Jy skryf in die voorwoord die boek het aanvanklik stadig gevorder
omdat dit vir jou ’n traumatiese proses was om
die
verlede weer op te diep. Watter dele was vir jou die pynlikste om te
skryf? En, in retrospek, dink jy die skryfproses het heling gebring?
Dit klink seker belaglik, maar die moeilikste deel van die proses
is om nou, ná die skryf van die boek, vrae daaroor te beantwoord. Om die boek te
skryf was ook moeilik, maar dit het vir my ongelooflike heling gebring. Ná die
editing proses het ek dit alles begrawe en agter my gesit. Nou word ek gedwing
om weer daarna te kyk.
Gelukkig was die uitgewers en die media sover baie inskiklik deur
my voorwaarde te aanvaar dat ek slegs onderhoude per e-pos doen. Al is ek mal
oor Coenie de Villiers, kan ek my nie voorstel dat ek in die Kwela-ateljee met
hom sou kon sit en chat oor heavy goed soos Kerkorrel se selfmoord nie. Die pyn
is nog te rou.
Van Johannes Kerkorrel gepraat. Jy skryf verreweg die slegste
ding wat met jou gebeur het die afgelope vyftien jaar was sy dood op 12 November
2002. Sover ek weet is jy ook die eerste skrywer wat openlik (in ’n boek) erken Kerkorrel was MIV-positief. Hoe het jy dit
uitgevind? En was die besluit om so iets openbaar te maak nie ietwat van ’n etiese wroeging nie?
Dit was nogal ’n wroeging.
Twee dinge het my laat besluit dit is belangrik om alles te vertel.
Eerstens is MIV-positiwiteit nie ’n skande nie,
dit is deesdae so kommin soos verkoue. Tweedens het Kerkorrel se beste vriend,
Stef Bos, eenmaal in ’n lang gesprek met my
saamgestem dit sou ’n goeie ding wees om eendag
alles te vertel. Om die waarheid te sê, hy het dit reeds lankal op Nederlandse
radio uitgelap en baie mense daar weet daarvan.
Stef weet nog nie van hierdie boek nie, maar ek is seker hy sal
oukei wees. Ek hoop ook Amanda Strydom sal oukei wees daarmee. Sy was bes
moontlik sy heel beste vriendin, en sy was glo by hom die dag toe hy
gediagnoseer is.
Jy skryf oor Gallo wat aan die begin van jul opnames ’n vraelys gestuur het om te vra of julle enige dwelms in
die ateljee wil gebruik. Ook dat hulle sou betaal en dit op hul lys van uitgawes
sou aandui as “miscellaneous”. Was jy nie bang vir lastereise nie?
Ek is seker dat, as Gallo sensitief is oor hierdie saak, hulle nie
te hard moet push vir laster nie. Indien hierdie soort ding wel amptelike
praktyk was, is die kanse dat hierdie bewerings deur ander musikante gestaaf kan
word, feitlik 100%.
In die hoofstuk “die poësie van anargie” maak jy ’n lys met name van vroue uit jou verlede: ’n soort besoekersboek van jou “soektog na ware liefde”.
Hoe voel die vroue daaroor dat hul name op ’n
tabel in ’n boek opduik?
Die girls op die lys is nie almal met wie ek seksuele omgang gehad
het nie, maar mense wat my op die een of ander manier verander het. Dit is my
“emosionele” lys. In baie gevalle het ek, weens my eie emosionele
onvolwassenheid, daardie mense bitter seergemaak. Dit sou krimineel wees om te
beweer daar is niks om oor die saak te sê agterna nie. ’n Openbare apologie is beter as ’n gemompelde sorry. Ek is eintlik meer bekommerd dat ek
iemand uitgelaat het as oor die name wat wel op die lys is.
Aan die einde van die boek skryf jy die Voëlvry-toer het “my gedamage. Dit het my verskriklik
baie skade berokken”. Ook dat jy daarna “getypecast (is) for life”. Droom jy
ooit van ’n lewe
sonder Voëlvry?
Ja, heeltyd. Ek spandeer die helfte van my tyd daaraan om te wonder
hoe dinge sou gewees het as daar nooit apartheid was nie, as Suid-Afrika ’n normale land was. Pas het ek ’n CD gemaak met die soort liedjies op wat ek sou gesing
het as ek nooit protes gedoen het nie. Dit is ’n
aspek van my lewe wat jare lank onderdruk is. Dit
is nie normaal om jou ganse jeug tot en met jou dertigerjare deur te bring in
’n toestand van woede en vervreemding nie.
Twintig jaar ná Voëlvry skryf Toast
Coetzer ’n roman, Naweek , wat
volgens Erns Grundling “die eerste eietydse roman in Afrikaans (is) wat die
leefwêreld en dilemmas van die sogenaamde MK-generasie tot op die been oopvlek”.
In dié boek is seks, dwelms en groupies volop, net soos in die
tyd van Voëlvry. Myns insiens is daar onder die
jonger geslag Afrikaanse rockers egter nie meer sprake van ’n musiekbeweging wat, soos jy oor Voëlvry skryf, “regstellende aksie” is nie, wat “keer
dat die melk oorkook” nie. Wat het intussen gebeur d at net die seks en die
dwelms oorgebly het, maar nie die sosiale en politieke impak van die musiek nie?
Dink jy daar sal ooit weer ’n soortgelyke
musiekbeweging as Voëlvry in Suid-Afrika wees?
Shit. Ek sien foto’s van die steke in die ou van Fokofpolisiekar se
gesig, en ek weet: die drug honeymoon is vir hulle al verby, die nagmerrie het
begin. Ja, vandag se losbandigheid is vir my verskriklik, en dis verskriklik om
te dink daar is soveel jongmense wat nie hoor wat ek sê as ek sê ek is klaar met
drugs nie.
Ek sou sê daar is drie post-Voëlvry-groepe in blanke Afrikaanse musiek: die nuwe
junkies (wat dink hulle copy ons), die kommersiële ouens (wat jy ook al van
Juanita-hulle sê, hulle sal beslis ’n urine-toets
slaag) en die ouens wat ons protes wil verander in ’n ver-regse protes (die post-De la Rey-generasie).
Aan die een kant voel ek verantwoordelik vir die hele gemors, en
aan die ander kant voel ek oor al hierdie ouens soos ’n pa wat vir sy kinders se: “Niks meer lekkers nie!”
Maar hulle hoor my nie.
Ten slotte dink ek daar is dalk hoop in die nuwe geslag satiriese
musikante soos Thys Nywerheid en Jack Parow. Om teen die nuwe bestel te
protesteer met ’n tikkie humor, maak dat niemand
jou met die ver-regse crowd kan verwar nie, want die ver-regses
het beslis geen humor nie.
Wat nog ’n Voëlvry-toer betref? Wel, Dagga-Dirk Uys is nog hier
rond, dalk kan hy iets reël. Dit sal wonderlik wees as daar ’n veelrassige Voëlvry-toer
kan wees. Daar is swart musikante wat dit baie sal geniet om ouens soos Snotkop
en DJ Ossewa meer van hip-hop te leer, en dis hoog tyd die kwaito-ouens kom
agter hoe cool is Zinkplaat en Abel Kraamsaal.
Ons kort meer girls ook. Karen Zoid het nog lank nie haar volle
potensiaal ontgin nie. ’n Swart ou wat haar musiek
ontdek het, het nou die dag vir my gesê hoe goed sy sal doen as sy in Soweto
moet gaan sing. Liedjies soos “Aeroplane Jane” is van wêreldgehalte. Die laaste
groot crossover chick was PJ Powers!
Hoekom het jy besluit om die boek aan jou dogter Maryke op te
dra?
Ek het die boek aan haar opgedra omdat sy vir my die jonger
generasie Afrikaanses verteenwoordig, en omdat ek hulle graag wil waarsku om nie
dieselfde foute te herhaal as ons generasie nie, maar wel die goeie goed wat ons
gedoen het na te volg. Indien enige.