Albert gooi duim tot in die NAMIB
2009-09-22 00:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Albert Retief
“Albert, die geleentheid bestaan vir jou om saam met my oor die Namib te vlieg. Jy moet net tot hier kom,” het my vlieënier-vriend uit Namibië laat weet.
Ná 24 uur op die pad het Fritz, ’n vragmotorbestuurder, my vroegoggend in Windhoek afgelaai.
My enigste uitweg was om woestyn toe te ryloop. Ná verskeie geleenthede – met Rehoboth-inwoners op pad na ’n bobbejaan-jagtog, agter op bakkies en Duitsers wat nie kan bestuur nie – is ek teen laatmiddag by ’n verlate kruising sowat 60 km van my aanvanklike bestemming afgelaai.
Met geen verkeer nie en verlate paaie is ek genoodsaak om die nag in my tent onder die sterre deur te bring. Ná ’n tuna-ete op my gasstofie is ek wakker gehou deur ’n uil, maar teen dagbreek was ek uitgerus en reg vir die volgende skof.
’n Paar uur later kom ek uiteindelik by my vlieëniervriend aan.
Die hoogtepunt was om die volgende dag die woestyn vanuit ’n Cessna-vliegtuig te sien – ’n heel nuwe perspektief van hoe groot en verlate die Namibwoestyn werklik is.
Ek kon pragtige foto’s neem terwyl ek Sossusvlei en Dooievlei vanuit die lug verken.
’n Paar dae later het ek Sossusvlei te voet gaan verken. Die 5 km-staptog tot by die vlei was uitputtend, en selfs die kraaie het oor my kop gesweef asof hulle kon sien ek gaan omval. My water het my gered en ek kon Dooievlei en Sossusvlei besoek.
Teen laatmiddag het ek gespog met ’n trotse boere-tan, maar ek sou die aand weer in die veld moes kampeer.
Ek het soos ’n koedoe oor ’n hoë heining by Sesriem gespring en kry toe ’n plek om my tent op te slaan. Hier moes ek gekamoefleer wees vir die parkgidse in hul Land Rovers wat Duitsers wys hoe die Afrika-son sak.
Met al die warm dae en geen stort nie het ek seker self ’n bietjie wild begin lyk. Ek is die oggend wakker gemaak deur ’n trop springbokke wat saam met my weggekruip het vir die Land Rovers en hul passasiers.
Ek het vroegoggend weer in die pad geval met ’n geleentheid in ’n vragmotor, waar ons tot op Solitaire Ovambo-musiek oor en oor geluister het.
Na ’n lang wag het ek ’n geleentheid saam met “die speedster van Swakopmund” gekry, wat met ’n hoë spoed almal wat my nie wou oplaai nie, verbygesteek het.
Met my verblyf in Swakopmund het ek heelwat buitelanders ontmoet, die dorp en sy koloniale geboue verken en oorgenoeg bier gedrink.
Ek het die nagtrein van Swakopmund na Windhoek teen R95 vir ’n nag se slaap plus die rit as ’n bargain beskou.
Die trein was weer die vervoermiddel suid van Windhoek tot in Keetmanshoop. Dié keer was dit egter vol, bedompig en raserig.
Ek wou treinvervoer in Namibië ondersoek, maar het vinnig vasgestel dat daar nie meer passasierstreine na Suid-Afrika loop nie. Van Keetmanshoop moes ek op ’n manier terug in Kaapstad kom. Teen dié tyd was ek al moeg vir ryloop en vat ek toe ’n kans en hoor of Fritz nie dalk binnekort verbyry nie.
Fritz sou 19 ure later in Keetmanshoop wees, en ek het by die vulstasie gaan wag. Teen drie-uur die volgende oggend kom Fritz in sy vragmotor verby en ek spring voor in om terug Kaap toe te ry – die laaste van 21 saamrygeleenthede. Dit was 14 dae uit en tuis – ’n wonderlike ervaring.
Lees meer oor die reis by http://albertretief.blogspot.com.