet is daar enige aantal nuwe profete en verlossers wat voel dat hulle as ’n messias kwalifiseer. Hulle is meestal skadeloos.
Dennis Siebrits
Tygervallei