Stellenbosch.?–?Altesaam vyf vermeende rowers – waarvan een in die
sitvlak gewond is – is Saterdag in hegtenis geneem ná ’n gewapende rooftog by
die Spur in Hermanus se hoofweg.
Toe die polisie Saterdagoggend by die restaurant aankom, het hulle
een van die vermeende rowers geboei en met ’n koeëlwond in sy agterstewe
gevind.
“Na bewering het vier mans die restaurant binnegegaan kort nadat
dit oopgemaak het,” het kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, in ’n
verklaring gesê.
Die verdagtes het die bestuurder en sy assistent na ’n ander
vertrek as die ander werknemers gedwing. Hulle het die kasregister se sleutel
van die bestuurder geëis. ’n Struweling het ontstaan waartydens ’n skoot
afgevuur is en die een vermeende rower gewond is.
Die bestuurder het die verdagte se vuurwapen bekom en die ander
vermeende rowers het op die vlug geslaan.
Toe die polisie op die toneel kom, is die gewonde en geboeide
vermeende rower aan hulle oorhandig. Die polisie kon ook ’n ander verdagte in ’n
wit Volkswagen Polo – wat as vlugvoertuig gebruik is – vastrek.
Inligting op een van die verdagtes se selfoon is nagespeur. Dit het
tot die inhegtenisneming van die ander drie verdagtes in die
Hemel-en-Aarde-vallei buite Hermanus gelei.
Nog ’n verdagte is gewond nadat hy ’n vuurwapen op die polisie
gerig het. Daar is later vasgestel hy het ’n speelgoedvuurwapen gebruik.
Enigiemand wat met die ondersoek kan help, word versoek om Stop Misdaad by 08600 10111 te bel. – Jan Gerber