Xenofobiese geweld kan De Doorns wéér tref
2009-12-19 02:40
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
André le Roux
Media24-Afrika-kantoor
Die geweldpleging teen Zimbabwiese plaaswerkers in die De Doorns-omgewing gaan vroeg in 2010 weer opvlam wanneer nuwe tydelike werkers die gebied bereik.
Dié waarskuwing dat die nasionale en provinsiale regerings en die plaaslike owerheid vinnig en voorkomend moet optree, het gister gekom van ’n senior navorser van die Universiteit van die Witwatersrand, mnr. Jean Misago.
Misago het pas ’n ondersoek na die arbeidsonrus van 14 tot 17 November in die De Doorns-distrik voltooi en sy bevindings gepubliseer.
Hy sonder twee hoofoorsake vir die geweld in die gebied uit:
- ’n Voortslepende “oorlog” tussen informele arbeidsmakelaars in die distrik, en
- Die vestiging van ’n satelliet-kantoor van die departement van binnelandse sake op die private grond van ’n plaaslike boer.
Misago, ’n Burundiese burger, het gesê die geweld in November het uitgebreek nadat Xhosa-arbeidsmakelaars die stryd om plasings van werkers op plase teen Zimbabwiese makelaars verloor het.
Hy suggereer in sy verslag, maar het dit verbaal aan Die Burger bevestig, dat Suid-Afrikaanse makelaars wat Xhosa-werkers wou plaas dié werkers en ander plaaslike werknemers en plaaslike regeringsamptenare onder druk geplaas het om die geweld teen die Zimbabwiërs te pleeg.
Dié makelaars, wat plaaslik bekend staan as “kontrakteurs” of “spanners”, verhaal benewens kommissies van boere R5 per dag by elke werker. Zimbabwiese werkers verdien R60 per dag, dieselfde as hul Suid-Afrikaanse mededingers, het Misago gesê.
Daar is tussen 60 en 80 “spanners” aktief in die gebied. Misago het gesê die makelaars onderskei hulself op rasse- en nasionale grondslag, synde wit, Xhosa, bruin, Zimbabwies of Basotho. Die spanning wat tussen die “spanners” in die twee weke voor die geweld uitgebreek en tot die ontwrigting van veral die Zimbabwiërs gelei het, het akuut geword.
Misago het gesê dis opvallend dat slegs Zimbabwiërs vir die aanvalle deur Suid-Afrikaanse werkers uitgesonder is. “Die aanvalle was duidelik etnies-spesifiek – waarom anders is die Basotho en die Somaliërs in die gebied nie aangeval nie?”
Misago het gesê die oorlog tussen die “spanners” gaan oor geld.
“Suid-Afrikaanse kontrakteurs erken hulle is meer geraak deur die verlies aan inkomste as die tydelike plaaswerkers self.”
- Die Burger