’n Stem bly behoue
2010-09-03 22:21
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Tussen al die talent wat vernietig is, is Irène Némirovsky se stem bewaar as een van dié wat nie deur die Nazi’s se uitwissing stilgemaak kon word nie, skryf Lina Spies oor ’n biografie oor dié Joodse skrywer wat onlangs verskyn het.
’n Mens neem telkens weer met verwondering kennis van ’n nuwe boek wat behoue uit die Sjoa gekom het en nou meteens postume roem op die internasionale boekemark verwerf.
(Sjoa is die Hebreeuse woord as benaming vir Hitler se uitwissingskampanje teen die Europese Jodedom en beteken “vernietiging”. Daar is nie ’n Afrikaanse vertaling wat pertinent op hierdie historiese gebeurtenis betrekking het nie.)
Dié verwondering gaan enersyds gepaard met dankbaarheid dat ’n boek deur ’n Joodse outeur nie verpulp of verbrand is nie en andersyds met ’n diep verdriet dat die skepper daarvan nie oorleef het nie.
’n Biografie oor die gebeurtenisvolle lewe van ’n slagoffer van die Sjoa wie se laaste groots opgesette roman in 2004 gepubliseer is, twee-en-sestig jaar ná die skrywer se dood, is La vie d’ Irène Némirovsky deur Olivier Philipponnat en Patrick Lienhardt, waarvan die Engelse vertaling deur Euan Cameron vanjaar verskyn het.
Die flapteks wek die leser se belangstelling in die postume roman Suite Française en in die outeur se dood in Auschwitz.
Maar dié belangstelling word eers bevredig in die twee slothoofstukke van die gedetailleerde biografie wat, waar dit oor ’n skrywer gaan, deurgaans tereg die verband uitlig tussen die gebeurtenisvolle lewe van Némirovsky en haar werk.
Op 11 Februarie 1903 is in Kiev, die hoofstad van die Oekraïne, vir Anna en Léonid Némirovsky ’n dogtertjie gebore wat vir die sinagoge geregistreer is as Irma en die Russiese naam van die tsaar se niggie, Irina, gekry het.
Haar opgetekende herinneringe aan haar geboortestad en kindertyd in haar roman van 1935, Le vin de solitude (Die wyn van eensaamheid), is ’n deursigtige outobiografie wat betrekking het op die ekstreme eensaamheid van die kind Irotschka.
Anna Némirovsky was afsydig teenoor haar dogter wat sy nie werklik wou gehad het nie omdat swangerskap en moederskap vir dié ydel vrou ’n bedreiging ingehou het van haar uiterlike skoonheid.
Léonid het hom oor ’n boeg gewerk om nie net sy gesin te onderhou nie, maar ook sy vrou se sug na weelde te bevredig.
Irotschka is aan die sorg van ’n Franse goewernante, Mademoiselle Rose, oorgelaat en verder het sy aan verveling ontsnap deur haar toevlug tot die geselskap van boeke te neem.
Sy het obsessief gelees, net soos wat sy as volwassene obsessief geskryf het.
’n Lang verblyf van Anna en Irotschka in Frankryk terwyl Léonid sy fortuin in die buiteland gemaak het, was ’n gelukkige tussenspel in die Némirovsky’s se veelbewoë bestaan.
In Maart 1914 het Léonid skielik opgedaag en aangekondig dat hulle na Sint Petersburg gaan verhuis.
Die jaar 1917 het Irina uit haar droomlewe geruk en haar in die onrustige, veelbewoë hede van die Russiese Revolusie gewerp.
Léonid het besef toe dit tyd geword het om uit Petrograd pad te gee na Moskou.
Op 4 November het die Bolsjewiste die oorwinning behaal en vir enkele dae in hul Moskouse woonstel het die Némirovsky-familie die beleg oorleef.
In Januarie 1918 het hulle net betyds uit Rusland vertrek en nooit weer teruggekeer nie.
Via Finland en Swede het hulle in Julie 1919 in Parys aangekom, waar Anna Fanny geword het en Léonid Léon.
En die sestienjarige Irma Irina Irène Némirovsky.
As student aan die Sorbonne-universiteit het Irène die groot Russiese skrywers ontdek, maar haar terselfdertyd oorgegee aan plesier en veral aan dans.
Dit was of sy deur dans kon vergoed vir die verlies aan spel en koestering in haar kinderlewe: “To this innocent little girl who had never known love, the dance was almost love itself.”
Aan die begin van 1924 het dié ligsinnige lewe tot ’n abrupte einde gekom.
Dit is onduidelik wat presies gebeur het, maar uit haar skema vir Le vin de solitude blyk haar voorgenome simpatie met Hèléne, die verkragtingslagoffer.
Die vernederendste vraag waarmee Irène egter kennelik gekonfronteer is, was of sy besig was om soos haar ma te word.
Was haar koorsagtige wisseling van mansvriende ’n teken van haar ma se gene? Was dit die genetiese vloek waaroor Génia in L’ennemie (Die vyand) sê dat dit in haar bloedstroom is: “Dit vloei deur my ... en as ek nie leer om dit te oorwin nie, sal dit die oorhand oor my kry.”
Toe Irène Némirovsky haar rug gekeer het op haar lighartige lewe, het sy geweet waar geluk te vinde was.
In haar dagboek het sy die profetiese woorde geskryf: “As geluk nie bestaan nie, dan is daar ten minste ’n taamlike sterk analogie daarvoor hier benede – om te skep, of dit nou die skep van die lewe of van die kuns is, maak nie veel saak nie, om te skep, is ’n bomenslike vreugde, dit is die tydverdryf van die gode ...”
En dit is presies wat Irène gedoen het: Sy het sonder ophou begin skryf, ook nadat sy gelukkig getroud is met Michel Epstein en die moeder van twee dogters geword het, Denise en Babet, by wie sy anders as haar ma liefdevol betrokke was.
Die publikasie van David Golder in 1929, die jaar waarin Denise gebore is, was ’n sensasionele gebeurtenis.
Irène Némirovsky het met meedoënlose realisme ’n beeld geskep van ’n finansier wat hom uitgemergel het om vir sy vrou ’n luukse lewe te verseker.
Die leserspubliek was beïndruk en verbyster dat so ’n boek deur ’n vrou geskryf is, maar die kritiek het nie uitgebly nie.
By alle lof is sy verwyt dat sy die Jood gestereotipeer het. Die beskuldiging van anti-Semitisme was die prys wat Irène Némirovsky vir roem moes betaal.
In der waarheid het sy die dekadente gedrag van randfigure in die Joodse gemeenskap oorbeklemtoon en daardeur die materialisme waaronder sy gely het, verdoem.
’n Keer het sy laat val dat sy eintlik net ’n portret van haar ouers geteken het.
Léon Némirovsky is op 16 September 1932 oorlede en het Irène as enigste oorlewende van sy vlees en bloed eensamer as ooit tevore agtergelaat.
Terselfdertyd was sy bevry om haar ma te verwerp soos wat sy verwerp is, maar sy kon nie die kind in haar wat noodlottig beseer is deur die moeder se verwerping heel nie.
Vandaar haar uitspraak: “’n Gelukkige kindertyd lei tot ’n harmonieuse lewe; ’n ongelukkige kindertyd tot ’n produktiewe lewe.”
Die biograwe stel die vraag of, sonder Fanny se hebsug en selfsug, haar dogter ooit nege romans, ’n biografie en nie minder nie as agt-en-dertig kortverhale tussen 1935 en 1942 sou geskryf het.
Die opkoms van die Nazi’s het Irène bewus gemaak van wat haar Joodse identiteit inhou, naamlik die ongemaklike naasbestaan in een persoon van emigrant en geassimileerde.
Met die oorgawe aan die Duitse besetter op 14 Junie 1940 was Irène en haar dogtertjies reeds in die dorp Issy-l’Évêque, omtrent twintig kilometer noord van die grens tussen die noordelike Besette Sone en die sogenaamde suidelike “Vrye Sone”.
Michel het Parys verlaat teen die bevel om daar te bly, en hom by sy vrou en kinders aangesluit.
Omring deur goedgesinde mense in die afgeleë dorpie het die Epsteins ’n valse gevoel van veiligheid gekoester, al het die Joodse Statuut van 2 Junie 1942 neergekom op ’n intensivering van Joodse vervolging en ’n legitimering van Jodehaat.
Intussen het Irène aanhou skrywe, want sy het ’n roman in verskillende dele in gedagte gehad wat haar Ilias, haar Aeneïs en haar Oorlog en vrede moes word.
Dit het uiteindelik die titel Suite Française gekry. Sy het weer eens haar toevlug tot skryf geneem, maar te veel vertrou op haar skrywerskap en hul hele gesin se oorgang na die Rooms-Katolisisme.
Die biograwe vra die vraag waarom Irène die Christelike geloof in 1938 aangeneem het.
Uit haar aantekeninge blyk dat sy aan die evangeliese oproep om te vertrou en jou nie te kwel oor môre nie vasgehou het.
Dit sou haar egter nie red nie. Waardes en kultuur het nie vir Hitler gegeld nie.
Joodwees het daarop berus of jy meer as twee Joodse grootouers gehad het en of jy tot die Joodse geloof behoort het.
Terwyl Irène aan die einde van Junie 1942 haar laaste kortverhaal geskryf het, was die “finale oplossing” van die “Joodse kwessie” in volle swang.
Op die stralende oggend van 11 Julie het Irène in ’n nabygeleë dennebos op haar knooptrui gesit en haar laaste woorde in ’n dagboek neergepen.
Twee dae later, op 13 Julie, is sy deur twee polisiesoldate gearresteer. Denise onthou die afskeid. Haar moeder het skaars tyd gehad om enkele besittings in haar tas te gooi.
Vir haar dogters het sy gesê dat sy vir enkele dae op reis gaan, miskien langer. Irène Némirovsky is na die polisiestasie by Toulon-sur-Arroux, tien kilometer van Issy af, geneem.
Van toe af het sy opgehou om ’n romanskrywer, ’n moeder, ’n Rus en ’n Franse vrou te wees: Sy was slegs ’n Jodin.
Michel het hemel en aarde beweeg om sy vrou se bevryding te bewerkstellig. Al sy briewe aan uitgewers en invloedryke mense het ’n tevergeefse ronde gedoen.
Op 9 Oktober 1942 het die scenario van 13 Julie hom weer eens afgespeel. Vader en dogters is na die polisiestasie geneem. Twee episodes het die lot van Irène Némirovsky se dogters en Suite Française bepaal.
’n Duitse amptenaar het ’n foto van sy dogtertjie wat so blond was soos Denise uit sy portefeulje gehaal en vir die twee dogters gesê: “Ek gee julle agt-en-veertig uur om weg te kom.”
En Michel se finale woorde aan hulle voordat hy weggelei is, was: “Moet julle nooit van hierdie koffer laat skei nie, want hierin is julle moeder se manuskrip.”
Michel se hoop om met sy vrou verenig te word, is op ironiese wyse vervul: Sy is kort na haar aankoms in Auschwitz dood, moontlik aan tifus, en hy is met sy aankoms daar waarskynlik onmiddellik vergas.
Denise en Babet het in verskillende skuilplekke in Bordeaux in die Suidelike Sone oorleef en hul vader se afskeidswoorde onthou.
Weens die onvoltooidheid van Suite Française het dit vir dekades op die rak bly lê, totdat Denise Epstein besluit het om dit met behulp van ’n vergrootglas uit te tik. Sy is aangedryf deur die stem van haar moeder.
In 2004 was haar hoop dat haar moeder se boek mense sou bereik en dat hulle haar sou hoor.
Meer as dit het gebeur: In die biografie leer die leser ’n vrou ken – ontwortel uit haar geboorteland en verdryf uit die land wat sy haar eie gemaak het – wat haar eintlike vaderland en vesting teen revolusie en oorlog gevind het in die boek.
Deur die laat toevoeging van haar laaste boek tot haar literêre nalatenskap is sy as skrywer weer tot lewe gewek.
By al die talent wat vernietig is, het haar stem behoue gebly as een van dié wat nie deur die uitwissing in die helkampe van die Nazi’s stilgemaak kon word nie.
Philipponnat, Olivier en Patrick Lienhardt. 2010. The life of Irène Némirovsky. (Uit die Frans vertaal deur Euan Cameron.) Londen: Chatto & Windus.