Verguising van Jansen is moreel verwerplik
2009-10-27 01:23
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die inhuldiging van Jonathan Jansen as rektor van die Universiteit van die Vrystaat was ’n feestelike geleentheid.
’n Gees van afwagting was voelbaar namate kollegas, vriende en bewonderaars vir die intreerede byeengekom het, gegewe Jansen se vermoë tot gesaghebbende en oorspronklike denke. Ons het ongeduldig geluister na die uitstekende universiteitskoor, wat maar onlangs geïntegreer is nadat Jansen ontdek het daar bestaan twéé kore – een wit en een swart.
Jansen het sy afgerondheid as hoogaangeskrewe akademikus en skrywer bevestig met ’n toespraak wat getuig het van uitsonderlike visioenêre en intellektuele leierskap. Met versoening as die hooftema, het hy die sosiaal-politieke konteks beskryf van die universiteit wat hy geërf het. Hy het sy planne uitgestippel om ’n getransformeerde kampus te skep wat akademies uitmuntend én ras-geïntegreerd sal wees. Die toespraak is aan Bram Fischer opgedra.
Jansen het die institusionele kultuur uiteengesit waarin die Reitz-videovoorval plaasgevind het. Volgens hom was dit nie ’n toonbeeld van ’n individuele siektetoestand nie, maar is sulke gedrag in die hand gewerk deur ’n sosiaal-politieke konteks waarin ’n reeks rassevoorvalle plaasgevind het wat nooit geopenbaar is nie. Die Reitz-sage was die kulminasie van praktyke wat algemeen voorgekom het.
Jansen weet goed meer as regsremedies is nodig vir die herstel en oorkoming van die kloof. Hy het die vyf swart vroue wat deur die vier mans verneder is, en die breëre swart gemeenskap, namens die universiteit verskoning gevra. Daarby het hy verskoning aangeteken teenoor elke blanke lid van die universiteit wat hom of haar, weens rasse-assosiasie, oor die voorval geskaam het.
Toe het hy iets verrassends gedoen: Hy het ons, as volwassenes, gedwing om verantwoordelikheid te aanvaar vir die eiesinnigheid van ons jeug. Hy het ons verplig om eienaarskap te aanvaar van die Reitz-studente met al hul tekortkominge. “Die vier studente wat die afstootlike daad gepleeg het, is my studente. As ek by ’n ander leier mag leen: Ek kan hulle nie verloën nie, net so min soos ek my eie kinders kan verloën. Hulle is kinders van hierdie land, jong mense van die provinsie, studente van ons universiteit.”
Dit was vir ons ’n uitdaging om verantwoordelikheid te aanvaar vir ons jeug, wat grootgemaak is in ’n gemeenskap waar sulke gedrag moontlik is.
Jansen glo die universiteit sal slegs kan voortbeweeg na ’n getransformeerde toekoms as die kampus van hierdie endemiese verrotting gesuiwer word. Om dit te bereik het hy voorgestel dat die UV die Reitz-instituut vir die Studie van Ras, Versoening en Maatskaplike Geregtigheid word. Ten tweede sal die universiteit daarna streef om ’n internasionale sentrum vir uitnemendheid in chemie, landboukunde en geneeskunde te word, asook ’n elite-navorsing-spilpunt in Afrika waar navorsing verbind is met die omringende gemeenskap.
Jansen het skaars sy visie briljant uiteengesit toe is die gort gaar. ’n Middelmatige bogkoerantjie, die Saturday Star, het sy meesterlike toespraak vervlak tot ’n sensasiesoekende opskrif: “UV se rassiste vry: Woede toe nuwe rektor aanklagte terugtrek as dapper versoeningsgebaar”. Die trefkrag van sy toespraak en die simboliek van sy voorstelle is verwring.
Wanneer koerante desperaat vir verkope is, vervaag die media se verantwoordelikheid. Nog skokkender is dat die ANC onmiddellik Jansen se voorstelle gerepudieer het en dat iets goeds voorgehou is as iets boos soos net die ANC kan. Die anachronistiese Kommissie vir Menseregte het olie op die vuur gegooi en daardeur sy eie mandaat ondermyn.
Die ANC tree op asof hy die alleenreg het om te besluit oor wie kan vergewe en wie nie; asof hy, en hy alleen, oor die goddelike reg van versoening beskik. Deur die veroordeling van Jansen se gedagte het die ANC die outonomie van die universiteit in twyfel getrek.
Dit is moreel verwerplik dat ’n party met ’n voormalige apartheidspioen, Marthinus van Schalkwyk, in sy kabinet, asook ’n regse lid van die VF+, Pieter Mulder, voorskriftelik wil wees oor geregtigheid en gelykheid teenoor Jansen, ’n mens wie se geloofwaardigheid onberispelik is.
- Die Burger