Maak gereed vir die Merc se Mbrace2
2012-02-01 06:00

Jou nuwe kar het heel moontlik tegnologie wat help keer dat jy in goed vasry, te vinnig ry, te stadig ry, verdwaal, te veel brandstof gebruik, traksie verloor op ’n nat pad en so aan.
Maar wat van Facebook? Het jou kar Facebook? Wat op sy eie werk en nie op ’n slimfoon of rekenaar staatmaak nie?
Waarskynlik nie, maar oor ’n jaar of drie gaan dinge heelwat anders wees.
’n Voorsmaak hiervan is die binneruim-kommunikasiestelsel genaamd Mbrace2 wat Mercedes-Benz pas bekend gestel het. Dit sal volgens Cnet.com vanaf Maart 2013 in die VSA beskikbaar wees, maar vir eers net in SL-modelle. En ja, dit bied ook ’n Facebook-toepassing danksy 3G-dataverbinding.
Mercedes-entoesiaste wat wilde idees het soos om hul gholftelling sommer op pad terug van die baan af op Facebook te verkondig, gaan teleurgesteld wees, want sommige van die funksies is net beskikbaar terwyl die ratkas in “park” is. Dit is om byvoorbeeld te keer dat jy ooit jou Facebook-status sal hoef te verander van iets soos “my SL is blerrie vinnig” na iets soos “kom kuier gerus vir my in die hospitaal”.
Mbrace2 se slimste aanwending van Facebook is die integrasie daarvan met die kar se satellietnavigasie- en foonstelsels.
Dié integrasie beteken byvoorbeeld jy kan sien as ’n Facebook-vriend of -onderneming naby is en soontoe gelei word.
Terwyl jy bestuur, kan jy net name en kontaknommers sien, maar die besonderhede word meer sodra jy weer iewers stop.
Dis ook nie net Facebook nie. Ander toepassings sluit in Twitter, Google-soektogte, Google Street View en ’n nuusdiens.
Jy beheer elkeen hiervan met ’n wiel langs die rathefboom waarmee jy deur menu’s kan op- en afblaai.
Ander vervaardigers gebruik raakskerms vir vergelykbare stelsels, maar ’n knop is dalk veiliger in dié konteks.
Nog oulike praktiese aanwendings van dié tegnologie sluit in dat nooddienste outomaties in kennis gestel kan word sodra en presies waar jy dalk in ’n ongeluk was.
As jy nog op skool is en dalk eendag jou pa se SL vir die matriekafskeid wil leen, stel ek voor jy probeer keer dat hy ooit uitvind van Mcbrace2 se afkamp-funksie (geofencing, noem hulle dit). Dit stel die eienaar in staat om baie spesifieke grense op ’n kaart te trek waarbinne die kar moet bly.
Word dié grens oorgesteek, kry die eienaar dadelik ’n SMS, en jy sal moet verduidelik.
Dit gaan ook nie help om jou pa se foon te laat verdwyn nie, want hy sal danksy Mcbrace se broodkrummel- funksie later presies kan sien waar jy was of nie was nie...