’n B(r)ak wat netjies pas
2012-01-25 06:00
Troeteldiere is nie bloot beste vriende of deel van die gesin nie, maar baie keer ook ’n verlenging van ’n mens se eie karakter en leefstyl.
Rugbytruitjies, glinsterende halsbande, omgewingsvriendelike speelgoed, organiese kos of dekoratiewe dieremeubels sê tog iets van ’n eienaar se geaardheid.
BAKKE EN BRAKKE
Carien Kruger, ’n joernalis van Pretoria, sê sy stem heeltemal daarmee saam.
“Ek en Helenus, my man wat ’n fotograaf is, is albei ingestel op vorm, kleur en mooi goed.
“Daarom het ons Skotse terriërs gekies vanweë hulle astrante en kordate voorkoms met hul spits oortjies en in die lug-stertjies en lewendige persoonlikhede.”
Hul twee hondekinders Syrah en Teran is na die rooiwyn en die Sloweense rooiwyn onderskeidelik genoem.
Kruger sê hulle het nie die vryheid om baie geld op fieterjasies vir die honde te bestee nie omdat hulle wild is en alles stukkend byt of mekaar aan hul mooi jassies sal rondsleep, maar hulle bestee graag geld aan hul gesondheid en ’n goeie hondehotel as hulle nie saam op vakansie kan gaan nie.
Die Krugers se ingesteldheid op ontwerp het ook daartoe gelei dat hulle ’n verskeidenheid dekorartikels in hul huis het waarop dié diertjies pryk.
Volgende op haar lys? Barkybark-hondebakke in gietyster-staanders en emaljebakkies wat by hul ou huis en groot kuierstoep sal pas.
“Ek begeer Barkybark se produkte en dink dit sal, anders as die plastiekbak wat hulle verrinneweer het, teen hondetande bestand wees.”
Claire Wager, die mede-eienaar van Barkybark in Durban, sê die meeste kopers hou juis van die idee dat dit ’n stylvolle stuk is wat soos ’n huisware- of dekorproduk lyk.
“Ons wil ’n bietjie meer styl aan daai ruimte van die huis bring wat gewoonlik besaai is met plastiek- of vlekvrye staalbakke.”
Wager lê selfs die inspirasie vir Barkybark reg voor die pote van haar geliefde Maya, ’n kolliehond gekruis met ’n windhond, ’n belangstelling in metaalwerk en voorliefde vir Franse meubels.
“Waarom moes Maya uit ’n plastiekbak eerder as in elegante styl eet?”
STYLVOL UITGEVAT
Angie Kemp van Hartbeespoortdam se worshond, Rose, het haar in 2007 geïnspireer om Doggie Hillfigher, ’n eksklusiewe hondereeks, te begin.
Sy sê dié produkte is definitief ’n verlengstuk van die eienaar en veral vir mense wat van mode en mooi goed hou.
“As jy soos ons voel dat jou troeteldier eerder jou kind as die hond is, dan word mooilyk deel van die roetine!”
Hul couture-produkte strek van klere, halsbande, reënjasse, reddingsbaadjies en skoene tot ontwerperbeddens wat daarop gemik is om stylvolle leefstyldekor in die huis te komplementeer.
“Doggie Hillfigher se ontwerpe is geskik vir alle diererasse,” sê Kemp. “Groter diere wat grootliks buite leef sal eerder ons halsbande as couture dra, maar ons het al vir Deense honde eenmalige ontwerpe gemaak.”
JY IS WAT JY EET
Dis nie net ’n eienaar se styl of belange wat ’n invloed op hul troeteldierkopies het nie, maar ook hoe hulle oor kwessies soos gesondheid dink.
Vir Helene Swart van Raw Love, ’n gesonde en organiese alternatief tot droë vervaardigde troeteldierkosse, in Kaapstad spreek dit boekdele.
“Sommige van my klante is fanaties oor gesondheid en ander is bloot sorgsame ‘ouers’ wat net hul diere die beste sorg wil gee.”
Raw Love-produkte bestaan uit ’n verskeidenheid vars vrugte en groente en produkte van vrylopende diere, in die korrekte hoeveelhede wat diere se natuurlike diëte weerspieël.
“Ons diere het geen beheer oor wat hulle gevoer word nie, maar ons het.
“Baie eienaars begin hul troeteldiere dié kos voer omdat hulle siek is, maar sodra hulle van die langtermynvoordele bewus word en die resultate sien, word dit ’n leefwyse,” sê Swart wat in ’n holistiese benadering glo.
Volgens Swart het die mark vir sulke produkte in Suid-Afrika ook baie in die laaste twee tot drie jaar gegroei soos wat mense soek na alternatiewe en gesonder leefstyle.
Swart verduidelik dat die droë kos van mielies, graan en afgeleide vleis (nie regte vleis nie) gemaak word, wat soos geprosesseerde kos propvol preserveermiddels en suiker is.
- Kry meer inligting oor dié produkte deur dié webtuistes te besoek:
www.barkybark.co.za
www.doggiehillfigher.co.za of
www.rawlovepets.co.za.

Angie Kemp en Slash, een van haar dierekinders wat gereeld model vir haar Doggie Hillfigher-reeks speel. Foto: Cellar Door

Diegene wat graag in die aand gaan stap of net van tegno-speelgoed hou, kan ’n Nite Dawg LED-verligte hals- en leiband van The Gadget Shop (www.thegadgetshop.co.za) aanskaf.

Laat jou troeteldiere in styl eet met een van die Barkybark se Frans-geïnspireerde voerbakke.

Raw Love bied ’n verskeidenheid organiese, rou dierekos vir honde en katte.