Toyota mik nou na titel in die Dakar-ren
2012-01-26 14:49
Johannesburg. - Noudat Toyota met ’n derde plek in vanjaar se Dakar-ren sy intensies duidelik gemaak het, is die vet in die vuur.
Dis tyd om groter te dink.
’n Uitputtende Suid-Afrikaanse spanpoging onder leiding van Glyn Hall het Toyota gebring waar hy wou wees – ’n plek op die podium. Die volgende fase behels die Dakar-titel – niks minder nie. En dit vereis groter bedrywigheid met meer geld.
Dis die afleiding wat ’n mens kan maak nadat jy die einde van 2012 se ren in Peru saam met Toyota SA bygewoon het.
“Dit gebeur nie sommer dat ’n vervaardiger met sy eerste probeerslag op die podium beland nie,” het Giniel de Villiers van sy eerste poging in ’n Hilux gesê.
Hy het 1 uur 13 minute en 25 sekondes agter Stéphane Peterhansel (Mini) geëindig.
“Volgende jaar verander die reëls (ten gunste van die Hilux); dus gaan dit ’n groot stryd wees. Daar is geen twyfel nie: Volgende jaar wil ons wen.
“Die Hilux kan nog vinniger. Daar is baie dinge waaraan aandag gegee moet word, soos meer veselglas. Ek het nie altyd die Hilux te hard gery nie. Ons kan beter, maar die eise gaan ook net groter word.”
Uiteindelik was dit La Ruta de Condor, die Peruviaanse deel van die Dakar, wat De Villiers die meeste beïndruk het.
“Peru was beslis moeiliker as wat enigiemand verwag het. Die duine was die moeilikste – skerper en sagter. Hulle vang jou maklik uit. Peru se sneldele het my aan Mauritanië laat dink. Dit was baie goed vir die Dakar. Dis ’n goeie idee om die Dakar in Peru te begin. Ons het al so baie in Argentinië begin; ’n nuwe wegspringplek sal ’n nuwe roete skep.”
Op die vraag of daar spesifieke dae in die ren was waarop hy regtig bekommerd oor iets was, het Hall met ’n glimlag gesê: “Elke dag.”
Wat hom nou bekommer, is die toekoms. “Ons het dinge eintlik té maklik laat lyk met ons derde plek.”
- Suid-Afrika se ander suksesvolle jaers op vier wiele was Duncan Vos in ’n tweede Hilux (11de, +7:08:31) en Mark Corbett (24ste, +18:57:29), wat in sy Century Buggy tweede in die klas vir tweewielaangedrewe voertuie was.
Meer as die helfte van die 164 motors het uitgeval.
Corbett en sy navigator, Francois Jordaan, het saamgestem dat die CR4 hom baie knap in die sand gedra het.
“Die fesh-fesh (sagte stofsand) was erg,” het Jordaan gesê. “Jy moes slim ry wanneer jy die duinvelde in is, want jaers om jou kan dit baie moeilik vir jou maak. Omdat tweewielaangedrewe motors interne wielpompe mag gebruik, het ons gereeld ons bande tot 0.6?bar afgeblaas, en soms sommer heeltemal.”