Pa soek deur 40 lyke om baba te vind
2009-11-27 10:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Johannesburg – ‘n Pa het ‘n brief geskryf aan die minister van gesondheid waarin hy gekla het oor hoe sy swanger vrou behandel is by Johannesburg se Coronation Hospitaal en hoe hy deur 40 dooie babas moes soek om sy baba te vind.
Die Sapa nuusagentskap berig dat Yasser Marere, ‘n Zimbabwiese sakeman, se vrou Mejury Muchemei Woensdag in kraam gegaan het. ‘n Vriend het haar na die Coronation hospitaal geneem.
Om 10:00 Donderdag het Dokters ‘n keisersnee op haar uitgevoer.
Volgens Mejury is die baba weggeneem van haar en was sy nie toegelaat om die kind te sien nie.
Om 13:00 Donderdag het verpleegsters aan haar gesê dat haar baba gesterf het, maar sy is weer nie toegelaat om hom te sien nie.
Marere was onbewus van wat gebeur het en toe hy om 17:00 by die hospitaal opdaag is daar aan hom gesê dat besoektyd eers van 20:00 is.
Nie sy vrou of kind was op die hospitaal of die saal se register nie en hy het begin om van saal na saal te gaan om hulle te soek.
Na hy en ‘n vriend vir Mejury gevind het, het hulle eers ná 22:00, na ‘n lang gewag, by ‘n matrone Shaik gehoor dat die kind dood is aan versmoring.
Sy het ‘n persoon met die naam Shane van die lykshuis gekontak om hulle na die baba te neem.
Volgens Marere is hulle na ‘n inloop koelkamer geneem waarin sowat 40 wit pakkies was wat geseël was.
Daar is aan hom gesê dat daar babas in was en dat hy en sy twee vriende deur elke pakkie sal moet gaan om sy baba te vind.
Nadat hulle deur sowat 20 pakkies gegaan het, het een van sy vriende ‘n register gevind en sodoende het hulle sy baba opgespoor.
“Hy was ‘n perfekte klein seuntjie met baie hare,” het een van Marere se vriende gesê.
Hulle moes die pakkie weer toemaak daarna en Marere het in trane uitgebars.
Marere het ‘n brief geskryf aan Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, en Qedani Mahlangu, die LUR van Gauteng, waarin hy kla oor die manier waarop sy vrou by die hospitaal behandel is, sowel as hoe hulle behandel is na hul kind se dood.
- Sapa