Klay-saak: Regter weier ontslag vir Jurie Els
2009-11-25 02:12
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Jeanne-Marié Versluis
Pretoria
Jurie Els kan vanoggend moontlik sy kant van die saak in die hooggeregshof in Pretoria stel nadat sy aansoek om ontslag gister geweier is.
Waarnemende regter Chris Eksteen het gister gesê hy glo dit kom as ’n verrassing of ’n skok vir die verdediging, maar die hof moet die ontslag weier, onder meer gegewe die getuienis wat deur die staat aangebied is.
Hy het gesê hy maak dié bevinding “sonder meer”.
Hy is nie verplig om in dié stadium redes vir sy bevinding te gee nie, het die regter gesê en die verhoor tot vandag uitgestel om Els kans te gee om sy regsposisie te oorweeg.
Els het oudergewoonte geglimlag toe die hof daarna verdaag het. Hy word daarvan beskuldig dat hy die sanger Robbie Klay (23) onsedelik aangerand het toe dié tussen 11 en 16 jaar oud was.
Adv. Corli Bouwer, staatsaanklaer, het gister toegegee die staat kon nie die eerste aanklag van onsedelike aanranding bewys nie. In dié aanklag is beweer Els het Klay gemolesteer toe dié jonger as 12 was.
Adv. Danie Dorfling, namens Els, het gesê die verhoor het ’n “klomp publisiteit” meegebring en tot gevolg gehad dat “mense meegesleur en meegevoer” is.
Die hof kan hom volgens Dorfling nie langs dié stroom laat meesleur nie. Eksteen het daarop gevra: “Het u rede om te vermoed dat die hof hom laat lei deur koerantberigte en Huisgenoot?”
Dorfling het gesê “daar word sekere verwagtinge en persepsies in die openbare oog geskep” en die regter het ’n grondwetlike plig om Els ’n billike verhoor te gee.
As daar nie redelike vooruitsigte is dat Els moontlik skuldig bevind kan word nie, moet die hofverrigtinge nou reeds deur ontslag gestop word.
Bouwer het betoog die staat volstaan met die tweede aanklag van onsedelike aanranding (dat Klay glo tussen die ouderdomme van 12 en 16 jaar gemolesteer is) en die derde aanklag – een van uitlokking van Klay om seksdade te pleeg toe hy nog nie 16 was nie.
Die verdediging het aangevoer daar kan moontlike motiewe wees hoekom Klay vals klagte teen Els sou indien, soos dat Huisgenoot hom R10 000 betaal het vir ’n onderhoud en dat moontlike afguns op Els, of die feit dat Els met Hestrie Cloete getrou het hom daartoe kon dryf.
Getuienis bestaan volgens Bouwer wel waarop ’n redelike mens ’n skuldigbevinding kan of mag uitbring.
- Die Burger