- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Afrikaans het min kans teen donderweer
deur Dosent
2012-02-09 00:00
In die media (ook in DB, 08.02) is wyd gerapporteer oor ’n studie van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge wat aandui dat meer as 60% van die skoolgaande jeug en hul ouers Engels as medium van onderrig verkies, al gebruik slegs 7% van hulle Engels as eerste of huistaal.
Dit bring opnuut ’n kern-aspek van die debat oor Afrikaans as onderrigtaal, ook en veral aan universiteite, na vore.
Die een kwessie wat diegene wat hulle so sterk beywer vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal aan, byvoorbeeld, die Universiteit Stellenbosch (US), steeds nie (wil) begryp nie, is die taalvoorkeur van diegene wat tans in die klasse sit. Verskeie dosente het die punt al meermale in die openbaar gestel: Ons kan so welwillend teenoor Afrikaans wees soos ons wil, maar die kragte wat druk vir Engels as onderrigtaal uit die studentegeledere self, is oorweldigend.
Ek gee net een voorbeeld. Toe klasse die afgelope week begin, vra ek my klas in watter taal hulle verkies om onderrig te word. Uit die sowat 90 studente het nie meer as 5 aangedui dat hulle Afrikaans verkies nie. Ek het die name en aangeduide huistaal daarna op die klaslys nagegaan. Dit is glad nie so dat die oorgrote meerderheid Engelse name het of Engels as huistaal aandui nie.
Ek is seker hulle praat in die normale omgang met hul vriende dikwels en soms by voorkeur Afrikaans. Maar die oomblik as hulle in ’n klas sit, verkies hulle Engels. Daar is eenvoudig die oorweldigende persepsie dat Engels die taal vir ernstige akademiese werk is en dat dit jou voorberei vir die werklike lewe buite die universiteit in Suid-Afrika.
Ons kan stry soveel ons wil, maar solank dié persepsie – wat ál sterker word – bestaan, sal Afrikaans as akademiese taal kwyn, ook aan die US.
Dosent
Stellenbosch