Sit chaos op sy plek
2012-01-09 21:53
Dit is nóú die tyd om jou huis en lewe reg te ruk vir die jaar wat voorlê, skryf Carla van Niekerk.
Geen verskonings meer nie; om georganiseerd te wees is ’n aangeleerde vaardigheid.
“Met ’n bietjie moeite, toewyding en oefening kan enigiemand enige tyd kies om meer georganiseerd te wees (of minder, as hulle dit verkies),” sê me. Leanne Host, ’n professionele organiseerder en produktiwiteitskonsultant van Get Organised.
Host sê ’n mens se lewe en ruimtes raak ongeorganiseerd en vol onnodige goed namate jou behoeftes verander.
“Regdeur ons lewe gaar ons dinge om ons op. Namate ons groei, verander ons behoeftes en die dinge wat ons om ons wil hê of nodig het.”
Die ideaal is dat ’n mens skoonmaak soos jy vorder, sê Host. “Wanneer ’n baba al ’n kleuter is, moet jy ontslae raak van die onnodige babagoed.
Dié proses volg ons regdeur die lewe.”
Leef lig
Me. Kate Emmerson, Johannesburgse leefstylafrigter, sê wanneer jy dinge eenvoudig hou en nie jou tyd, energie of breinkrag moet vermors om alewig na goed te soek nie, sal jy bemagtig voel en jou lewe voluit kan leef.
“’n Warboel hou jou vasgevang in die verlede en verhinder jou om 100% teenwoordig te wees. Ons almal gaar om verskeie redes op.
Dit maak nie saak wat jou redes is nie, die een of ander tyd sal jy dit uit jou lewe moet skuif of met die negatiewe gevolge moet saamleef.”
Dokumente is die grootste sondaar.
“Klere is ook ’n algemene oorsaak. Ons is geneig om net sowat 25% van die klere in ons klerekaste te dra.
“Byna enigiets kan in warboel ontaard. ’n Versameling van iets kan goed begin, maar uiteindelik in ’n warboel verander as dit jou ruimte en lewe begin oorneem.”
Die ondoeltreffende gebruik van tyd en om take nie te prioritiseer nie is ook ’n algemene verskynsel, sê Host.
Baie mense weet egter nie waar om te begin wanneer hulle orde wil skep nie.
“Begin op enige plek, begin net. Of kies die boonste, linkerkantse hoek,” sê Host.
“Mense sukkel om te besluit wat om te hou en van ontslae te raak. Soms is dit om sentimentele redes of dalk weet hulle nie watter dokumente om te hou nie.”
Pluk die vrugte
Host sê ’n goedgeorganiseerde en warboelvrye ruimte sal jou tyd en geld bespaar. Jy sal nie meer nuwe goed koop omdat jy nie jou eie goed kan opspoor nie.
“In ’n onderneming is dit noodsaaklik. Die ondoeltreffende en onproduktiewe gebruik van tyd en ruimte het ’n direkte impak op die bottom line.”
Goeie organisasie verlaag stresvlakke, voeg Host by.
“As jy kan kry wat jy nodig het wanneer jy dit nodig het, kan jy op kernaspekte fokus.”
Emmerson sê jy kan van ou emosionele bagasie ontslae raak deur die warboel te orden en van goed ontslae te raak.
“Los die skaamte en verleentheid en voel in beheer van jou lewe – leef lig.”
Besoek www.getorganised. co.za of www.kate-emmerson.com vir meer inligting. Laai ook Clutter 101, Emmerson se gratis e-boek, op haar Facebook-blad af.
Orde in die kinderkamer
Volg dié wenk van Host:
Kinders het baie pakplek nodig. Koop meubels wat ook as bêreplek kan dien.
Gebruik deursigtige houers en verwyder die deksels sodat hul maklik by die speelgoed kan uitkom.
Identifiseer houers vir spesifieke kategorieë, soos aksiehelde, skoolskryfbehoeftes, afvalpapier, poppe en karretjies.
Verdeel kamers in areas om uitpak en wegpak te vergemaklik. ’n Slaaparea moet byvoorbeeld kalm, rustig en warboelvry wees terwyl ’n leesarea gemaklike sitplek, genoeg lig en ’n boekrak moet hê.
Gebruik die muurspasie en bring genoeg rakke aan waarop jou kinders hul boeke, spesiale speelgoed en aandenkings kan uitstal.
Gebruik hake om hoede, sambrele, sakke en baadjies aan op te hang.
Stal hul kunswerke op ’n aansteekbord uit.
Gebruik etikette. Afhangend van jou kind se ouderdom, gebruik prentjies, kleure, vorms of woorde om soveel moontlik etikette aan te bring. Dit help om goed te vind en met die opruimproses.
Raad vir ouers
Organiseer: Dit sal help om stres te verminder, stelsels in plek te stel en tyd te bespaar. Kinders leer deur jou voorbeeld, leer hulle dus die vaardigheid van organisering deur self so te leef.
Raak ontslae van ’n warboel: Hou slegs items wat jy nodig het, gebruik of lief is voor – alles anders is oorbodig.
Kry hulp: Huur ’n professionele organiseerder om jou te help om dinge te vereenvoudig en stelsels in plek te stel.
Vereenvoudig: Pak soortgelyke take saam aan en moenie jou dagboek vol prop nie.
Raad en wenke
Emmerson se raad vir warboelvrye ruimtes:
Elke vertrek het ’n hoof- funksie. In jou slaapkamer slaap jy. Dit is nie ’n stortingsterrein vir alles en nog wat nie. Behou net wat nodig is vir die vertrek se funksie;
Elke ding in jou huis moet ’n bêreplek hê en almal wat in die huis woon, moet weet waar dit is;
Bêre soortgelyke goed saam, soos troeteldier-artikels geskenkpapier, kaartjies en kleefband;
Gebruik plastiek-, hout- of rottanghouers om soortgelyke artikels by mekaar te hou;
Dit maak nie saak hoeveel goed jy het nie, maar of jy weet waar dit is en dit binne 30 sekondes kan vind;
Leer personeellede jou reëls, stelsels en bêreplekke en laat hulle daarby hou; en
Verwag van kinders om hul goed in hul kamers te bêre.
-POLS-