Haai val Suid-Afrikaanse tienerseun aan in Mosambiekse vakansiedorp
2009-12-24 04:59
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Erika Gibson
Pretoria
’n Seun uit Suid-Afrika het vandeesweek die eerste slagoffer in dekades van ’n haai-aanval in Mosambiek geword.
Na wat vasgestel kon word, het die seun, wie se identiteit onbekend is, die aanval oorleef.
’n Uitgevrete Zambezi-haai het die seun beswaarlik 6 m vanaf die strand, in water wat nie dieper as 1 m was nie, aangeval terwyl hy op sy branderplank in die branders gespeel het.
Volgens me. Hettie Twiss van Johannesburg, wat in Ponta d’Ouro in die suide van Mosambiek vakansie gehou het, was daar eergistermiddag omstreeks halfvier ten tyde van die aanval “honderde” mense op die strand en in die water.
“Van die mans wat op die rotse naby die strand visgevang het, het ’n geskree gehoor.
“Teen die tyd dat hulle tot op die strand gehardloop het, het die seun – ek skat hom so 12 jaar oud – reeds op die sand gelê.
“Hy is erg aan sy hand en sy gebyt. Dit het kwaai gebloei. Iemand het noodhulp op hom toegepas. Ek vermoed dit was iemand van die duikskool, want daar is nie menseredders op die strand nie.
“Dit het omtrent ’n uur geneem voordat ’n noodhelikopter opgedaag en hom weggeneem het hospitaal toe. Ek aanvaar hy is KwaZulu-Natal toe geneem, aangesien die naaste hospitale daar is.”
Volgens Twiss het ouers gehardloop om hul kinders uit die water te haal terwyl die haai nog in die baai rondgeswem het.
“Die mense op die strand wat die haai se vin gesien het, het gesê dit moes ’n uitgegroeide haai gewees het, want sy vin was groot.”
Volgroeide Zambezi-haaie is tussen 5 m en 6 m lank.
“Die oord-eienaars en van die plaaslike inwoners het vir ons gesê daar was in dekades geen haaie in die baai nie. Hulle was verstom dat ’n haai tot in die vlak water sou swem om iemand aan te val.
“Volgens hulle het onwettige Chinese vissersbote altyd die haaie in die omgewing met hul nette gevang om die vinne af te sny.
“Die afgelope klompie maande is die bote egter verwilder en is daar seker meer haaie wat weer in die omgewing rondswem,” het Twiss vertel.
Teen eergistermiddag laat het ’n helikopter steeds laag langs die strande by Ponta d’Ouro en verder noord gevlieg om die haai op te spoor en om vakansiegangers met ’n megafoon te waarsku om uit die water te bly.
Die haai het vermoedelik na dieper waters geswem.
Die Mosambiekse strande het nie haainette nie, terwyl daar slegs by van die grootste strande menseredders is.
“Dit maak ’n mens bang – veral as jy dink hoeveel klein kindertjies in die vlak branders speel.”
- Die Burger