Lelike kar op één manier mooi
2012-02-02 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op

Vanjaar kan maklik bekend word as die jaar van die lelike eendjie.
Verlede week het Caterham (voorheen bekend as Lotus) F1-ondersteuners ’n blik gegee op wat wag toe hy sy CT01 bekend gestel het.
Die treffendste deel van die ontwerp was die plat, reguit, eendbekagtige voorkoms van die neusgedeelte voor die voorwiele wat mense dit onmiddellik ’n “platypus”-neus laat doop het.
Ek dink ons bly hier maar by eendbek-neus…
Die eendbek-Caterham sou waarskynlik as ’n koddige uitsondering afgemaak gewees het, was dit nie vir die feit dat dié ontwerp regstreeks die gevolg van ’n obskure nuwe bepaling in die tegniese regulasies vir hierdie seisoen is nie.
Dit word wyd verwag dat dié regulasie daartoe sal lei dat die meeste 2012-motors, indien nie almal nie, dieselfde kenmerk toon.
Later hierdie week sal ons bevestiging na die een of ander kant toe hê, want McLaren het gister (ná druktyd vir hierdie rubriek) sy nuwe MP4-27 aan die wêreld gewys, terwyl Ferrari, Force India en Lotus (voorheen bekend as Renault) dit teen Sondag sal doen.
Waar kom hierdie nuwe regulasie vandaan?
F1-ontwerpers weet lankal ’n hoë, plat neus hou groot aërodinamiese voordele in omdat dit “skoon” lugvloei na die pens-en- stertgedeelte van die motor verseker.
Sedert die dae van die lugvloeier (“diffuser”), wat meer afwaartse drukkrag (“downforce”) agter lewer hoe skoner die lugvloei daardeur is, het F1-motors se neus hoër en platter begin word.
Só ’n neus, gekoppel aan die minimum hoogte van die neusvlerk, het ook ’n groter hefboomeffek aan die voorkant van die motor, wat verdere aërodinamiese voordele inhou.
Die FIA, wêreldbeheerliggaam van F1, het dié ontwikkeling met kommer dopgehou, want dit kon veiligheidsrisiko’s inhou.
In ’n T-beenbotsing kon die jaer in die motor wat getref word ernstige beserings opdoen en die FIA het besluit om die maksimum hoogte van die neusgedeelte te verlaag.
Die neus mag van vanjaar net 55 cm bo die grond wees, maar dit geld net die gedeelte voor die “vooras” (’n F1-motor het nie ’n vooras nie; dit is net ’n denkbeeldige verwysingspunt).
Die gedeelte tussen die “vooras” en die kajuit mag steeds 62,5 cm bo die grond wees (streng gesproke is dit ook nie die “grond” nie, maar nog ’n denkbeeldige lyn bo die “grond”).
As voorkoms belangrik was sou ontwerpers vanjaar waarskynlik op ’n meer geleidelike oorgang tussen die middel- en die neusgedeelte besluit het.
In F1 volg voorkoms baie ver ná funksie en indien enige nuwe motor vanjaar wel so ’n meer geleidelike oorgang toon, sal dit wees omdat die aërodinamici ’n goeie rede daarvoor gevind het en nie omdat hulle ’n “mooier” motor wou gehad het nie.
Dit is ’n bekende gesegde in motorsportkringe dat ’n “lelike”, maar vinnige motor sommer gou ’n “mooi” motor word en ’n “mooi”, maar stadige motor sommer gou ’n “lelike” motor.
Dit sal vanjaar interessant wees om te sien watter lelike eendjie uiteindelik in ’n swaan verander.
) Verwoerd is ’n onafhanklike F1-kenner en geakkrediteerde F1-joernalis.
Sy rubriek word op uitnodiging geskryf.
Om met die skrywer in verbinding te tree of vir inligting oor ander dienste wat hy lewer, besoek sy webwerf by www.hendrikverwoerd.co.za.
Volg hom ook op Facebook (facebook.com/hendrik.verwoerd1) en Twitter (@verwoerdf1).
