'n Tuin se tydlyn

2012-01-13 21:00

Die Kompanjiestuin se skoonheid lê nie net in sy plantegroei nie – oral lê stories.

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Daar loop spoke met groen vingers in die Kompanjiestuin.

Hulle kom van ver, van toe die voet van Tafelberg uitgedy het onder die getrippel van springbokkies en die heerskappy van leeus – vandaar al kom hul stemme: uit die soetwaters waar die Khoekhoen se vee gewei het en uit die eerste beddings wat gespit is deur die tuinier Hendrik Boom; ritmies wieg hul versugtinge vandag in die purperwinde van die wisteria.

En bo-oor dié stemme wat al soveel dekades uit die vergete setels in Parlementslaan opklink, is die suising van iets blywends: die Moederstad se groen long.

Die land se oudste tuin het in die 17de eeu ontstaan uit die noodsaaklikheid om groente aan die Kaap te verbou vir die VOC se verversingpos, en sedert die Nederlandse koloniste die eerste sade hier geplant het, het die tuin transformasies ondergaan wat lees soos die dagboek van ’n tuinier met nege lewens.

Dié tydslyn loop van een koloniale bewind na die volgende, en tot by die uiteindelike geboorte van ons demokrasie.

Die Nederlanders moes destyds vinnig vrede maak met die aanslag van die elemente en hul tuinboukunde daarna skik: Soms het die saad wat per skip aangekom het nie ontkiem nie, en in verskeie dagboekinskrywings van die tyd word uitgebrei oor die strawwe klimaat, wispelturige weerpatrone en die Suidooster wat nouliks deur windskerms van mirtehout getemper kon word.

In sy dagboek het Jan van Riebeeck vermeld die VOC-tuinier Hendrik Boom het die eerste stuk grond in die kompanjie se tuin op 29 April 1652 voorberei nadat die Here Sewentien aan Van Riebeeck die opdrag gegee het om ’n groente- en vrugtetuin aan die Kaap te vestig. Dié stukkie tuin is aangelê by die tydelike houtfort, wat opgerig is waar Adderley- en Strandstraat vandag kruis.

Boom het nie net vrugte en groente geplant nie – ook kruie en plante met medisinale waarde het hy ingespit. Kort voor lank het hy, net vir die mooi, ander, meer ornamentele plante ’n plek in die tuin gegee. Op 1 November 1659 is die tuin se eerste roos, ’n rosa centifolia, skynbaar gepluk.
 
Met die toename in skeepsvaart om die suidpunt van Afrika en die groeiende bevolking aan die Kaap, het die behoefte na vars voedsel toegeneem.

Die tuin is in die rigting van Tafelberg uitgebrei, en teen 1661 het dit 21 morg (17,9 ha) beslaan. Die tuin se sentrale as het dit met die nedersetting naby aan die see verbind, en dié het Goewermentslaan geword. Dit het na die Heerengracht en sogenaamde Gentleman’s Walk (vandag Adderley­straat) gelei, en word vandag steeds as die hoofaar van Kaapstad beskou.

Vars water was beskikbaar danksy die standhoudende strome en die water wat teen Tafelberg afgestroom het, en dié is vir besproeiing gebruik. Die kanale wat hierdeur gevorm is, het mettertyd die raamwerk geskep waarvolgens die nedersetting se oorspronklike paaie aangelê is, en dit het die stad se uiteindelike uitleg bepaal.

Onder die bewind van Simon van der Stel (1679-1699) het die tuiniers Hendrik Oldenland en Jan Hartog die vrugte- en groentetuin met inheemse en eksotiese plante, struike en bome aangevul.

In 1751 is ene Johan Andries Auge as ’n superintendent in die Kaap aangestel, en hy het verskeie ekspedisies na die binneland onderneem waartydens hy inheemse plantspesies ingesamel en na die kolonie teruggebring het. Een van die strelitzia nicolai-plante wat waarskynlik deur Auge in die Kompanjiestuin aangeplant is, groei vandag steeds daar.

Teen die draai van die 18de eeu het die VOC se geldsake beroerd gelyk, en die Kaap het van 1795 tot 1803 in Britse hande beland. In dié tyd was die tuin nie meer ’n prioriteit nie, en die terrein is verwaarloos. Met die vestiging van binnelandse setlaars (die vryburgers) en die uitbreiding van landbougrond, het die koloniste se afhanklikheid van die Kompanjiestuin as voedselbron afgeneem. Dit was al hoe minder ’n kombuistuin, al hoe meer ’n ornamentele tuin.

Onder die Bataafse bewind van 1803 tot 1806 het die tuin weer ’n bloeitydperk beleef, en Goewermentslaan is tot by Oranjestraat verleng.

Teen 1806 was die Kaap weer onder Britse bewind en die “institutional creep” het begin met die geleidelike oprigting van nuwe geboue, onder meer die St. George-kerk (1834), wat in 1901 deur die St. George-katedraal vervang is, die Nasionale Biblioteek, wat van 1854 tot 1857 aangebou is, en die Parlementsgeboue, wat tussen 1875 en 1885 opgerig is.

In 1848 is die onderste gedeelte van die tuine beskikbaar gestel vir openbare gebruik, en die landskap het die karakter aangeneem wat dit vandag steeds grotendeels het.

Onmin was daar ook. Toe die Suid-Afrikaanse Museum in die mooiste deel van die tuin opgerig is, het die tuin se ganse bewaarliggaam in 1890 bedank. Twee jaar later is die bestuur van die tuin deur die koloniale heersers aan die plaaslike munisipaliteit oorhandig, en die tuin is toe in sy geheel vir die gebruik van die stad se burgers oopgestel.

Vandag wemel die tuin: Mense hou op die gras piekniek en kinders voer die eekhorings.

Hadedas marsjeer verby die ou waterkanaal, ’n janfrederik wip deur die akkerblare en ’n formasie duiwe swiep deur die lug bo die kanon wat eens tydens die Eerste Wêreldoorlog by die Delville-bos gebruik is. ’n Maer man verskyn met ’n groen reuse-plastiekpadda in die wandellaan en onder ’n plaat palmbome neem twee vroue in ligroos klere foto’s van hul vriend, ’n wafferse James Dean.

Laatmiddag verskyn ’n groep Japanse toeriste – hul kameras flits so woes wanneer hulle ’n eekhoring gewaar, ’n mens sou dink dis een van die Groot Vyf in die rubberboom. ’n Ent verder poseer iemand voor die standbeeld van Cecil John Rhodes vir ’n Kodak-oomblik.

Onder die outeniekwa-geelhoutboom wat Andries Auge destyds geplant het, doen ’n man truuks wat herinner aan Houdini. Met behendige bewegings klim hy oor en deur ’n swaar ketting en swaai en draai sy lyf soos ’n reptiel. ’n Katspoeg verder verdwyn ’n bruid in wit chiffon agter ’n bloedrooi poinsettia.

Die tuin se direkteur is sedert 2008 Rory Phelan, ’n tuinboukundige wat al by van die wêreld se bekendste tuine gaan kersopsteek het – van die Bronx in New York tot die Jardin de Pamplemousses in Mauritius. Rory is al die afgelope 28 jaar ’n tuinboukundige en is destyds in die Botaniese Tuine in Durban opgelei, waarna hy in die parke van Amanzimtoti en Sol Kerzner se hoteltuine op die Comoro-eilande gewerk het. Rory het eindelik in die tuin van die Plaza-hotel in New York gewerk, maar toe die Amerikaanse winters te straf word vir sy siel, het hy na Suid-Afrika teruggekeer. Voordat hy sy weg na Kaapstad se groen long gevind het, was hy betrokke by gemeenskapstuine in Inanda in KwaZulu-Natal en Mbekweni in die Paarl.

Die Kompanjiestuin is Suid-Afrika se Central Park, meen hy. “Groen ruimtes in die stedelike landskap is van belang omdat daar in die mens se onderbewussyn ’n noodwendige behoefte aan interaksie met die natuur is,” sê Rory.

Die suurstof wat deur dié groen ruimtes voorsien word, skep by die mens ’n gevoel van goedgesindheid, en die skoonheid van die natuur beïnvloed die gemoed, verduidelik hy. Die bome en plante absorbeer besoedeling en sorg dat die stad nie ’n warm eiland word wat bloot bestaan uit baksteen en beton nie.

Boonop verbind die natuur ons aan ’n genetiese geheue – dit is vertroostend om onderbewustelik te besef dat alles wat leef, onlosmaaklik verbind is. Hier is steeds hoeveel bome wat dekades en selfs eeue gelede geplant is: ’n judasboom, koraalboom, fakkelboom, kiepersol, Franse esdoring, louriermagnolia en – volgens die tuinier Dennis Bailey, wat al dertig jaar lank hier werk, – ’n moerbeiboom wat spook.

Dis onnodig om hier te streef na ’n slegs inheemse tuin, glo Rory – die geskiedenis leef dan juis in die verskillende spesies wat deur die dekades deur uiteenlopende tuiniers aangeplant is. Die Kompanjiestuin is, anders as Kirstenbosch, juis ’n ruimte waarin die plaaslike en eksotiese saamleef, en waar elk sy seisoen self uitleef. Dít sien ’n mens byvoorbeeld in die geel narsings wat bot teen die strak lyne van die strelitzias.

Die tuin, sê Rory, is ’n botaniese weerspieëling van 359 jaar se kulturele kruisbestuiwing. Benewens die groot verskeidenheid bome, groei hier hoeveel ander spesies: onder meer asaleas, kniphofias, proteas, clivias, watsonias, verbenas, kappertjies, agapante en krismisrose, en rose met name soos Satchmo, Tineke, Harmonie, Just Joey en Bride’s Dream.

’n Magdom voëlspesies woon in die bome: Kaapse witogies, hartlaubse meeue, kroonkiewiete, olyflysters, kwikkies, witborskraaie, dikkoppe en fiskaallaksmanne.

Die tuin beslaan vandag sewe en ’n half hektaar en word deur 25 tuiniers en personeellede versorg en deur die Cape Heritage Trust bestuur. Terwyl die Stad Kaapstad die rekening betaal, help privaat skenkings ook hiermee.

In die afgelope paar jaar is verskeie geboue in die tuin gerestoureer, onder meer die sogenaamde Bothy (afgelei van die Skotse woord “both”, wat arbeiderskwartiere beteken) en geboue wat voorheen onder meer as huisvesting vir die tuiniers en kurators gebruik is, asook as vergadersaal en stoor. Ook die eertydse direkteurswoning is in 2008 opgeknap en huisves nou ’n inligtingsentrum.

In die gerestoureerde voëlhuis tjirp kwartels terwyl rooibeksysies ywerig nes bou tussen die namakwaduifies, java-sperwers, Kaapse kanaries en sebravinke. En binnekort, verklap Rory, sal ’n groentetuin hopelik weer gevestig word soos die een wat destyds deur die Hollanders aangeplant is.

Dit is eers wanneer Rory na die kaart in sy kantoor wys wat die historiese nalatenskap van die tuin duidelik word. Hierop sien ’n mens sowel die reghoekige patroon waarmee die Nederlanders hul merk gelaat het as die Engelse tuinwerkers se kronkelende romantiek. Dié style smelt naatloos saam in die grasperke, beddings en lanings wat Rory en sy span vandag versorg. Die tuin se argitektuur is deesdae verdeel in 23 “groen kamers” – dié afdelings verskil van mekaar en skep kontras.

Die telefoon in sy kantoor lui: ’n Maatskappy wil ’n spanbousessie in die tuin kom hou. “Geen probleem,” sê Rory, “julle kan die veekamp gebruik, solank julle net nie daar gaan ploeg nie...”

Die ruimte waarna hy verwys, bestaan vandag uit ses grasperke aan die suidoostelike kant van die tuin. Akkerbome sorg vir skadu en die grasperke is steeds omgrens deur waterkanale. In die 17de eeu is wilde diere hier in kampies aangehou sodat besoekers hulle kon besigtig.

Terwyl dié praktyk lankal uitgesterf het, bring besoekers deesdae soms in die broeseisoen vir die tuiniers ’n eekhorinkie wat iewers uit ’n nes geval het, of ’n siek tortelduif wat hulle opgetel het van ’n grasperk, soms selfs ’n kolgans wat mak geword het. Maar nee, lag hy, dis nie waar dat parkbewoners soms hier ganse vir die pot vang nie.

Dis laat Vrydagmiddag wanneer ons groet voor die oudste boom in die tuin, ’n saffraanpeerboom wat geplant is in die tyd toe die VOC hier aan bewind was. Die woorde van Rupert Shephard uit Cape Scenes spoel deur my kop: “In the Gardens few are tough enough for this Hinterland stuff – are you? The children potter at the cage for hours the aged totter to their favourite flowers – it’s all they want to do.”

Vroeg die volgende oggend keer ek terug en loer in by die tydelike bonsai-tentoonstelling. Hier word 37 boompies uitgestal, onder meer spesies soos die apiesdoring, die vleisipres en die swartbas. Die miniatuur-olienhout en -karee lyk soos japsnoete onder die tamaai papierbasbome in die tuin, hoewel laasgenoemde eintlik veel jonger as die dwergies is.

Op ’n Saterdagmiddag, sal ’n mens dikwels ’n bruidsgevolg in die tuin teëkom. Hulle poseer onder ’n Australiese vyeboom of by Thorne se fontein vir foto’s, later ook onder die wakende oë van die reuse-beeld van Castor en Pollux deur die beeldhouer Alfred Turner.

Dit is lente wanneer ek die tuin later weer besoek, dié keer saam met Andrew Lamprecht, kunskurator en lektor by die Michaelis-kunsskool teenaan die tuin. Ons drink melkskommels by die eetplek wat grens aan Koningin Victoriastraat. Oral om ons is bloeisels van ridderspoor, vingerhoedjies en verbleikblomme, en die reuk van saliehout hang in die lug.

Andrew was as kind dikwels hier en het op ’n manier in die tuin grootgeword. Hy onthou die eksentrieke siele wat die tuin dikwels besoek het en byna so ikonies soos die monumente geword het: die onberispelik geklede vrou met die gitswart hare opgestapel in ’n mossienes, asook die vrou wat jare lank die katte kom voer het.

Eenmaal het Andrew ’n Nederlandse kunstenaar hier ontmoet wat tulpe in ’n patroon kom plant het – dié sou net een keer per jaar verskyn wanneer die tulpe blom. Die geheimsinnige man het beloof om vir Andrew meer inligting oor sy projek te stuur, maar so ’n brief het hom nooit bereik nie.

Driehonderd en sestig jaar gelede sou ’n mens seker kon aanvaar dat sy skip iewers tussen die Kaap en Amsterdam gesink het.

- Bykomende bronne:Company’s Garden Cape Town: The History of the Company’s Gardensvol. 1 (1652-1806) en vol. 2 (1806-1988), deur Gwen Fagan; “Company’s Garden Self-guided Walk”, Stad Kaapstad.


Rory Phelan en 24 ander sorg vir die tuin.


Morake Ofentse neem ene Lloyd en Comfort op hul troudag af voor die Australiese vyeboom.


Die Kompanjiestuin is teen die einde van die 19de eeu vir die publiek oopgestel.

Josephus Jones se grondplan van die tuin soos dit in 1791 gelyk het. Foto's: LIEN BOTHA

binne die burger

Weer
Lotto
Ksd: 13-20°C High level clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bfn: 3-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 14-26°C Sunny. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

WebSphere Specialist

JHB - Central
Communicate Bruma IT Delivery
R500000 - R600000

iPhone Applications Developer

JHB - Central
Communicate Bruma IT Delivery
R450000 - R520000

CRM developer

JHB - Central
Communicate Bruma IT Delivery
R300000 - R400000

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

VOLVO

S40 2.0 MY06
2007
R 185,000.00

LAND ROVER

Defender 110 Puma 2.4 D Cr-Cab HCPU 4x4 Dsl
2008
R 229,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.