Stadig met die speel van die rassekaart
2009-09-04 23:21
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die bewerings van verdrukking van ’n wit Suid-Afrikaner wat in Kanada vlugtelingstatus gekry het, het mense behoorlik aan die praat.
Luidens berigte in die Kanadese media het die oud-Kapenaar Brandon Huntley vlugtelingstatus gekry nadat hy beweer het hy word in sy tuisland verdruk oor sy velkleur. Mnr. William Davis, die voorsitter van die tribunaal, het bevind Huntley was ’n slagoffer van misdaad oor sy ras en nie bloot oor misdadigheid nie. Daar is bevind “sy vrees vir verdrukking deur Afrikane is geregverdig” en dat hy “soos ’n seer duim sal uitstaan”.
Te oordeel na die reaksie op dieburger.com, in SMS’e en briewekolomme en in geselsprogramme is daar baie wat lekker kry oor die tribunaal se bevinding. Diegene met ’n slagoffermentaliteit het mos nou “die bewyse” dat hulle geteiken word. Amper soos die man met die ipekonders wie se grafsteen lui: “Ek het julle mos gesê ek is siek.”
Die ANC en die regering het op hul beurt blitsvinnig die “rassisme”-stempel uitgeruk om die tribunaal se bevinding en diegene wat daaroor juig, te brandmerk.
Die belaglikheid van die tribunaal se bevinding spreek vanself. Dawie is daarom ook verheug dat daar sterk stemme opgeklink het om dit te verwerp en hulle uit te laat teen die klinkende verwelkoming van wittes se nuwe status as verdruktes.
Wat die hele petalje egter illustreer, is hoe die bereidwilligheid om die rassekaart te speel algaande meer vastrapplek in die Suid-Afrikaanse nasionale psige kry.
So was Huntley byvoorbeeld al lank landuit; en toe verblyfregulasies dit vir hom moeilik maak om in sy knus buitelandse nessie te bly, speel hy die rassekaart. En siedaar, tjoef-tjaf het hy vlugtelingstatus – ten koste van ’n hele land se aansien.
Toe onlangs ’n bohaai ontstaan oor die geslag van Caster Semenya, het gesiene lede van die ANC nie gehuiwer om die spektakel toe te skryf aan die rassisme van wittes wat in elk geval nooit opgewonde raak as hul swart landgenote iets vermag nie.
Mnr. Julius Malema van die ANC-jeugliga het gedurende die Semenya-herrie opnuut bewys hy het al die speel van die rassekaart tot ’n fyn kuns vervolmaak. Wat hy klaarblyklik nie besef nie is dat sy optrede net so skadelik vir ons aansien en nasionale psige is soos die Huntley-bevinding.
En wanneer regter Nkola Motata besope in ’n (wit?) tuinmuur vasjaag, word die rassekaart gespeel wanneer hy besef hy is in die sop.
Daar is gelukkig nie net slegte nuus nie.
Die storms wat ontketen is deur ons verlore seun Brandon Huntley en ons gunstelingdogter Caster Semenya het ook bewys dat daar nog genoeg van ons is wat nugter kan dink (nee, dis nie ’n verwysing na Motata nie), en nie bereid is om dadelik na die rassekaart te gryp nie.
In die Huntley-geval was daar dadelik diegene wat die rug styf gemaak en op die belaglikheid van die Kanadese bevinding gewys het, ook in die internasionale media. Kyk gerus na die puik stuk wat Dawie op Facebook raakgeloop het – geskryf deur oudkollegas Herman Wasserman en Sean Jacobs (www.theglobeandmail.com/news/opinions).
In Semenya se geval was dit ook duidelik dat Suid-Afrikaners – van alle rasse, mnr. Malema – om Semenya laer getrek het toe sy internasionaal in die spervuur kom. Vir húlle was Semenya ’n bron van nasionale trots wat verdedig moet word, ongeag velkleur.
Die toenemende reëlmaat waarmee die rassekaart deesdae gespeel word, vra van diegene wat in staat is om nugter te dink om telkens die rug styf te maak teen dié verskynsel.
Ons het immers ’n moderne en progressiewe Grondwet wat die regte en gelykheid van al ons land se mense waarborg. Hierdie Grondwet beskerm die regte van alle Suid-Afrikaners, ongeag ras. Indien enigiemand se regte of gelykheid vertrap word, is daar ook ’n lang lys instellings wat enige burger kan nader om dit wat ons wetgewing en Grondwet waarborg, in die praktyk af te dwing.
Indien ons dié gees van ons grondwetlike bestel werklik tot sy reg wil laat kom, vra dit ook dat beginsels soos gelykheid en nierassigheid op die tafels van ons hart geskryf geskryf word en in die daaglikse handel en wandel uitgeleef word.
So nie, boer ons agteruit.
- Die Burger