Jou tuin in ’n teekoppie
2012-01-18 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Is jy verveeld met jou daaglikse koppie Earl Grey- of rooibostee? Dis dan dalk tyd op ’n koppie blomtee te skink en iets nuuts te probeer.
Blomtee bestaan uit uitgedroogde groen- of witteeblare wat met dun gare styf om ’n blom, gewoonlik ’n jasmyn, gebind word. Wanneer die teeblare dan in warm water geplaas word, absorbeer die blare die water en vou dit oop om die blom in die middel te vertoon.
Dit is juis hierdie proses wat dié tee-ervaring so ongelooflik maak, sê Craig Cupido, ’n teehandelaar by Origin Nigiro Tea in Kaapstad.
“Dit word beskryf as ’n tuin in ’n teepot en dit ontvou reg voor jou oë. Al jou sintuie raak betrokke, visueel is dit asemrowend om te sien, die reuk en smaak is ongelooflik.”
Dit neem sowat 20 minute om so ’n pot te maak en dit is deel van die ervaring.
“Jy kan nie anders as om rustig te raak nie,” sê Cupido.
WAAR KOM DIT VANDAAN?
Volgens Phillip Tobiansky, mede-eienaar van die Tea Merchant in Johannesburg, het teeblomme in die 14de en 15de eeu in China as ’n kunsvorm ontstaan. Die destydse Chinese keiser het gehou van die manier waarop die handgebinde teeblare oopvou sodra dit in warm water geplaas word. Dit is egter eers redelik onlangs dat tee-entoesiaste in die Weste dié “ornamenttee” ontdek het.
“Dit is een van die maklikste maniere om mense te kry om groen- en wittee te drink,” sê Tobiansky en van die gesondste tee wat jy kry.
“Groen- en wittee, wat albei ’n ligte, delikate smaak het, bevat besonder baie anti-oksidante en word daarom as ’n liggaamlike reinigingsmiddel gebruik,” se Konni Muhl, eienaar van die Tea Stubbe in Pretoria.
Dit bevat ook ’n ander soort kafeïen as koffie. Laasgenoemde vat sewe tot agt minute om jou bloedstroom binne te dring en jou daardie “skop” te gee, maar werk baie vinnig uit en laat jou dan pap en lusteloos voel. Daarenteen neem dit ’n halfuur vir groen- en wittee om kafeïen in die bloedstroom vry te stel, maar sowat drie uur vir die kafeïen om uit te werk.
DIS GESOND
Wittee is die gesondste van alle tees omdat dit die minste kafeïen bevat en ook die minste verwerk word. Ongelukkig is dit ’n onbekende tee en dus nie baie gewild onder teedrinkers nie, sê Rita Churches, mede-eienaar van Contessa Tea Connoisseur in Johannesburg. “Dit is ook die duurste tee omdat dit afkomstig is van ’n blomblaar in China wat net twee keer ’n jaar gepluk word.”
Dié blare word by ’n baie hoë lugdruk gepluk wat dit baie meer organies maak.
Die teeblom as ornament bly egter steeds die groot aantrekkingskrag en kan so lank as ’n week nadat die tee gemaak is in ’n glashouer vertoon word voordat dit verlep.
- Teeblomme word ingevoer deur voorste teewinkels soos Contessa Tea Connoisseur, The Tea Merchant, Tea Stubbe en Nigiro Tea.

Kookwater word stadig gevoeg by die blomballetjie, wat dan sal oop vou. Foto: CORNEL VAN HEERDEN
Só word dit gemaak
- Die groenteeblare kom hoofsaaklik van Indië, China en Amerika en word vroeg in die oggend gepluk terwyl daar nog dou op die blaar is.
- Witteeblare is afkomstig van China en word net twee keer ’n jaar gepluk.
- Die blare word dan platgestryk en met die hand om die blom gevou en styf met ’n dun toutjie om die blom vasgebind.
- Die beste blom om te gebruik is ’n jasmyn omdat dit ’n lekker geur het en die tee nog meer drinkbaar maak. Dit het ook ’n baie lang stingel wat die visuele effek van die teeblom versterk. Enige ander eetbare blom kan egter gebruik word.
- Hierna word die teeblom in ’n masjien geplaas wat dit in ’n klein balletjie rol.
- Dit word dan by 200 ºC in ’n oond gebak om dit uit te droog en te preserveer. Wanneer dit in kookwater geplaas word, absorbeer dit weer water en sit só uit.
- Blomtee kan op versoek in spesiale vorms gevou en gebind word.
Blomtee stap vir stap
- Plaas die saamgebinde teeblare in ’n deurskynende houer of teepot (verkieslik van plastiek of dik glas).
- Kies die teepot afhangende van die blom. Vir ’n blom met ’n lang steel, soos ’n jasmyn, moet die teepot hoër as breed wees en vir ’n gousblom moet die houer ’n breër basis hê.
- Kook die water en gooi stadig by die teeblom in die teepot.
- Kyk hoe die blom stadig oopvou en laat die tee vir 1 tot 3 minute trek. Wees versigtig om nie te lank te laat trek nie.Moenie die tee roer nie, jy sal die blom beskadig.
- Verwyder die blom en skink die tee.
- Die teeblom kan tot drie keer gebruik word.
Die gesondste tee
Blomtee word onder meer van wittee- blare gemaak en dis ’n goeie rede om dié drankie te drink.
Want, so word op whiteteacentral.com beweer, wittee is selfs beter vir jou as groentee:
- Wittee is vol antioksidante, wat jou veral beskerm teen diabetes, kanker en hartsiektes. Hoewel alle tees dié antioksidante bevat, het wittee die meeste. Dit is die gesondste tee;
- Dié tee herstel die vloeistofbalans in jou lyf. Die meeste mense besef nie hoe ontwater hulle eintlik is nie. Omdat wittee minder kafeïen bevat, behou jou liggaam meer van die water wat jy daarmee inneem as wanneer jy byvoorbeeld koffie of gewone tee drink;
- Wittee bevat fluoried, wat help om bakterieë in veral jou mond te beveg. Dit het nie so baie fluoried soos tandepasta nie, maar bevat genoeg en help om jou tandvleis gesond te hou;
- Omdat wittee ’n deursigtige vloeistof is, vlek dit nie ’n mens se tande so erg soos koffie of swart tee nie; en
- Wittee versnel jou metabolisme. Hoewel tee nie ’n verslankingsmiddel is nie, is dit ’n goeie plaasvervanger vir ander, minder gesonde drankies.