Pols: Op die pad ná eerste huwelik
2012-01-31 21:56
Mans kies dikwels vinnig weer koers kansel toe ná die verlies van ’n huweliksmaat terwyl heelwat vroue verkies om nie iemand anders se mevrou te word nie. Karla Janse van Vuuren het met kenners hieroor gesels.
‘Ek het net geweet ek sal nie op my eie regkom nie.”
Pieter* (42) was 29 jaar oud toe sy eerste vrou tydens ’n noodkeisersnee dood is.
Hy was oornag ’n wewenaar met ’n tweejarige seun en ’n vroeggebore baba wat die eerste 64 dae van sy lewe in die hoësorgeenheid deurgebring het.
Later het dokters Pieter ook meegedeel dat die seuntjie blind is vanweë geboortekomplikasies.
“Ek het ná my vrou se dood nie geweet watter kant toe nie. Sy het ons lewe gerun. Ek het nie eens geweet watter doeke om vir my tweejarige te gaan koop nie.”
Pieter het sy vrou in Julie verloor en in Oktober daardie jaar sy huidige vrou ontmoet.
“Ek was by ’n werkonthaal en het letterlik in haar vasgeloop. Ek het haar in die oë gekyk en geweet dié vrou wil ek weer sien.”
Hulle is September die volgende jaar getroud, want, sê Pieter, sy nuwe vrou wou hê dat “al die eerstes” eers verbygaan.
“Die eerste Kersfees, verjaardae en herdenking van haar dood moes eers kom en gaan en my nuwe vrou is saam met my deur die rouproses.”
Sy nuwe vrou het haar huweliksbeloftes verander om haar ook te verbind tot Pieter se kinders. Vandag het hulle ook ’n driejarige seuntjie.
Gou weer voor die kansel
“ ’n Mens is nie gemaak om alleen te wees nie. Mans wat voorheen getroud was, weet wat hulle mis as hulle hul vrou verloor en daarom staan hulle dikwels gou weer voor die kansel.
“ ’n Mens moet ook nie die fisieke buite rekening laat nie – veral die ouer geslag glo ’n mens kan net in die huwelik seks hê,” meen me. Elmari Mulder-Craig, seksuoloog en verhoudingsterapeut.
“’n Man moet egter selfondersoek instel en mooi dink oor die redes vir die huwelik. As hy iemand soek om vir hom te kook en hom te versorg, moet hy eerder ’n huishoud-
ster aanstel. Dit is belangrik om die rouproses te voltooi, anders gaan jy met onnodige bagasie in ’n nuwe huwelik in.”
Dr. Adele Romanis, ’n kliniese sielkundige, sê ’n man moenie verwag dat sy nuwe vrou sy eerste vrou se skoene sal vol staan nie.
“Dit is onregverdig. Sy is ’n individu en die verhouding wat jy met haar gaan hê, gaan anders en uniek wees.”
Die belangrikste is om oop en eerlik met mekaar te kommunikeer en, indien toepaslik, met die kinders, sê Mulder-Craig.
“Jy moet die ander persoon regtig goed leer ken en niks oorhaastig doen nie.
“Daar is natuurlik ook vroue wat gou weer trou, dikwels vir sekerheid en geborgenheid.”
Pieter sê sy nuwe vrou het iets binne-in hom wat hy gedink het dood is, weer laat vlam vat.
“Dit is eenvoudig, ’n man het ’n vrou nodig.”
Alleen tot die einde?
“Dit hang af van die individu, maar daar is ’n duidelik identifiseerbare tendens dat heelwat vroue ná die verlies van hul huweliksmaat verkies om enkellopend te bly,” sê Romanis.
Mulder-Craig meen daar is twee moontlike redes hiervoor.
“Eerstens is daar minder ouer mans as vroue; die groep hubare mans is kleiner.
“Tweedens is vroue in ’n huwelik soms so onder die man se duim dat hulle stukkies van hulself verloor. Ná die man se afsterwe duur dit ’n ruk om hulself weer te vind en soms is die bevryding wat hulle ervaar so vervullend dat hulle verkies om enkellopend te bly.”
Romanis sê egter dit is belangrik dat vroue hulself die geleentheid gun om weer liefde en geluk in ’n huwelik te ervaar.
“ ’n Mens kan geïsoleerd en eensaam voel as jy op jou eie is en almal verdien om iemand anders se geselskap te geniet. Vroue moet besef dit is oukei om gelukkig te wees, óf op hul eie óf weer saam met ’n huweliksmaat.”
Elmi* (40) is 2½ jaar gelede ná ’n huwelik van 16 jaar geskei en al het sy alles probeer, was die einde van haar huwelik vir haar ’n skokkende verlies.
“Ek het net probeer oorleef. Dit was moeilik met my kinders (vyf en tien), want hulle was glad nie voorbereid op die egskeiding nie.
“Ek het mettertyd, nadat ek die verlies- en rouproses enduit ervaar het, bevry begin voel en gesweer ek gaan nie weer trou nie.”
Elmi het egter in November verlede jaar ’n man deur ’n skoolvriend ontmoet en al haar voornemens om enkellopend te bly laat vaar. Hulle is Desember in Thailand getroud.
“Dit is eintlik ’n wonderwerk en ek het besef daar ís hoop en ’n mens kan geluk vind ná verlies en teleurstelling.
“Ek en my nuwe man het ons uit die staanspoor onvoorwaardelik tot mekaar verbind en ons weet wat ons albei uit die huwelik wil hê.”
Mulder-Craig meen ook dat dit belangrik is om lesse uit jou vorige huwelik te leer.
“Moenie dieselfde foute begaan nie en moet ook nie terapie en kundige raad buite rekening laat nie; soms is dit broodnodig sodat ’n mens jou bagasie kan neersit en aanbeweeg in ’n nuwe verhouding.”
*Skuilnaam
Besoek www.adeleromanis. co.za en www.elmaricraig.co.za vir meer raad of om die kenners te kontak.