Klik-klik tot by die ‘vlooimark’
2012-01-18 06:00
Is jy alewig op soek na spesiaal gemaakte en unieke artikels wat landwyd op oulike markte beskikbaar is, maar wat ’n mens sukkel om in die winkels te kry?
Dié tameletjie het Annelize du Plooy (32), ’n ma van ’n sesjarige vierling op Potchefstroom, genoop om From the Heart Emporium te begin – ’n handelswebwerf wat spesialiseer in plaaslik handgemaakte produkte en kunsvlyt van ’n hoë standaard.
“Ek is ’n groot aanhanger van markte en dis vreeslik lekker om saam met ’n vriendin dit te gaan deurloop tot jou voete nie meer wil nie.
“Dis asof alles, van die verpakking tot die mense, net pragtig is en jy plek daarvoor móét maak,” sê sy.
So het die idee vir ’n sentrale handelswebwerf soos Etsy by haar opgekom, maar net vir al Suid-Afrika se unieke talent en produkte.
(Etsy.com is ’n webwerf wat uit Amerika bedryf word en wêreldwyd in handgemaakte produkte spesialiseer.)
Met From the Heart Emporium wil Du Plooy graag dieselfde atmosfeer as by markte skep met pragtig gemaakte produkte, ’n lekker koopervaring met goeie klantediens en mooi verpakking.
“Goed wat met sorg en liefde gemaak is en jou sommer spesiaal laat voel as jy dit net vashou. Wat is nou lekkerder as om ’n mooi toegedraaide pakkie in die pos te kry?
“En nou hoef ek nie meer al die oulike goedjies wat in die Kaap te koop is, mis te loop nie, ek kan dit aanlyn koop,” sê sy ingenome.
Du Plooy het in Mei verlede jaar aan From the Heart Emporium se webwerf begin werk en ’n baie eenvoudige stelsel daargestel.
Die produkte word met al die inligting en pryse onder afdelings én die verkopers se name gekatalogiseer.
Jy registreer en plaas bloot jou gekose produkte in jou “mandjie” en betaal die somtotaal deur ’n veilige betalingstoegangstelsel.
“Jou produkte word dan van elke individuele verkoper aan jou gestuur,” sê Du Plooy.
Die bevordering van plaaslike talent se produkte lêhaar na aan die hart.
“Aanlynverkope is vinnig besig om in Suid-Afrika uit te brei en die meeste mense koop deesdae hul produkte op die internet.
“Dis veral gerieflik as jy sukkel om ’n bepaalde produk in jou plaaslike winkels te kry.”
- Besoek die webwerf www.fromtheheartemporium.co.za en registreer as ’n koper om in die gerief van jou huis inkopies te doen.