‘Wees trots op slaweherkoms’
2009-11-30 00:58
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Jana Breytenbach
Kaapstad. – “Slawe het nie alleen die fondament vir Kaapstad gelê nie, maar hulle het ook help bou aan die taal en dansvorme wat dié stad kenmerk.”
Só het prof. Richard van der Ross, oudrektor van die Universiteit van Wes-Kaapland, Saterdag gedurende ’n viering van die beëindiging van slawerny 175 jaar gelede gesê. “Die slawe het die Afrikaanse taal gemaak... ”
Hy het gepraat oor sy eie slaweherkoms by die geleentheid waartydens Klopse en blaasorkeste van die Bo-Kaap tot voor die Wes-Kaapse parlement gestap het.
Die optog is gereël deur die Kaapse Erfenis-alliansie, wat hom vir bewusmaking van slawerny beywer.
’n Petisie met sowat 120 hand- tekeninge is aan die bestuurder van die openbare uitreikprogram van die Wes-Kaapse parlement, mnr. Chris Ferndale, oorhandig waarin gevra word dat 1 Desember en 2 Januarie tot vakansiedae verklaar word ter herdenking van Suid-Afrika se slawe-erfenis.
“Bruin mense het almal ’n slawe-geskiedenis en daarom moet ons nie skaam wees om saam te staan en die 175 jaar van bevryding te vier nie.”
- Die Burger