Merc se SL ’n aluminium-vuurwa
2012-01-26 14:49
Kaapstad
’n Bietjie breër en ’n bietjie langer, maar, die belangrikste van alles, sommer heelwat ligter. Jip, dit is Mercedes se jongste rykmanspeelding, die vierdegeslag-SL, wat pas sy eerste treë in die openbaar gegee het.
Sommer met die eerste oogopslag is dit duidelik dat die vervaardiger se SLS-supermotor die maatstaf is vir al die ander vuurwaens in Sindelfingen se stal wat hul voorkoms betref.
Eers het die klein SLK dieselfde regop sierrooster en luginlate met die visier-ontwerp van die fris SLS gekry. Nou doen Merc dieselfde met sy 911-mededinger, die SL.
Al die lyne is heel vertikaal en geaksentueer met skerp kepe, maar in die geheel werk die voorkoms.
Hoewel die bakwerk 50?mm langer en 57?mm breër geword het, het Mercedes dit reggekry om sy algehele gewig met ’n gesonde 140?kg ligter te maak.
Die geheim is dat die nuwe SL die eerste Benz is waarvan die bakwerk grootliks (Mercedes sê 89%) uit aluminium bestaan. Die vervaardiger sê hoewel die aluminium ligter is, is dit ook wringstewiger – ’n aspek wat baie belangrik is vir ’n oopdak-speelding. Dit help ook met die beheer van vibrasies in die binneruim as jy oor ’n knopperige pad ry.
Net soos sy direkte voorganger het dié SL ’n wegvoubare metaaldak. In die nuwe weergawe kan ’n mens egter een van drie dak-variante kies.
Eerstens kan jy die gewone metaaldak afmerk, of jy kan ’n dakkie kies waarvan die paneel reg bo jou kop uit glas bestaan. En derdens is daar ’n weergawe waar dié glaspaneel bo jou bles met die druk van ’n knoppie donkerder kan tint. Elektro-chromaties, noem die witjasse dit en sê dit werk op dieselfde beginsel as mense wie se brillense donkerder kan verkleur.
Die SL sal standaard met ’n driefase-ritverstelling beskikbaar wees (die skokbrekers se fermheid kan verstel word vir ’n sagte of ’n ferm, sportiewe rit). Opsioneel is ook ’n aktiewe veringstelsel wat jou demper-fermheid deurentyd monitor en dit self harder of sagter kan verstel.
Onder die enjinkap skuil een van twee enjins. In die SL350 kry jy die bekende 3,5?liter-V6 (petrol) wat deesdae ’n gesonde 225?kW en 370?Nm wringkrag lewer.
Die frisser gemaakte SL500 se ou 5,5?liter-V8 (285?kW, 530?Nm) word egter nou vervang deur die vervaardiger se nuwe 4,6?liter-V8 wat met twee turbo’s toegerus is. Dis dieselfde enjin as die een wat in die nuwe E63 AMG ingespan word. Die kragsyfers (320?kW en 700?Nm) is merkbaar beter, sonder om verbruik in te boet.
Enkele verrigtingsyfers wys ook waartoe die twee kêrels in staat is. Die SL350 versnel in 5.9?sekondes van stilstaande tot 100?km/h, terwyl hy ’n ongelooflike verbruik van net 6,8?liter per 100?km het. As jy haastiger is, is dit goed om te weet dat die SL500 in net 4.6?sekondes tot 100?km/h kan versnel.
Net weer iets oor daardie dak. Deur die meganiese dele grootliks uit aluminium te bou, is die dakmeganisme nou 6?kg ligter as die ou staalmodel. Behalwe dat jy kilo’s spaar, spaar jy dit op die regte plek om die buks ’n lae swaartekragpunt te bied.
Die dak kan in 20?sekondes oopgeslaan word.
Goed, dis als die tegniese syfers, maar as jy eerder jou SL nader trek net omdat jy van sy tegno-truuks hou, is daar steeds goeie nuus. Die witjasse het die hol ruimtes voor by die voetenent van die aluminiumraam só ingespan dat dit as leë kaste vir die radio se basklanke gebruik word.
’n Ander nuutjie is die ruitveërs wat nou ’n oopdak-funksie het. Dit sal, outomaties, ’n sagter straal water spuit as jou dak oop is en jy wil gou jou voorruit skoon was. Anders beland al die water in jou gesig as dit te hard gespuit word.
En laastens is daar die hande-vol-winkelsakke-truuk. Om die bagasiebak oop te maak terwyl jou hande vol winkelsakke is, hoef jy net jou voet onder die agterste buffer te waai en woeps! spring die bak oop.
Die nuwe SL behoort later vanjaar sy weg na Suid-Afrika se paaie te vind.