Buite én binne so gespierd
2012-01-18 06:00
Nog elke keer wanneer Jooste sy hart daarop gesit het om ’n doelwit te bereik, het hy dit reggekry.
Tien jaar gelede, toe hy nog maar ’n onskuldige matriekseun in die Paarl Gimnasium was, het hy tot groot vermaak van sy klasmaats vertel hy gaan nog eendag ’n CD maak, ’n duur kar ry, ’n TV-aanbieder wees en in Johannesburg woon.
Sy klasmaats se reaksie was voorspelbaar.
Hierdie drome het Jooste sedertdien elkeen bewaarheid en in plaas van net een CD het hy sommer al vyf bekend gestel én ’n boek laat gepubliseer.
“Maar nie sonder harde werk en hope opoffering nie, hoor. Vandag, tien jaar later, weet ek beter as ooit dat niks in die lewe sommer net vanself gebeur nie,” sê hy.
NUWE UITDAGING
In Augustus het Jooste besluit dit is tyd vir ’n splinternuwe uitdaging. Hy wou sy lyf verander. En daarvoor moes hy ’n kopskuif maak.
“Ek het vir my ’n doelwit gestel en ’n sperdatum gegee wanneer ek dié doelwit wou bereik.
“Ek het geweet dit gaan baie opoffering beteken, want enigiets in die lewe wat gewoonlik die moeite werd is, verg harde werk. Maar ek het vir myself bly sê ek gaan ses maande lank tot die uiterste leef,” beduie Jooste terwyl sy bruingebrande spiere onder sy wit hemp bult.
Hy het ’n persoonlike instrukteur by sy gimnasium gekies en hulle het saam op die doelwitte en oefenprogram besluit. Jooste het vyf dae ’n week begin oefen.
“Ek doen vyf sessies ’n week saam met George Herwill, my instrukteur, en tydens elke uur lange sessie fokus ons op ’n ander spiergroep. Tussendeur doen ek ook kardiovaskulêre oefening. Benewens die oefensessie in die oggend swem ek smiddae vir ’n halfuur.”
REG EET
Hoewel kos en die berei daarvan een van Jooste se grootste passies is, het hy sy hele eetpatroon ook verander.
Vet en suiker is uitgesny en soggens het hy net hawermoutpap geëet wat in water gekook is – sonder enige melk of suiker.
Elfuur is sy peuselhappie so agt roereiers, waarvan sewe se geel weggegooi word.
Middagete bestaan uit hoenderborsies sonder enige vel of vet en soetpatat en ander groente soos broccoli en aspersies.
Vieruur is dit tyd vir ’n blikkie tuna en pynappel. Saans het hy net vis of hoender geëet met gestoomde groente daarby. Geen koolhidrate ná ses in die aand nie.
“Ek het die laaste twee maande ook nie alkohol gedrink nie. Dit is regtig so, alkohol veroorsaak dat jou liggaam vet berg,” sê Jooste.
Sondae het hy enigiets geëet wat voorkom .
“’n Mens het een dag in die week nodig wanneer jy jou metabolisme aan die gang moet skop.”
DIE RESULTAAT
Binne ses maande het hy sy doelwit bereik. Die foto’s van hom getuig daarvan.
“Ek voel fantasties. Nie net omdat ek weet ’n mens kan enigiets regkry as jy jou kop en jou hart daarop sit nie, maar ek het hope energie en dis lekker om te weet harde werk lewer resultate.
“En saam met my fisieke verandering, het daar ook ’n geestelike verandering gekom.
“Ek het ook besef lewensvreugde kom nie uit die materiële goed nie – nie die mooiste kar kan my nie werklik gelukkig maak nie.
“Geluk lê dieper as dit en deesdae vind ek my ware lewensvreugde daardeur om ander mense te help.
“My leuse is: As jy jou lewe wil verander, moet jy die manier verander hoe jy oor jou lewe dink. En dan moet jy bereid wees om hard te werk.”
Maklik = verkeerd
“Besluit wat jy met jou oefening wil bereik,” sê George Herwill, ’n persoonlike instrukteur.
“Wil jy hoofsaaklik gewig verloor? Wil jy spiere bou?
“Wil jy fiks word of ’n kombinasie van al die bogenoemde?”
Stel daadwerklike dog realistiese doelwitte en werk daaraan, sê Herwill.
“Besef ook dat niks oornag gebeur nie en as dit te maklik en lekker voel, doen jy dit waarskynlik nie reg nie,” waarsku Herwill.
“Die voordeel van ’n persoonlike afrigter of ’n oefenmaat is dat jy iemand het wat saam met jou werk om jou doelwit te bereik.”
GESONDHEIDSNUUS
Vra volgende keer vir hoender
Wanneer hulle weer op die vliegtuig vra of jy hoender of beesvleis wil hê, kies hoender.
’n Onlangse studie deur die Harvard-skool vir openbare gesondheid toon rooivleis verhoog mense se kans op ’n beroerte, terwyl witvleis dit verlaag.
“Die groot les wat ons hieruit leer, is dat die laasgenoemde soort proteïen baie belangrik is,” verduidelik Frank Hu, wat die span navorsers gelei het.
Hu en sy span het die data verwerk wat in twee gesondheidstudies versamel is. In dié studies, wat oor 20 jaar gestrek het, is gefokus op 130 000 middeljarige en ouer mense. In daardie tyd het 1 400 mans en 2 600 vroue beroertes gehad.
Om te sien watter uitwerking proteïen op hul gesondheid gehad het, het die navorsers dié mense in groepe verdeel gegrond op hoeveel rooi- of witvleis hulle geëet het, asook watter ander bronne van proteïen hulle ingeneem het.
Mans wat meer rooivleis geëet het, het ’n 28% groter kans gestaan om ’n beroerte te kry as dié wat minder rooivleis geëet het. By vroue was die risiko 19% hoër.
Die navorsers wys daarop dit beteken nie rooivleis veroorsaak beroertes nie, maar dit toon eerder dat die vet en yster in rooivleis ’n rol kan speel. – Reuters Health

Aanvullings help jou onthou
Ouer volwassenes wat vitamien B12- en foliensuur-aanvullings neem, se kort- en langtermyngeheue is beter as dié wat dit nie drink nie.
Dit is volgens ’n studie wat onlangs deur wetenskaplikes aan die Nasionale Universiteit van Australië gedoen is.
“Vitamiene speel ’n belangrike rol in ’n gesonde oudwordproses,”sê Janine Walker, ’n navorser aan dié universiteit.
Meer as 700 mense het deelgeneem aan dié studie. Die navorsers het die proefkonyne, almal tussen die ouderdom van 60 en 74 jaar, in twee groepe verdeel.
Die een groep moes oor ’n tydperk van twee jaar elke dag ’n dosis foliensuur en vitamien B drink, terwyl die ander groep troospille geneem het.
Ná 12 maande was daar nie ’n verskil in die uitslae van die twee groepe se geheue-, aandag- en spoedtoetse nie. Maar ná twee jaar het die groep wat vitamien B en foliensuur geneem het, se uitslae verbeter, terwyl die ander groep s’n onveranderd gebly het. – Reuters Health
