Jetta is gesinsmotor wat vonkproppe laat wikkel
2012-01-26 14:49
Kaapstad. - Moet sê, ek was nogal opgewonde toe Volkswagen sy nuwe Jetta hier by ons kom aflaai het.
Sedert ek die knaap in September leer ken het, was dit ’n gesinsryding wat my vonkproppe laat wikkel het.
Die ding is, die Jetta pas perfek in as ’n jong gesin se alledaagse wiele. Hy’t net die regte grootte vir ’n gesin van vier, plus nog ’n groot bagasiebak. En dan het hy ’n paar goeie enjins en ratkaste om uit te kies. Wat als beteken hy is ’n goeie Jacques Kallis van die pad: taamlik sag op die oog, meganies puik en wat ry-ervaring betref amper soos bikini’s kyk op Clifton. Amper, nè.
Voorkoms
Volkswagen sê hy’t sy sesde geslag Jetta van nuuts af ontwerp. Dit wil sê hy’t nie die bestaande Golf geneem en net ’n bagasiebak agter aangeplak nie. Als is glo nuut oorgedoen.
Hoe waar dit is, is seker debatteerbaar. Maar ek hou van hoe hy lyk. Dis meer ’n mooi, klassieke sedan-voorkoms sonder om oudmodies of stomp te lyk.
Dit vermy ook die slaggat van al hoe meer sedans om daardie geronde, omgedraaide-piesang-op-wiele beeld te skep.
In sy klassieke ontwerp is hy eintlik vars!
Binneruim
My toetsmodel was die 1.6 TDI- handrat, wat beteken het hy’s nie so deftig uitgerus soos van sy stalmaats nie. Terloops, aanvanklik het ek vir die topmodel 2.0 TDI gevra, wat onder meer met ’n sewegang- outomatiese DSG-ratkas en leersitplekke spog.
Die goedkoper een-punt-ses is egter dalk meer in die breë samelewing se visier. Dus: Dalk was my ryding se materiaalbekleedsel ’n bietjie koddig, maar fisiek gesproke was die ruimte steeds heel gaaf.
Agter kan twee volwassenes of drie kinders gemaklik sit, die bagasieruim sluk ’n hele paar groot tasse in, en agter die stuur sit jy sommer gou gemaklik.
Die armrus tussen die voorste twee sitplekke, wat met ’n ligte materiaal beklee is, het wel gou begin vuil smeer. Daarom sal ek altyd leerbekleedsel verkies.
Die instrumente is maar generiese VW-skakelaars en wysers. Niks opwindends nie, maar prakties en dit werk als maklik danksy groot skakelaars en breë analoog-wysers.
Enjin
’n Verrassing was die woeligheid van die klein turbodiesel-oond.
Ek was maar skepties oor die Polo se enjintjie (1,6 liter, 77 kW, 250 Nm) in die groter en swaarder Jetta. Maar kwit, draf die klong lekker op die pad.
Jy het nou wel net ’n vyfgang- handratkas om mee te speel, wat vir my simpel was omdat jy nou met la-a-ang ratte gesit het. Maar sodra die turbo aan’t tol is (so naby 2 000 r/min. in elke rat), kan jy maar ontspan. Dan trek die Jetta soos ’n salaristjek na ’n pizza-restaurant toe. Gewillig en haastig.
Hoewel ek hom met tye hard geroer het met die versnelling tussen verkeersligte, het hy my steeds ’n puik verbruik van net 5,3 liter per 100 km gegee. Met so ’n groot lyf? Dit wil gedoen wees.
Een klagte is rêrig die vyfgang-ratkas – as ’n mens net ’n sesgang kon gekies het. Bygesê, vir R16 000 ekstra kan jy wel die heerlike DSG-ratkas aanskaf, maar daar is niks (ratkaste) tussenin nie.
Rit
As jy onlangs met ’n VW-produk gery het, sal jy hul handratmodelle se skakelaksie ken.
’n Lekker kort oorgooi, en ’n vinnige haak-aksie sonder dat hy te los en rubberig voel (soos ’n Peugeot of ’n Renault). Ek hou hiervan.
Die enjin was altyd lewendig, mits jy hom bokant tweeduisend toere hou.
Die frisser tweeliter-turbodiesel is gewis die eerste keuse, danksy sy nog beter krag en beter ratkas, maar daarvoor betaal jy ’n taamlike premie.
Soos die Golf is die Jetta ook lekker stil in die kajuit, maar daar is ’n bietjie van die Golf se aura van weelde wat weg is. Jy kry beslis meer van ’n gesinsmotorgevoel as jy in die Jetta klim.
Slotsom
Noudat die Corolla al ’n bietjie lank in die tand is, en die Astra net in luikrugformaat te koop is, is dit eintlik net die Hyundai Elantra (met sy mooi, moderne voorkoms) wat in die Jetta se klas boks. Of die goedkoper Chev Cruze en ’n buitestaander soos die Volvo S40.
Die Jetta gaan op elke gebied wen, want meganies is hy net so goed en klasleidend. Sy mededingers is óf luikrugmotors, óf hul tegnologie is nie so gevorderd soos wat die Jetta bied nie. En jy het die rugsteun van ’n groot plaaslike handelaarsnetwerk. Die Jetta kry my kopknik as die beste gesinsmotor vandag, en hopelik maak hy dit ook as SA se motor van die jaar.