Waai jou arm en die kanaal verander
2012-01-25 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op

Die wêreld se grootste katoeterfees, die internasionale Consumer Electronics Show (CES), het verlede week in Los Angeles geëindig en oudergewoonte was ek nie daar nie.
(Enigeen wat my wil borg vir volgende jaar kan nou reeds aansoek doen om keuring.)
Die amptelike wenner van die skou se beste gadget was ’n 140cm-televisiestel van LG wat slegs 4mm dik is en skermtegnologie gebruik wat as organiese ligstralende diodes (Oled) bekend is. Oled benodig geen tru-beligting nie en gee beter kleurkontras as ander platskerm-tegnologie. Dit is ook aangewys as die skou se beste TV.
Maar daar was heel moontlik ’n interessanter prototipe-TV op die skou te sien: een met Samsung se weergawe van dieselfde soort tegnologie. Dis effens dikker as die LG, maar bied ook allerhande goeters wat selfs die blekeres van gees opgewonde sal maak, soos ’n ingeboude kamera en mikrofoon wat jou handgebare en stem waarneem sodat jy sodoende die TV kan beheer. Dit bou voort op die soort interaktiewe kontroles wat deur onder andere Nintendo se Wii-konsole gewild gemaak is.
Omdat die duurder Samsung-TV’s deesdae internetverbinding bied danksy sy Smart Hub-stelsel, sal jy ook ’n Skype-app kan aflaai en jou televisie gebruik vir video-oproepe (dis nou in lande wat behoorlike internetspoed bied en dus nie Suid-Afrika nie).
Van die duurder modelle sal selfs beskikbaar wees met gesigherkenningstegnologie. Dit beteken teoreties elke lid van jou huishouding kan sy of haar eie Smart Hub-rekening hê en dit aktiveer deur eenvoudig voor die TV te gaan staan. (En jy’t gedink die huidige gestry oor wie die afstandbeheer vashou was erg...)
Om jou TV se menu’s met ’n gewaai van die arms te beheer klink na ’n belowende idee, maar ek wonder of dinge nie handuit gaan ruk (letterlik) as ’n klompie mense byvoorbeeld op ’n Saterdagmiddag saam rugby kyk nie. Hopelik sal die TV nie oorskakel na die origami-kanaal elke keer as Kosie ’n drie sien kom nie.
Nog ’n CES-treffer wat dié soort tegnologie inspan, was die vrolik benaamde Chaotic Moons Board of Awesomeness, ’n gemotoriseerde skaatsplank met ’n topspoed van meer as 50km/h. Dit gebruik Microsoft se Kinect-sagteware (afkomstig uit die Xbox-konsole) en ’n Windows 8-tabletrekenaar sodat jy jou hand kan gebruik om die bord se spoed te beheer.
Die Board of Awesomeness gaan vir eers nie kommersieel vervaardig word nie.
Dis dalk beter so, want die ding het nie remme nie – wat waarskynlik op sigself tot ’n paar fassinerende handgebare sou kon lei.

LG se Oled-TV, wat aangewys is as die beste gadget by vanjaar se CES in Kalifornië.